Gerhard Ackerman hoor vandag sy lot  

Gerhard Ackerman (Foto: Twitter)

Uitspraak sal na verwagting vandag gelewer word in die saak teen Gerhard Ackerman, die man wat teregstaan op aanklag dat hy ʼn netwerk bedryf het vir die seksuele uitbuiting van kinders.

Die organisasie Women and Men Against Child Abuse (WMACA), wat die verhoor bygewoon het, het gesê hy sien uit na ’n regverdige oordeel en ’n swaar straf vir die ondenkbare misdade wat Ackerman glo gepleeg het.

Slotbetoë in die saak teen Ackerman, wat op meer as 700 aanklagte teregstaan, is in Maart in die Johannesburgse hooggeregshof aangehoor.

Ackerman staan onder meer tereg op aanklag van verkragting, die verspreiding van kinderpornografie, mensehandel en seksuele aanranding.

Tydens die verhoor het Ackerman aangevoer dat hy ʼn masseersalon bedryf het en tienerseuns ouer as 16 opgelei is en behandelings sou gee wat met seksuele dade sou eindig. Volgens Ackerman het hy nie gedink hy doen iets verkeerd nie aangesien 16 die wettige ouderdom is om toestemming vir seks te gee.

Die staat voer egter aan dat Ackerman die tienerseuns aan volwasse mans uitgehuur het om seksuele dade teen ʼn fooi uit te voer, dat baie van die seuns jonger as 16 was en dat hulle nie toestemming vir Ackerman gegee het nie.

Daar word verder aangevoer dat die beskuldigde seuns gewerf het, hulle geakkommodeer het en aan verskeie kliënte verkoop het. Hy het die seuns glo mislei en sy mag misbruik om hul kwesbaarheid uit te buit.

Ackerman het aangevoer dat hy nie ʼn misdaad gepleeg het deur met van die seuns seks te hê nie aangesien hy gedink het hulle is ouer as 16 en ontken dus dat hy hulle verkrag het. Die staat het egter aangevoer dat daar bewyse was dat van die seuns jonger as 16 was, maar dat Ackerman dit geïgnoreer het.

Rakende die aanklag van kinderpornografie het die staat aangevoer dat Ackerman ʼn groot rol gespeel het in die vervaardiging van die materiaal deur vir die seuns te sê wat om te doen. Adv. Paul Kennedy, wat saam met Ackerman aangekla is maar sy eie lewe geneem het voor die aanvang van die verhoor, was glo die hoofkliënt vir die pornografie en het glo Ackerman daarvoor betaal.

Ackerman is op 29 Januarie weer in hegtenis geneem kort nadat ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is nadat hy nie vir sy hofsaak opgedaag het nie.

Ackerman is in 2021 deur die Johannesburgse landdroshof borgtog van R6 000 toegestaan op voorwaarde dat hy hom daagliks by die naaste polisiestasie aanmeld, nie Gauteng mag verlaat sonder toestemming van die ondersoekbeampte nie, en nie toegelaat word om in besit van ʼn skootrekenaar of selfoon te wees om toegang tot die internet te verkry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

ES ·

Solank hy virewig tronk toe gestuur word. Niemand moet sy naam onthou nie, hy moet net nog ‘n nommertjie word tussen die res van die kriminele skuim in die tronk.

Cherokee ·

Weet jy wat ewig beteken? Geen mens kan ‘n ewige straf toeken nie. Julle is roekeloos met die woord ewig.

JvR ·

Volgens jou redenasie, en as ek kyk wat in die wereld aangaan, word sodom en gomorra n verskoning geskuld.

Sandra ·

Glibberige vent die. Kamma nie geweet dat dit teen die wet is om so iets aan kinders te doen wat te jonk is om te weet wat aangaan in die grootmenswereld nie. Ek hoop hy word toegesluit en iemand verloor die sleutel.

Theunis ·

Hoe pateties kan enige iemand wees om genot te put uit iemand se weerloosheid en vedriet, Hopenlik gaan die wet tot die volste mag toegepas word met geen versagtende omstandighede nie.

Skim ·

Hoe kan hierdie siek mens borgtog gekry het met die belaglike voorwaarde dat hy nie ‘n skootrekenaar of selfoon mag hê wat hom toegang kan gee tot die internet nie? WIE gaan weet as hy die goed het. Laat my nie vertel die ondersoekbeampte gaan daarvan bewus wees nie. Van 2021 af kon hy net weer aangegaan het met sy seksuele wandade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.