Gerrie Nel pak struggle-veteraan se seun

Kallie Kriel, Monique van Oosterhout, Gerrie Nel en Monique Taute.

Adv. Gerrie Nel en AfriForum het Dinsdag aangekondig dat hulle Alexis Bizos, seun van die wêreldberoemde menseregte-advokaat George Bizos, privaat gaan vervolg.

Dit volg nadat Alexis Bizos sy vrou, Monique van Oosterhout, glo verskeie kere aangerand het en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit het om hom nie te vervolg nie. Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, tree namens Van Oosterhout op.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê daar is ʼn vlaag van geweld teen vroue in Suid-Afrika. Bizos en Van Oosterhout is al 23 jaar getroud en sy is glo by verskeie geleenthede aangerand.

Nel en AfirForum wil Bizos spesifiek vervolg in verband met ʼn beweerde voorval op 16 Maart 2015 waar Van Oosterhout glo so erg aangerand is dat sy ses ribbes gebreek het. Volgens Kriel is Bizos in hegtenis geneem ná die voorval, maar daar is besluit om hom nie te vervolg nie.

Kriel het gesê AfriForum glo in gelykheid voor die reg en het daarom besluit om in te gryp in ’n saak waar ’n geweldenaar teenoor ’n vrou skynbaar nie vervolg word nie, bloot op grond van die feit dat sy pa ’n prominente figuur is.

“’n Mens moet onthou: Om die owerhede te nader, is vir so ’n slagoffer traumaties; die bykomstige viktimisering wat deur slagoffers ervaar word, is telkemale ’n realiteit en hang grootliks af van wie aan diens is wanneer die saak aangemeld word. In die algemeen ervaar slagoffers van geweld ’n duidelike tekort aan empatie wanneer hulle op hul kwesbaarste is,” verduidelik Kriel.

Benewens die bykomstige viktimisering wat daarmee gepaardgegaan het om die saak by die polisie aan te meld, kon Van Oosterhout ná verskeie interaksies met die NVG nie daarin slaag om die NVG sover te kry om Bizos te vervolg nie. ’n Nolle prosequi-sertifikaat is gevolglik op 11 September 2015 deur die NVG uitgereik.

Volgens Nel het AfriForum opnuut aansoek gedoen vir ’n nolle prosequi-sertifikaat en sal Bizos privaat vervolg word vir aanranding met die opset om ernstig te beseer. “Wanneer ’n slagoffer se hulpkrete onbeantwoord deur haar onmiddellike familie en omgewing gelaat word en sy haar telkemale teen die spreekwoordelike muur vasloop, voel dit vir haar of sy alleen staan. Dit laat die slagoffer voel asof die einste wette wat daar is om haar te beskerm en ondersteun, haar in haar oomblik van nood in die steek gelaat het,” sê Nel.

Van Oosterhout het versoek om nie die media te woord te staan nie. Volgens Nel is Van Oosterhout en Bizos steeds getroud, maar is ʼn egskeidingsproses reeds aan die gang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Was hulle lede? ·

Intussen het daar NIKS gekom van die ENGELS saak nie, en hulle wag nog vir sertifikate vir die DUDUZANE saak .. Kan iemand ons dalk op hoogte bring met die MUGABE/ENGELS saak? Dit is tjoepstil . help asb, hoe suksesvol was die vervolging gewees .. is daar dalk buite die hof geskik? Ek sien en hoor niks meer van die Engels dame nie .. Met wie se geld word die privaatvervolging gedoen? Nie die Engels dame of die gesin wat deur Duduzana Zuma van die pad gery is was lede van Afriforum nie .. ek verstaan regtig nie wanneer gaan Afriforum HULLE lede se sake aanvat en privaatvervolging doen op mense wat HULLE LEDE raak nie??

JJ ·

Hulle moet eers PC speel vir n ruk, dis van die begin af gese dat dit nié net lede sal wees nie.

marous ·

Beteken niks want die NVG kan ter enige tyd oorneem en die saak opfoeter sonder enige gevolge.

Chris Ws ·

Daar is soveel “redtape” dis nie waar nie.En als vat TYD.Ons moes vir ‘n hofbevel wat deur die Meester van die Hooggeregs hof net geteken moes word ,11maande gewag.Mnr.Ndlovo was nie juis haastig nie!

Werner ·

Wat verstaan julle nie? Jy maak van die groot visse ń voorbeeld. Die wat wegkom a.g.v hul naam. Die klaers hoef nie lede te wees nie. Dink tog. As daar môre iets oor Julius Malema inkom en die klaer is van die ANC dan vat jy die saak.

@ Werner ·

Ons verstaan BAIE mooi Werner, die probleem is as die hoe profielsake VERLOOR word verloor Afriforum net nog gesig .. VERSTAAN JY DIT?? Nou is dit oral in die nuus en op almal se lippe, as hulle die Engels en Duduzane Zuma saak verloor . is daar soveel eier op Gerrie n Afriforum se gesigte dat NIEMAND dit ooit weer gaan skoonkry nie. Die saak teen Julius Malema het ook ‘n stille dood gesterf … Onthou Afriforum is STEEDS afhanklik van ledegelde .. !!

adriana ·

Ons hoor gedurig van mense wat deur Gerrie aangekla gaan word – maar dis al, verder gebeur niks nie.

