Gerrie Nel in hof oor Rwandese hoë se moord in SA

V.l.n.r._Die opdraggewende prokureur, Kennedy Gihana, en Andrew Leask, advokaat Phyllis Vorster en advokaat Gerrie Nel van AfriForum Privaat Vervolging

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het vandag in die Randburgse landdroshof verskyn in ’n geregtelike ondersoek na die dood van kol. Patrick Karegeya, die voormalige intelligensiehoof van Rwanda.

Die landdros sal Maandag uitspraak gee rakende AfriForum se aansoek dat die geregtelike doodsondersoek gestaak word.

Karegeya, wat asiel in Suid-Afrika gesoek het nadat hy uit Rwanda gevlug het, is in 2013 verwurg in ’n hotelkamer in Johannesburg gevind. Volgens die polisiedossier het Karegeya ’n voormalige kollega en vriend in dié betrokke hotel ontmoet.

Ná Karegeya se dood het drie Rwandese mans (die vriend inkluis) Suid-Afrika binne ure verlaat. Daar is aantygings dat die Rwandese ambassade van hierdie persone buite die hotel opgelaai en na Rwanda gevlieg het.

Ná vyf jaar se versuim om te vervolg, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nou besluit om die saak voor die landdros in te dien vir ’n geregtelike ondersoek na Karegeya se dood. Dit volg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid namens Karegeya se familie en ander partye genader is om vas te stel waarom sy dood nie behoorlik ondersoek is nie.

Kol. Patrick Karegeya se vrou, Leah, by die hof vandag.

“Ons ag hierdie geregtelike doodsondersoek egter as ’n misbruik van regsprosesse asook die toesmeer van ’n gruwelike misdaad, wat die gevolg is van die NVG se onwilligheid of verbod om te vervolg en/of ’n indringende en behoorlike ondersoek van stapel te stuur. ’n Geregtelike ondersoek is nie die gepaste roete in hierdie saak nie en die NVG se besluit is onverklaarbaar inaggenome die inhoud van die dossier,” sê adv. Nel.

’n Geregtelike ondersoek moet slegs gehou word om die volgende te bepaal: Die identiteit van die oorledene; die oorsaak en datum van dood; en of die dood veroorsaak is deur ’n handeling wat neerkom op ’n misdryf deur enige persoon. Die antwoord op al vier vrae is duidelik. Die NVG het verder nie aansoek gedoen om wedersydse regsbystand vanaf die Rwandese regering nie, en ook nie vir die uitlewering van die betrokke individue nie.

Adv. Nel en sy span het dus die byeenroeping van ’n voorverhoorvergadering met die voorsittende ondersoeklanddros versoek, waartydens hulle hierdie kwessies wou opper. Dit het egter nooit gematerialiseer nie en Nel het dié kwessies met die aanvang van die ondersoekverhoor geopper.

Tydens dié verrigtinge sal bewys word dat die regstelsel die slagoffers van hierdie misdaad gefaal het, aangesien geen pogings aangewend is om enige van die verdagtes op te spoor of te arresteer nie.

“AfriForum vertrou dat ons regering nooit sal toelaat dat Suid-Afrika deur sluipmoordenaars gebruik word om teikens te jag en uit te wis, of dit polities gemotiveerd is al dan nie,” het adv. Nel gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Thys Muller ·

Hulle is vinnig om nie lede te help en net so vinnig om lede te skors

Logika ·

Duidelik speel Gerrie skaak en jy checkers.

Maar wat my bekommer is dat jy jou verlekker daarin wanneer reg en geregtigheid nie geskied nie, en diegene kritiseer wat iets daaraan probeer doen.

PJC ·

Ek wonder van wie af het die NVG opdrag gekry om te sorg dat daar nie teen hierdie ouens opgetree word nie en dat hulle toegelaat is om vinnig die land te verlaat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.