Gerrie Nel bespreek Willem Kruger-bevindings met gesin

Willem Kruger (Foto: Facebook)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel het die voorlopige bevindings van sy ondersoek na die dood van Willem Kruger, ʼn jong boer van Groblersdal in Limpopo, met sy gesin gedeel.

Die ondersoek duur steeds voort en daarom wou die eenheid nie Donderdag kommentaar op die aard van die bevindings lewer nie.

Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid, het wel aan Maroela Media gesê dat hul bevindings op “objektiewe feite” geskoei is – feite wat gestaaf en bewys kan word.

“Ons wag tans vir die groen lig van die familie om verdere inligting bekend te maak. Die ondersoek is egter nog nie afgehandel nie. Daar is nog ʼn paar goed wat by die dossier ingesluit moet word,” het Bateman gesê.

Kruger (29) se pa, Tiaan, het die eenheid in Februarie genader te midde van voortdurende bespiegelings en beweerde ongerymdhede rakende sy seun se dood by ʼn ramparty by Henbase Lodge, naby Morgenzon in Mpumalanga, verlede jaar.

Kruger het in November in die vroeë oggendure spoorloos verdwyn en sy liggaam is ʼn week later in sy Toyota Hilux-bakkie in die Vaalrivier gevind, naby aan waar hy die laaste keer gesien is.

“Die gesin was bekommerd dat die ondersoek nie ʼn punt bereik nie en hulle het ons eenheid genader in die hoop om uitsluitsel en berusting te vind,” het Bateman gesê.

Volgens hom het die eenheid tot dusver nou saam met die ondersoekbeampte in die saak gewerk en het hulle alle beskikbare bewyse bestudeer. Waar daar onduidelikhede was, het die eenheid dit uitgewys en saam met die ondersoekbeampte gewerk om die nodige inligting te bekom.

Dié inligting en bewyse is deur die eenheid ontleed en terugvoer is gevolglik aan die gesin gegee.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het vroeër aan Maroela Media gesê volgens die voorlopige uitslag van die nadoodse ondersoek was Kruger se dood ʼn moontlike verdrinking. Die polisie gaan intussen voort met sy geregtelike doodsondersoek.

Hoewel daar baie bespiegelings is dat iemand moontlik vir Kruger se dood verantwoordelik is en dat die feite rakende sy dood verdoesel word, is niemand in verband daarmee in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

M ·

As lesers, maak ons afleidings uit wat deur die verskeie media forums, aangebied word. Ten spyte van gegewe inligting uit sulke bronne, “sluip” die gedagte telkens na vore … Wat hét gebeur ?

Casper ·

Aai,tot daar bewyse gevind word dat vuilspel betrokke was sal antwoorde eers gegee kan word as die waarheid openbaar gemaak word tot dan kan ons net bespiegel.

Lillian ·

Dit is baie hartseer maar as ek sê wat ék dink het gebeur, sal almal my weer kruisig.

Nico ·

Sou daar gemenespel plaas gevind het is die wat verantwoordelik is vir sy dood ook dood is, wat sê die kroegman hy het mos alles gesien.

Dandeleen ·

My hart breek vir hierdie pragtige jong man se mense.. God slaap nie, .. Indien iets aan Willem gedoen was, mag geregtigheid geskied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.