Gerrie Nel help NDBV om uitvoer van skape na Midde-Ooste te stuit

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: NDBV/Facebook)

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, gaan die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) Vrydag in die Oos-Kaapse hooggeregshof in Grahamstad verteenwoordig. Dít om ’n dringende interdik te bekom om te verhoed dat die regering later vanjaar ongeveer 70 000 skape na Koeweit verskeep.

Die NDBV maak beswaar teen die afgryslike omstandighede waaronder dié diere na die Midde-Ooste gestuur word. Die organisasie wil nou keer dat nóg ʼn besending diere vertrek. ʼn Herrie het verlede jaar losgebars nadat die omstandighede waaronder die diere op die skip aangehou word, op die lappe gekom het.

ʼn Koeweitse invoerder genaamd Al Mawashi het destyds ’n onderneming in Suid-Afrika geregistreer en ʼn plaaslike uitvoerder gebruik om hom van ongeveer 60 000 skape te voorsien. Die skape is in Oktober met die Al Shuwaikh van Oos-Londen in die Oos-Kaap na die Midde-Ooste vervoer.

Volgens die NDBV is kumulatiewe sterftes op Al Mawashi se vloot vir die tydperk van 1980 tot die eerste helfte van 2017 meer as 1,5 miljoen.

Die NDBV voer aan dit is onaanvaarbaar en onnodig om die skape lewend uit te voer.

“Suid-Afrika moet standpunt inneem teen hierdie gruwelike en onnodige praktyk en eerder verpakte vleis uitvoer wat nie net sal sorg dat diere nie onnodig ly nie, maar wat ook die land se sukkelende ekonomie sal help,” het Grace de Lange, senior inspekteur en bestuurder van die NDBV se beskermingseenheid vir plaasdiere, vroeër gesê.

Die NDBV voer aan dat die vaart van Suid-Afrika na die Midde-Ooste, wat oor die Arabiese See strek en die Persiese Golf deur die Straat van Hormoes binnegaan, baie stresvol vir die diere is. Hierdie gebiede is veral bevestig as hoë‑risikogebiede vir hittestres tydens die tydperk Mei tot Oktober.

Volgens De Lange veroorsaak die hoë temperature dat die skape nie hul liggaamstemperatuur behoorlik kan reguleer nie. Bewyse toon dat gekombineerde hitte en humiditeit tydens só ʼn reis katastrofiese vlakke kan bereik wat tot hitte-uitputting kan lei en “tot gevolg het dat skape lewend kook”.

Die hitte is ook nie die enigste probleem nie. Die NDBV is ook bekommerd dat die diere longontsteking kan opdoen en mekaar tydens die reis kan vertrap. Om sake te vererger is daar gewoonlik meer as 100 000 liter urine saam met die diere aan boord.

Die vereniging benadruk dat weke van onbehandelde afval, gemeng met hoë temperature, ’n dodelike ontlastingmengsel veroorsaak. Dit maak dit gevaarlik vir die diere om te gaan lê omdat hulle lewend begrawe kan word. Die ammoniak wat vrygestel word, kan die skape se oë en kele laat brand en dit kan ook tot respiratoriese infeksies lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jaco ·

Eendag wanneer al die skape veilig is, dan begin onteiening sonder vergoeding, raak regstellende aksie en BEE net erger, raak plaasmoorde meer en word selfs gewettig en begin krepeer ons wit mense regtig. Maar dan is al afriforum se geld gemors op niksseggende hofsake wat met ons eie mense se lot en probleme NIKS te doen gehad het nie.

twaalfboor ·

Word Gerrie Nel nou ñ aktivis vir skape regte? Lol!!!!

Saartjie ·

‘n Goeie saak om voor te veg! Ek hoop die NDBV wen – dit sal die hand sterk van ander oorsese organisasies wat ook probeer keer dat hulle lande hierdie walglike mishandeling van diere staak!

Amanda ·

Vat hulle Gerrie Nel, ons almal weet jy is n wenner!!!!!!!

Rudolph ·

Hieroor sal ek geen bydrae vir diere droogtehulp maak nie. Ons is verantwoordelik vir die leiding wat die plaasdiere ervaar in hierdie droogte want hulle is daar as gevolg van mense se besluite. Die hulp beteken vir die boere seker iets maar vir ons diere niks want hulle lot is deur ons beskik toe hulle gebore is. Van daardie oomblik af het ons ‘n kulkunsie gedoen en van ‘n lewende wese ‘n kommoditeit gemaak. Hulle gaan dae deurbring op ‘n trok. Van hulle op ‘n skip in haglike toestande sodat ‘n man met ‘n rok en ‘n lap om sy kop hulle kele kan afsny. Ek voel elke persoon wat betaal om hulle te laat dood maak vir hulle liggaamsdele kan ‘n bydrae tot droogtehulp maak. Help dan eerder die boere om ‘n ander heenkome te vind anders is ons volgende jaar weer hier.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.