Gerrie Nel kap deskundige in Oscar Pistorius-moordverhoor

Staatsaanklaer Gerrie Nel Foto: Antoine de Ras/Independent Newspapers Ltd/Pool (SAPA)

Staatsaanklaer Gerrie Nel Foto: Antoine de Ras/Independent Newspapers Ltd/Pool (SAPA)

Staatsaanklaer Gerrie Nel het Woensdag die getuienis van Roger Dixon, ʼn voormalige senior forensiese kenner van die polisie, gekritiseer.

“Sien jy hoe onverantwoordelik dit is om te probeer om ʼn kenner te wees in ʼn area wat jy nie is nie?” het Nel aan Dixon gevra in die hooggeregshof in Pretoria. Dixon is die verdediging se derde getuie in die moordverhoor van Oscar Pistorius. Nel het Dixon gekritiseer en gesê hy maak afleidings uit ander kenners se foto’s en verslae. Dixon het nie sy eie verslag by die hof ingedien nie maar sy getuienis gebaseer op notas wat hy gemaak het.

Nel het Dixon onder meer uitgevra oor ʼn opname van geweerskote en ʼn krieketkolf wat teen ʼn deur geslaan word. Dixon het tydens ondervraging toegegee dat hy nie weet of die persoon wat die opname gedoen het ondervinding het in die opneem van ontploffings of geweerskote nie. Dixon kon ook geen besonderhede verskaf oor die klanktoerusting wat vir die opname gebruik is nie.

Nel het Dixon ook uitgevra oor sy getuienis rakende die nadoodse ondersoek wat op Reeva Steenkamp gedoen is. Dixon, wat nie teenwoordig was ten tyde van die nadoodse ondersoek nie, het vroeër getuig dat die koeël wat Steenkamp in die heup getref het veroorsaak het dat sy agteruit geval het. Nel het dit betwis en gesê: “Dit gebeur net in rolprente.”

Die saak gaan Donderdag voort waarna dit eers weer op 5 Mei sal hervat.

Pistorius word van moord met voorbedagte rade aangekla nadat hy Steenkamp op 14 Februarie 2013 doodgeskiet het. Pistorius voer aan dat hy Steenkamp as ʼn inbreker aangesien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.