Gerhard ‘ʼn produk van geweld’

Thea Pretorius en haar seun Gerhard Jansen van Vuuren (Foto: Verskaf)

Die hartseer trek om Thea Pretorius (62) se mondhoeke is opmerklik wanneer sy oor “daardie dag” praat. Die dag byna 40 jaar gelede toe sy haar goed gepak, haar kinders gegroet en gevlug het uit ʼn gewelddadige huwelik.

“Dit was die moeilikste besluit van my lewe om my kinders te los. Ek weet net ek kon nie ʼn dag langer saam met daardie man bly nie,” vertel Pretorius, ma van Gerhard Jansen van Vuuren wat nou aangekla word vir die moord op Andrea Venter. Daar word onder meer beweer dat hy Andrea erg mishandel het voor die moord.

Pretorius meen haar seun se gewelddadige kinderjare is die rede waarom hy nou in die beskuldigdebank sit en sy voel skuldig dat sy haar kinders, Gerhard en Yvonne Jansen van Vuuren, by hul gewelddadige pa agtergelaat het.

Haar dogter het intussen selfmoord gepleeg en nou sal sy dalk haar seun ook aan die tronkowerhede moet afstaan.

ʼn Leeftyd se pyn

Die fyn vroutjie vryf oor haar grys hare en vat aan die plooie wat in haar gesig ingekeep is. Sy gee ʼn klein laggie en sê dan: “Hierdie hare en plooie vertel my lewensverhaal en deur hoeveel pyn ek is. Ek moet eintlik trots wees daarop.”

Volgens Pretorius het haar man, Johannes Gerhardus Jansen van Vuuren (Gerhard snr.), hul gesin oor die jare fisiek mishandel.

Die egpaar is geskei toe Gerhard slegs twee jaar en Yvonne ses jaar oud was.

Thea raak emosioneel wanneer sy na ‘n foto van haar en haar oorlede dogter, Yvonne, kyk (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Yvonne het in 1997 – op die ouderdom van 19 jaar – haar eie lewe geneem. Volgens haar ma het sy aan erge depressie en posttraumatiese stres gely weens die moeilike kinderlewe wat sy gehad het.

“Ons het haar vir sielkundige hulp gestuur, maar niks het gehelp nie. Die trauma het sy tol geëis…”

Yvonne se seun, Gavin, het 13 jaar ná sy ma se dood (in September 2010), op die ouderdom van 16 jaar ook sy eie lewe geneem. Gavin het in dié stadium in Pretoria gewoon.

“ʼn Paar maande ná Gavin se dood is Andrea vermoor. Ek het Andrea ook soos my eie dogter liefgehad en haar dood was vir my ʼn groot verlies.”

Volgens Pretorius het sy en haar seun nooit ʼn goeie verhouding gehad nie.

“Hy was nog altyd sy pa se kind. Hy was ook ʼn produk van sy pa, soos dié van sy pa was. Dit is ʼn bose kringloop.”

Pretorius het in haar matriekeksamen aan Hoërskool Ventersdorp met Yvonne swanger geword. Sy en Gerhard snr. het ná matriek getrou.

“Daar was geen tekens van geweld aan die begin van ons verhouding nie. Dit het eers later kop uitgesteek.

Gerhard Jansen van Vuuren in die hooggeregshof in Johannesburg. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Volgens Pretorius was haar seun se verhouding met Venter (25) ʼn spieëlbeeld van haar en en haar man, Gerhard, se huwelik.

“Aan die begin van Gerhard en Andrea se verhouding was hy ordentlik. Hy was uitgeslape en het die krake goed weggesteek.”

Maroela Media het vroeër berig Pretorius het Venter gesmeek om Gerhard te los toe sy hoor dat hy haar glo ook mishandel. Venter het egter gesê sy kry hom jammer en wil hom probeer verander.

Andrea Venter (Foto: Verskaf)

Volgens Pretorius het die gevaarligte reeds tydens Gerhard se tienerjare begin flikker.

“Boetie (Gerhard) het een dag vir my gesê die pyn van sy pa se mishandeling het naderhand vir hom soos plesier geraak. Toe weet ek daar is groot fout.”

Gerhard snr. is in Julie 2019 dood. Pretorius het net voor sy dood ʼn ou familiebybel vir hom gevat. Dit was die laaste keer was sy hom gesien het.

“My skoonsuster het my eers ʼn jaar ná sy dood vertel hy is oorlede. Ek hoop hy het voor sy dood by die Here uitgekom.”

Gerhard jr. se verhoor gaan op 16 Mei in die Palm Ridge-landdroshof in Johannesburg voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maryna ·

Ek mag nie oordeel nie, maar ek sukkel om te verstaan hoe ‘n ma haar kinders by so ‘n man los.

Hannelize ·

Ek gaan oordeel. Ek gaan gestraf word omdat ek dit doen.
Maar Tannie volgens my het jy net so groot aandeel in die storie as jou man. Hoe los jy 2 (2&6) kinders by ‘n pa wat jou mishandel het. Wat het hy nie alles met die arme kinders gedoen nie? Jy het geweet watse tipe man jy gehad het & jy los jou kinders by hom? Nee Tannie jy het net soveel skuld. Ek praat glad nie goed wat Gerhard gedoen het nie. Glad nie. Ek hoop hy vrot in die hel.
Maar Tannie jy het hom verstoot & hy het dalk gevoel hy word weer verstoot deur iemand wat hy lief gehad het. Jy kan nie al die blaam op jou x plaas nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.