Theresa ·

Als vat tyd. Dankbaar dat AfriForum en Gerrie Nel nie sit en niks doen nie, maar uitstekende lewer. Daar sal sekerlik terugvoer wees oor al die verskeie dinge waarmee daar besig is. Hoop dat daar ook aandag geskenk word aan elke moontlike Afrikaner persoon wat wreed aangeval was en nie regshulp kan beskostig nie. Sterkte – mens waardeer so ‘n professionele span.

Daan Erasmus ·

AfriForum is besig om die BEGINSEL te vestig. Afriforum doen baie vir sy lede en ander Afrikaanses. En van geld gepraat, alles kos geld. Maak gerus ‘n bydrae.

Dankie Daan ·

Jy het my nou net oortuig om my bydrae te staak. Behoort nou lank genoeg aan hulle terwyl hulle agter Zumas en Engelse aanhol, en nog nie veel vir my beteken het nie. Dankie vir daardie eye opener.

Niels ·

Nee wat Afriforum mors genoeg my tyd met hulle Spam oproepe, gaan nie ook my geld mors op hulle nie. Gerrie se aanstelling was maar n groot bemarkings foefie, hy’t naam gemaak na Oscar, en dis dit, wat van Engels/Mugabe? Niks verder as dit nie.

Chrisjan ·

Afriforum julle mors tyd en geld, bestee dit aan die mense wat bydrae. So nie, loop ons.

Sarel ·

Niemand dwing jou om lid te bly nie, en niemand gaan jou soebat om n lid te bly nie. So maak maar soos jy smaak. Good riddance?

Cherokee ·

Ek hou van jou siening, Sarel. Miskien dreig hy om te loop nog voor hy daar was.

Barry ·

Ek wonder hoeveel van die siele wat dreig om hul lidmaatskap te beëindig, is wel lede? Net omdat iemand beweer hy is n lid, beteken nie hy is regtig n lid nie.

Frederick ·

Sommige van die kommentare spreuk boekdele van hoe in voeling van die mense is met wat realisties haalbaar binne n gegewe tydperk is. Regte klomp sleutelbord soldate wat altyd verontreg is; weet wat die geheime motiewe is; en die integriteit van diegene wat daagliks meer ten bate van die gemeenskap en samelewing verrig as wat die “soldate” in n leeftyd kon reg kry, in twyfel trek…. hartseer neh?

Casper Labuschagne ·

Hier het ons die toestand dat persoon nie vervolg word nie vanweë sy vader se politiese verbintenis met die sogenaamde “struggle’. Aan die ander kant is daar ‘n burgerregtegroep Afriforum met die middele en befondsing om self so ‘n vervolging te laat plaasvind. Dit is dus te wagte dat ‘n golf van kritiek op Afriforum sal neerdaal wat Afriforum sal beskuldig daarvan dat hulle self ‘n politieke vooroordeel het.

PJC ·

Ek dink die mense wat so teen Afriforum uitvaar ken nie die geskiedenis nie, Advokaat Bizos was sy lewe lank ń Afrikaner hater en as gevolg van sy ANC bande byna onaantasbaar. A Afriforum hierdie ene kan deurtrek sal dit aan die Bizos familie wys hulle kan nie net maak en breek soos hulle wil nie.

CE ·

AfriForum doen baie meer as julle wat net sit en kritiseer. In plaas van kritiseer, rol jul moue op en help eerder. Daar word slagoffers gehelp, daar word baie gedoen rondom plaasaanvalle, daar word dorpe en stede skoongemaak. Jul het nie ‘n idee nie want jul sit eerder agteroor en kritiseer die goeie wat hul doen. Hoekom steek elkeen wat so kritiseer nie ook net ‘n kers op om ‘n verskil in die donker te maak nie. Ironies is dit gewoonlik die wat NIKS doen nie wat die meeste kritiek lewer. Plaas staan al ons Afrikaners eerder saam en vat AfriForum se Hand en maak ‘n verskil.

Johan. H. ·

Is dit nie ironies nie,,, In my opinie is George Bizos die Afrikaner nie eintlik goedgesind nie maar nou moet die Afrikaner help,, HaHaHa ??

Piet Snot ·

Hoekom is dit so moeilik om te verstaan? Jy moet juis jou eerste sake polities korrek doen. Sodat jy kan wys jy help nie net ‘n sekere bevolkingsgroep nie. Anders stel jy jouself oop vir die beskuldiging dat dit rassistiese vervolging is. Komaan manne, dink bietjie strategies: soos Gerrie klaarblyklik doen.

PJC ·

Stem 100% saam met jou CE. Ongelukkig is mense oningelig want Afriforum, Solidarireit ens. word doodgeswyg deur die hoofstroom media of anders word gedurig gepoog om hulle swart te smeer.

Koos ·

Wens AfriForum wil Nel loslaat op sake wat ‘n wesenlike verskil vir almal sal maak en ophou om hom vir Mickey Mouse-sake te laat sit en grom…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.