Geregtigheid vir Clover-slagoffers vertraag

Sofia Johannes. (Foto: Verskaf)

Die gewelddadige betogings wat die afgelope paar dae oor die koste van elektrisiteit in Tembisa aan die Oos-Rand woed, het skynbaar ook die wiele van geregtigheid tot stilstand gedwing.

Die vyf mans wat daarvan beskuldig word dat hulle in Februarie ʼn veiligheidswag by een van Clover se aanlegte in Gauteng vermoor het en nog een so erg beseer het dat hy later aan sy beserings beswyk het, se hofverskyning is Donderdag uitgestel.

Danksy voortslepende onluste in die gebied, sal die voormalige Clover-werkers eers Maandag weer in die hof verskyn.

Die familie van oorlede JJ Cassanga vra nou dat geregtigheid dringend geskied.

Cassanga is vroeër vanjaar saam met Terence Tegg deur stakende Clover-werkers aangeval. Hoewel Tegg op die toneel dood is, het Cassanga eers in Junie gesterf nadat hy in sy dokter se spreekkamer inmekaargesak het. Hy is vermoedelik aan ʼn breinaneurisme dood.

Sy familie sê die aanval het hom met ernstige beserings aan sy hoof en brein gelaat. In die maande voor sy dood het hy aan stuipe en hoofpyne gely.

Sofia Johannes, Cassanga se niggie, beskryf hom as ʼn vaderfiguur en iemand na wie haar hele familie opgekyk het.

“Ek is hartseer en seergemaak – selfs al boet hierdie mense vir wat hulle gedoen het. Hulle sal agter tralies wees, maar ek sal nooit my oom kan bel en met hom praat nie,” sê sy.

“Hulle het iemand weggevat wat vir ons baie spesiaal is, en hulle het ʼn pa van sy kinders, wat nog minderjariges is en hom nodig het, weggevat.”

Johannes glo daar moet geen verdere vertragings in die saak wees nie, en sê daar is reeds genoeg bewyse beskikbaar om die aanvalle en moord op Tegg en Cassanga te bewys.

“Elke bewysstuk is daar, so ek verwag dat geregtigheid geskied. Al bring dit nie JJ terug nie, sal dit ons ʼn gevoel van verligting gee dat die oortreders vir hul misdade boet.”

AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan tans vir Michele Bebbington, wat aan Tegg verloof was, en die Cassanga-familie in die saak by.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê hy sal voortgaan om die saak fyn dop te hou en broodnodige ondersteuning en leiding aan die betrokke families te verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Althes ·

My hart gaan uit na die familie van die twee veiligheidswagte. Die geweldige trauma en verlies waardeur hulle is. Die moordenaars moet baie swaar gestraf word.
Dis immers twee mense wat op ñ eerlike manier geld verdien het om vir hulle gesinne te kan sorg.
BEE en regstellende aksie word in firmas se kele afgedruk, en dan sit maatskappye met moordenaars wat net wag vir iets wat hul ‘trigger’

Frank John ·

En moordenaars se regte bly nr. Een. Onskuldige moet maar wag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.