Gerrie Nel gaan oupa ‘wat kleindogter verkrag’ vervolg

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en adv. Gerrie Nel tydens die mediakonferensie.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Donderdag sy private vervolgingseenheid se volgende vervolgingsaak aangekondig – dié van ʼn gesiene sakeman wat na bewering sy driejarige kleindogter verkrag het.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die organisasie se private vervolgingseenheid, het tydens ʼn mediakonferensie in Centurion gesê die organisasie het besluit om dié saak verder te voer omdat die regstelsel die kleuterdogtertjie gefaal het.

Nel beweer die verkragting en/of seksuele aanranding het in die dogtertjie se grootouers se huis gebeur. Die dogtertjie het die beweerde verkragting by haar ouers aangemeld en ʼn sielkundige het ook glo die seksuele aanranding tydens ʼn psigologiese regsassessering bevestig. Die dogtertjie het glo ook aan haar onderwyser gesê dat dit haar oupa was wat haar seksueel aangerand het.

Volgens Nel het daar egter niks van die saak gekom nie. Hy beweer ondanks die dogtertjie se bewerings het die polisie nooit verklarings van die belangrikste onafhanklike getuies – die onderwyser en die sielkundige – geneem nie. Speurders het glo ook nie die nodige stappe gedoen om belangrike selfoonbewyse te bekom nie. “Inteendeel, die SAPD het die dossier na net ʼn maand gesluit,” het Nel gesê.

Nadat AfriForum oor die saak genader is, het die organisasie briewe aan die polisie geskryf en hulle versoek om die nodige verklarings te neem. Die organisasie het ook die betrokke polisiebeampte se gedrag by sy bevelvoerders en polisiebestuur aangemeld. “Ondanks dié briewe het die polisie hardnekkig geweier om die verklarings af te neem. AfriForum se private vervolgingseenheid het die verklarings self van die getuies verkry,” sê Nel.

“Ten spyte van die bewyse teen die beskuldigde wat bestaan, het die regstelsel die slagoffer in die steek gelaat. Dis nou al twee jaar later; die slagoffer het beperkte toegang tot haar ma en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het besluit om nie te vervolg nie. Die aangeklaagde het onbelemmerde toegang tot die slagoffer en het haar onlangs saam met hom met vakansie geneem.”

Nel meen dit is verregaande dat die NVG besluit het om nie die oupa te vervolg nie sonder dat daar ʼn behoorlike ondersoek gedoen is. “Die vervolgers wat ek ken, sal vervolg as hulle met hierdie twee getuies konsulteer. As dié saak die aandag geniet het wat dit verdien, sou die vervolging van die aangeklaagde hoegenaamd geen probleem gewees het nie.”

Die naam van die beweerde oortreder kan nie bekendgemaak word nie, maar volgens AfriForum is hy ʼn suksesvolle, gerespekteerde sakeman in die finansiële bedryf.

Hou Maroela Media dop vir meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

NEE MAN ·

Die dogtertjie het onlangs saam met die oupa vakansie gaan hou – hoe kon die ma of wie ookal na die kind omsien dit hoegenaamd toegelaat het.

Charlotte ·

Die ma het beperkte toegang volgens die berig – so dit wil se die ma het nie toesig oor die dogtertjie nie

Wanda ·

Die ma het toesig verloor oor die dogtertjie. Die stelsel het die dogtertjie en ma gefaal. As ek reg onthou is die kind onder die pa se toesig wat direk toegang gee vir die oupa.

BLOM ·

Die dogtertjie het onlangs saam met die oupa gaan vakansie hou.
Hoe kon dit toegelaat word?
Siek, siek, siek!!!!!!!!!

Roger ·

Dit is wat goeie oupas en oumas nog altyd doen…trakteer hul kleinkinders. Die optrede van ‘n enkele wanaangepasde persoon mkan mos nie beteken dat oupas en oumas ‘n gevaar inhou nie…

Vraag ·

Wat het van al die ander sake geword wat Gerrie Nel sou vervolg het?
Enige terugvoer?

V ·

Ai tog… Is dit tog nie duidelik nie? Afriforum kan slegs onafhanklik vervolg nadat die staat weier om te vervolg. Nadat die NVG/ hof, ‘n non prosequi bevel uitgereik het. Hierdie begrippe is tog nie so moeilik nie? Dankie vir die belangstelling.

Juanita ·

Kallie Kriel het tydens die lewendige uitsending terugvoer op AL die sake gegee. Meeste is suksesvol weer deur die NGV heroorweeg, ‘n wen vir AfriForum!

TLC ·

Nog niks maak vir my sin waaraan Gerrie Nel geraak het nie
Maar ek like al die ander goed wat afriforum doen
So ja daarvoor sal ek graag n lid van afriforum wil wees

Ai ·

Dankie Afriforum! Julle doen meer met my klein bedraggie wat ek maandeliks vir julle gee as wat die regering met die duisende rande doen wat hulle kry! Dankie!!!

jakes ·

Bere die oupa waar hy hoort. Kranksinnigheid is die nuwe siekte in SA. Morele standaarde het n vloekwoord geword.

'n trotse lid ·

Moord, bedrog, verkragting, dit word net erger en erger En die krimineelment laat dit net toe. “Laat Afriforum ons vuil werk doen” – hulle voel sodoende behou hul stemme, en kan die media en massas linkses aanhou om Afriforum te beswadder.

