Gerrie Nel: Saggeaarde bulhond wat korrupsie wil vasvat


Staatsaanklaer Gerrie Nel. Foto: Antoine de Ras / Independent Newspapers Ltd - Pool (SAPA)

Staatsaanklaer Gerrie Nel. Foto: Antoine de Ras / Independent Newspapers Ltd – Pool (SAPA)

Hy braai nie graag self vleis nie, maar hy skroom nie om dié wat hulle aan die verkeerde kant van die gereg bevind, oor die kole te haal nie.

Adv. Gerrie Nel, die “bulhond” van staatsaanklaers, het sy bynaam verdien met sy uitstekende aanklagwerk tydens verskeie hoëprofiel-hofsake, soos dié van Jackie Selebi, voormalige nasionale polisiekommissaris, die moord van die mynmagnaat Brett Kebble en Chanelle Henning, die Pretoriase ma wat vermoor is net nadat sy haar kind by ʼn kleuterskool in Faerie Glen afgelaai het.

Hy was as junior aanklaer betrokke by die verhoor van Clive Derby-Lewis en Janusz Walusz, wat albei skuldig bevind is aan die moord op die SAKP-leier, Chris Hani, in 1993. In al dié sake het die publiek hom leer ken as die staatsaanklaer wat, nes ʼn bulhond, eenvoudig nie laat los as hy eers iets beet het nie.

Nel het egter ʼn huishoudelike naam geword tydens die verhoor van die Paralimpiese atleet, Oscar Pistorius, wat vir byna vier jaar lank wêreldwyd die hoofopskrifte in die internasionale media gedomineer het.

“Ek is gemaklik met my bynaam,” sê Nel met ʼn effense glimlag. “Dit is miskien my persoonlikheid terwyl ek in die hof is. Ek dink dit is belangrik vir enige advokaat om getrou aan jou persoonlikheid jou werk te doen en ek kan tydens ʼn kruisverhoor oorkom as ʼn bietjie aggressief. Ek weet nie of die bynaam my noodwendig baat nie, maar as ek moet eerlik wees, dink ek die bynaam pas by my as ʼn litigeerder.”

Nel stem saam die hoë-profielsake wat met sy naam as staatsaanklaer verbind word, is ook die sake wat vir hom uitstaan, maar as jy die man se oortuigings en liefde vir die reg beter wil verstaan, moet jy hoor hoe hy gesels oor ʼn hofsaak wat hom na aan die hart lê.

“Hier in die tagtigerjare het ek ʼn saak gedoen van dr. Stephen Pon, wat in Hillbrow voor ʼn hospitaal gekaap en doodgeskiet is. Aan die einde van die hofsaak het sy pa na my toe gekom en my bedank. Hulle is net toegelaat om een kind te hê en hul stamboom het met Pon se dood as‘t ware tot ʼn einde gekom. Hy het vir my gesê ek het dit draagliker vir hulle gemaak omdat geregtigheid geskied het. As ek moet terugdink, is dit die een ding wat by my opkom, daardie dankbaarheid dat ek iemand kon help.”

Sosiale en nuusmedia het die afgelope week gegons met die nuus dat Nel as staatsaanklaer bedank het en ʼn pos by AfriForum aanvaar het as hoof van dié burgerregte-organisasie se nuwe vervolgingseenheid. Sy oë vonkel met byna kinderlike opgewondenheid as hy oor dié nuwe geleentheid praat. Die idee van ʼn private vervolgingseenheid maak hom opgewonde, sê hy en hy was lanklaas opgewonde.

“Dit is vir my wonderlik om te dink ons gaan iets skep wat nog nooit daar was nie en nou so nodig is. Om iets, wat mense soos prof. Pierre de Vos en die res van die media sê nie moontlik is nie, daar te stel, dís ʼn uitdaging. As hulle op die ou end reg bewys word, het ek minstens probeer en nie net in ʼn sitkamer gesit en daaroor geskryf nie.”

