Geregtigheid vir vermoorde Delvina

Klein Delvina Europa (6).

Die man wat daaraan skuldig bevind is dat hy die sesjarige Delvina Europa van Elim in die Wes-Kaap verkrag en vermoor het, is twee lewenslange vonnisse en ʼn bykomende dertien jaar tronkstraf opgelê.

Reagan Zietsman, ʼn buurman van die kind, het vroeër vandeesweek skuldig gepleit aan klein Delvina se ontvoering, verkragting en moord, asook aan regsverydeling.

Zietsman is agt jaar tronkstraf opgelê vir ontvoering, lewenslank vir die verkragting, lewenslank vir die moord op die dogtertjie en vyf jaar tronkstraf vir regsverydeling. Die vonnisse word gelyklopend uitgedien.

Die Bredasdorp-landdroshof het ook beveel dat Zietsman se naam in die nasionale register vir seksoortreders aangeteken word.

Delvina is op Sondag 24 Maart verlede jaar die laaste keer lewend gesien toe sy voor bure se huis in Nuwestraat in Elim in die Wes-Kaap gespeel het. Sy het daarna spoorloos verdwyn.

Die gr. 1-leerder van Elim Moravian Primary School is die volgende dag as vermis aangemeld en inwoners het Dinsdag haar liggaam in ʼn bos gevind.

In ʼn beëdigde verklaring wat by die hof ingedien is, het Zietsman meer besonderhede gegee oor wat hy aan klein Delvina gedoen het. Hy het erken dat hy haar geken het omdat hy vriende met haar pa is en die twee het op die Saterdag voor haar verdwyning saam dwelms gebruik.

Hy het ook erken dat hy op die dag van haar verdwyning na haar pa op soek was en op die dogtertjie afgekom het, wat daarna saam met hom weg is om na haar pa te gaan soek. Volgens Zietsman het hulle deur ʼn veld in die rigting van ʼn skool vir gestremdes gestap en toe hulle in ʼn beboste gebied aankom, het hy besluit om haar te verkrag.

Hy het haar wel verkrag en om haar stil te hou het hy sy hand oor haar mond en neus gehou totdat sy eindelik versmoor het. Zietsman het gesê in ʼn poging om van bewyse van sy daad ontslae te raak – omdat hy geweet het sy semen sal op die kind gevind word – het hy die meisietjie se liggaam in vlak water gelos.

Zietsman het ook erken dat hy aan inwoners van die gemeenskap gelieg het toe hy gevra is of hy enigiets van Delvina se verdwyning weet. Volgens hom was hy bang om die waarheid te vertel omdat die “gemeenskap en die straatkomitee my sou aanrand vir wat ek gedoen het”.

Tydens argumente ter strafverswaring en -versagting het adv. Maria Marshall, namens die staat, vir dr. Louise Mari Kruger as getuie geroep. Kruger het bevestig die oorsaak van Delvina se dood stem ooreen met versmoring.

Die waarnemende direkteur van openbare vervolging, adv. Nicolette Bell, het die vonnis verwelkom en Marshall en die ondersoekspan vir hul harde werk en toewyding bedank.

“Die vervolging van kindermoordenaars is ʼn hoofprioritiet vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).”

“Verskeie protokols, soos die deelname aan hersienings van kindersterftes, is in werking om te verseker kindermoordenaars word uit die staanspoor geïdentifiseer, dat die ondersoek geprioritiseer en vervolging suksesvol is.

“Hierdie saak is só ʼn sukses. Die NVG sal voortgaan om te verseker geregtigheid geskied vir alle slagoffers van kindermoorde en hulle gesinne,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SomeOne ·

ek verstaan dan dat – “die nasionale register vir seksoortreders” nie eens bestaan nie ??

Cherokee ·

‘Die saak ‘n sukses’…’geregtigheid’ word dit genoem. Daardie onskuldige dogterjie sou waarskynlik nog nie eens mondig wees nie, wanneer die sadistiese moordenaar weer op straat is. Dit is wanneer sy haar lewe werklik sou begin as selfstandige. Dit is alles behalwe geregtigheid. Die wetstoepassers ken die vrae maar bly in gebreke om te verduidelik waarom strawwe uitgespreek word om heftig te klink, maar gelyklopend uitgedien word.

Cherokee ·

Kyk na haar gesiggie op die foto. Onskuldig.. en naïef het sy saam met die moordenaar geloop om haar pa te gaan soek. Watse boosheid is tussen sò een se ore om ‘n kindjie wat hom vertrou, te verbrysel? Watse boosheid is in die ‘geregsdiens’ om hom toe te sluit tot voor sy mondig sou word, en dan te verklaar ‘geregtigheid het geseëvier’? Of is dit ‘n joernalis wat besluit het dat hy dan genoeg gestraf is? Wat ‘n aaklige land het Suid Afrika geword.

Sarel ·

2 x Lewenslank plus soveel plus soveel.maarxword aaneenlopend uitgedien
Dys 1 x Lewenskank so.plus minus 20 – 25 jr met effektief Parool na 15. Klink dit na goeie vonnis. Minister moet ” aaneenlopend” skraap. Lewenslank moet effektief wees m..a. w tot sy dood.

Landras ·

Vervolging … wat van Voorkoming ? Al wat hierdie regverdig is om self aangerand te word – soos jy uitgedeel het .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.