LOL ·

AfriForum sal baie meer ondersteuning kry indien hulle meer sigbaar word en resultate verkry dmv van die private vervolgingseenheid. Tot dusver meer bek as binnegoed.

Hans ·

Met so ‘n opmerking verklap jy jou lewensingesteldheid.
Ondersoek jouself!

Lizelda ·

Daai man weet nie WAT hom gtref het nie/WAT vir hom voorle nie. Dankie Gerrie Nel en die span wat besluit het om die oupa te vervolg. Ek het gisteraand op Binnelanders gesien hoe vinnig hulle die Dr Els inhegtenis geneem het… Maar “in real life”‘ is dit nie so maklik nie…

Peter ·

“Gesiene sakeman”…laat my altyd dink dat die betrokke persoon net meer skelm as sy maatjies.

Eish ·

Ek dink tog ons minderheid sal baie moed skep sodra die eerste suksesvolle privaatvervolging in die sakkie is.

Hannetjie Harvie ·

Ag ASSEBLIEF!!!! Gerrie Nel, vervolg dan die, en dan dat, maar mens hoor nooit wat gebeur het nie??? Ek se maar net?

Theresa ·

Hy is juis besig met vervolging van dit en dat. Daarom het hy of sy personeel sekerlik nie tyd om met als, elkeen op datum te hou nie.

piper ·

ek dink daardie twee manne van coliney het hulp nodig. kom nou gerrie

Geld wat stom is ·

Hoekom sal die SAPS weier om die saak te ondersoek, dit is weer ‘n geval van geld wat stom is maak reg wat krom is. Julle wat julle laat omkoop is net so skuldig aan daardie walglike dade! Ek gee nie om vir watter rede Gerrie Nel die vent wil laat vervolg, ek is net bly iemand doen uiteindelik iets om daardie kind te help.

wielie ·

Ag rerig???? Nou maak julle bohaai maar die kind gaan saam die oupa op vakansie ??? Wonder of die ouers nie ook moet tronk toe nie ?? of jok die kind ???

? ·

Wielie? Het ‘n kleuterdogtertjie ‘n keuse saam met wie sy met vakansie gaan? Waarom haar nou as leuenaar uitmaak? Sy is blootgestel en word saam met die oupa met vakansie GESTUUR omdat die stelsel haar faal en sommige mense wat beheer het oor haar doen en late net soos jy glo die kind jok.

Wit en trots daarop ·

Dalk moet Gerrie Nel eerder daai manne loop help daar in Coliney! Ek gee my bydrae elke maand vir Afriforum!!!! Miskien moet ons wat n donasie gee eerder besluit wie moet vervolg word. Dis jammer wat met daai dogtertjie gebeur het maar kom ons kyk na ons eie mense ook!!!!!!!

Adriaan ·

Ek dink om sake waar die NVG besluit het om nie te vervolg nie te evalueer en deur die burokratiese moeras te bestuur tot waar Afriforum privaat vervolging kan instel neem meer tyd en werk as wat meeste van ons besef. Voorbereiding vir vervolging en plasing van die sake op n hofrol gebeur ook nie oornag nie. Die dag wat Afriforum se 1ste saak voor n hof verskyn _gaan_ aanbreek!

Juanita ·

Regtig Wielie? Sal ‘n drie-jarige oor so iets jok? Dink jy nie daar moet oor so iets bohaai gemaak word nie. Sy gaan teen haar guns met vakansie. Ek stem die ouers moet verantwoordlik gehou word, die ma probeer tans haar bes.

LOL ·

@Hans @Theresa- dus julle stel nie belang in die vordering van die sake nie? Die dag as daar ‘n suksesvolle vervolging is sal Afriforum se ondersteuning met getalle en finansieel eksponsieel vermeerder.

ek sê maar net ·

die kind bly by haar pa en haar pa is finansieel afhanklik van sy pa, hul stry teen alles. hul kla nou die ma aan van verkragting! waar kan ‘n kind van 3 lieg!!! jul sal verbaas wees hoeveel gevalle is daar in die siek land van ons!!!

Nykie ·

Oupa het baie geld wat beteken hy koop almal om om sy sin te kry. Mamma se hande is dus afgekap vir lank al. Hou op om Afriforum sleg te se tensy jy al enige pogings aangewend het om SA ‘n beter plek te maak!

willem Botha ·

Wat van vat die regering hof toe oor die diskriminerende beleid teenoor wit mense of omgekeerde apartheid?

b rabie ·

Help dan ook die twee manne wat van moord in Coligny aangekla is asseblief.
Hulle is ook ons mense wat stief behandel is.

waarheid ·

Is die kind uit hierdie omstandighede weggeneem?
Laat weet tog asb Maroela?

Pottie ·

Ek het groot goed van Nel verwag toe hy in hierdie pos aangestel is maar moet se ek het nog niks daarvan gesien nie.

Hardus ·

Lyk my nie mense besef hoe langdradig vervolging is nie. Dis nie soos jou ou joppie waar jy elke dag net n paar stukkies papiere rondskuif of ietsie verkoop nie. Dink julle regtig hierdie is die regte plek om antwoorde te kry? Hou op om lui te wees en vra direk vir Afriforum vir vordering. M.a.w. doen tog net self ook n slag iets.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.