Geregtigheid seëvier vir paraplegiese polisielid

Gilbert Johannes. (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) moet vergoeding gelykstaande aan drie maande se salaris aan ʼn paraplegiese beampte betaal nadat hy op onbillike wyse oor die hoof gesien is vir bevordering na ʼn hoër pos.

Die bedingingsraad vir die veiligheid-en-sekuriteitsektor (SSSBC) het beslis die SAPD moet voor die einde van die maand drie maande se salaris aan Gilbert Johannes (40) betaal. Hulle moet ook weer die pos vir administratiewe hoof by die Bredasdorp-polisiestasie adverteer en deur die korrekte proses gaan om die pos te vul.

Johannes was in Februarie 2016 by die Bredasdorp SAPD gestasioneer toe dié pos geadverteer is. Hy het in daardie stadium byna 17 jaar in die polisiemag gedien, waarvan nege jaar op posvlak 5 was. Volgens Solidariteit, die vakbond wat Johannes verteenwoordig, is daar ses kandidate op die kortlys vir die pos geplaas, onder wie Johannes.

Johannes het egter nie die pos gekry nie, ten spyte van sy lang loopbaan in die polisiediens en die feit dat hy ʼn diploma in menslikehulpbronbestuur, asook drie kortkursuskwalifikasies in onderskeidelik openbare skakeling, menslikehulpbron-aanstellingspraktyke en arbeidsverhoudingbestuur het.

Die kandidaat wat uiteindelik in die pos aangestel is, is ʼn swart vrou met slegs matriek en ʼn tien dag basiese registrasiekursus agter haar naam. Volgens Solidariteit het die suksesvolle kandidaat nie aan die vereistes vir die pos voldoen nie, aangesien sy slegs twee jaar en 11 maande ervaring in ʼn posvlak 5-pos gehad het. Die minimumvereistes vir die pos was onder meer vier jaar ervaring in ʼn posvlak 5-posisie.

Die voorsittende beampte van die paneel wat die aanstelling behartig het, het aangevoer dat Johannes se kwalifikasies nie relevant was vir die pos nie, aangesien dit met menslikehulpbronne verband hou en nie met administrasie nie. Sy het tydens die arbitrasieproses aangedui dat die suksesvolle kandidaat se tien dag basiese registrasiekursus meer relevant was vir die administratiewe pos.

Sy het ook aangevoer dat riglyne vir regstellende aksie in die provinsie en die betrokke polisiestasie in ag geneem is tydens die samestelling van die kortlys, maar dat dit nie ʼn rol gespeel het tydens die aanwysing van die geskikte kandidaat nie.

Die voorsittende beampte het wel tydens kruisondervraging erken dat daar geen gronde was om aan te voer dat die suksesvolle kandidaat se kwalifikasies meer relevant is as dié van Johannes nie. Sy het ook toegegee dat Johannes se gestremdheid nie tydens die seleksieproses in ag geneem is nie.

Die voorsittende beampte het ook nie een van die twee inligtingsessies bygewoon wat ʼn vereiste daarvoor was om op die kiespaneel te dien nie.

Solidariteit het aangevoer hul lid se aanstelling in die pos sou ʼn tweeledige voordeel ingehou het vir die regstellende aksie getalle aangesien hy ʼn bruin man is, wat onderverteenwoordig is by die stasie en in die provinsie, en hy ook ʼn persoon met gestremdheid is waar die provinsie sowel as sy stasie ook onderverteenwoordig is.

Volgens Solidariteit het die suksesvolle kandidaat slegs twee jaar in die pos gedien waarna sy ʼn aansoek om verplasing ingedien het wat goedgekeur en in Desember verlede jaar suksesvol uitgevoer is.

Die SSSBC het beslis die kiespaneel wat oor die aanstelling besluit het, was nie behoorlik saamgestel nie, daar is nie behoorlik skriftelik rekord gehou van die verrigtinge nie, die paneel se puntetoekenning aan die kortlyskandidate is op ʼn arbitrêre wyse gedoen en dat regstellende aksie nie werklik in ag geneem is voordat die aanstelling gedoen is nie.

Die SSSBC het op grond hiervan beslis dat Johannes onderwerp is aan onbillike arbeidspraktyke en dat hy daarom vergoed moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

AmY ·

Ja-nee…
Ek sê eerder niks verder nie. Hy moes baie meer as net drie maande se salaris gekry het.!!!

koos ·

Die probleem is dat die CCMA niks meer as 12 maande se salaris kan toeken nie. Hulle kan hom nie bevorder nie, en dit is jammer.

Arno ·

Virseker is dit belaglik!!!!!!, ek gaan ook n tien dag admin kurses bywoon en dan vir die staat gaan werk.

Ek is bly hy kry iets maar met 17 jaar diens is dit belaglik dat hy so min kry.

marous ·

Minimum vereiste van 4 jaar , maar sy doen steeds aansoek vir die pos en sy kry dit . Die beampte wat verantwoordelik is vir die debakel behoort die vergoeding persoonlik te betaal , en nog dissipliner aangekla word .

Elna ·

Dit is hoe dit oral gaan in die staatsdiens. My man het 29 jaar diens gehad en weens n siekte het dit hom gestrem gelaat. Die staat het hom net sy maandelikse salaris betaal en boonop nog nege duisend sewe honderd rand van sy salaris afgetrek en net gese ons be-eindig jou dienste teen die einde van die maand. Hulle het nie eers vir hom n dankie gegee nie niks en sy unie het hom nie verteenwoordig nie omdat hulle kop in een mus is met die staat. Ek het Solidariteit se hulp genader en hulle het vir my gese jammer mevrou ons help slegs lede en ons gee ook net raad ons kan nie die saak behartig nie?? Die staat voel absoluut niks vir jou nie al het jy 100 jaar diens voel hulle minder as niks vir hulle mense nie danksy die a en see regering. Ons wag maar dat die wiel moet draai en dat geregtigheid moet see vier.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.