Hy erken die kritici is egter heeltemal reg as hulle meen AfriForum as ʼn regspersoon kan nie self privaat vervolg nie, maar as iemand ʼn reg het om privaat vervolgings te doen, kan Nel se eenheid dit namens hulle doen. “Die kritici staan ook net ʼn paragraaf af aan die moontlikheid hiervan en beweeg dan vinnig aan terwyl dit die kruks van die saak is. Die eenheid kan namens enigiemand die vervolging doen, veral omdat dit ʼn duur proses is en AfriForum ingestem het om ons te befonds.

“Ek glo elke belastingbetaler het die reg om korrupsie, op watter vlak ookal, te laat vervolg en ek laat my nie vertel die howe sal nie minstens na ons luister nie. Ek dink ons moet die reg laat verbreed. Dit is ʼn ongelooflike geleentheid, want toe hierdie Strafproseswet in 1972 in die wetboek aangeteken is, was daar nog nie ʼn Grondwet nie en die landskap het toe heeltemal anders gelyk. Dis miskien nou juis die tyd om die wetgewing by die landskap aan te pas.”

Nel was egter glad nie voorbrereid op die kabaal wat sy vinnige bedanking by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sou veroorsaak nie. Nog minder was hy voorbereid op die mediastorm wat sy aansluiting by AfriForum sou veroorsaak.

“As ek kyk na wat die laaste paar dae gebeur het, was my plan om 24 uur kennis te gee dalk ʼn goeie een, want ek weet nie of ek 30 dae hiervan sou kon deurstaan nie.”

Kallie Kriel en Gerrie Nel. Foto: Rozier van Tonder/AfriForum

Kallie Kriel en Gerrie Nel. Foto: Rozier van Tonder/AfriForum

En terwyl hy dalk vinnig bedank het, het hy en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, vir ʼn jaar en vier maande lank oor die moontlikheid van so ʼn eenheid gesels, voordat hulle besluit het om dit te stig. “Dit was vir my belangrik dat daar geen voorskrifte is oor wie en watter soort sake vervolg word nie – die belangrikste kenmerk van hierdie eenheid is om te verseker almal is gelyk voor die reg.”

Hy betwyfel egter nie die moontlikheid daarvan dat die eenheid sukses sal behaal nie. “Selfs al kry ons nie een saak nie, het ons reeds gewen, want dan beteken dit geen selektiewe vervolging het plaasgevind nie. Ek dink egter nie ons gaan duisende sake kry om op te volg nie.

“Ons sal seker maak sake van openbare belang word opgevolg. Daar gaan ook nie selektiewe vervolging wees nie en mense gaan nie deur die media skuldig bevind word nie. Ons kan nie ander mense van hierdie optrede beskuldig en dit dan self doen nie.”

Nel stel dit duidelik daar gaan geen korttermynsuksesse vir die eenheid wees nie. As die eenheid egter na ʼn jaar nog nie ʼn saak het om op te volg nie, sal hy bekommerd raak. “Die proses is ingewikkeld en daar is net soveel faktore wat dit beïnvloed en mense wat ons sekerlik gaan probeer frustreer. Ons moet die eenheid nog heeltemal konseptualiseer en mense werf om saam met ons te werk. Ons wil dit alles baie versigtig doen.”

En ja, Nel het steeds 100% vertroue in Suid-Afrika se regstelsel. “Ek dink ons howe is op ʼn goeie plek en in die uitsprake wat hulle gegee het, het hulle ons op ʼn goeie manier verbaas.

“Ons het ʼn ongelooflike groep aanklaers in hierdie land, wat baie hard werk en sodra mense praat oor aanklaers, dink hulle aan die NVG se hoofkantoor. Ons moet net duidelik maak dat die kritiek wat eintlik op die bestuur van die NVG gerig moet wees, gerig is op bestuur en nie die aanklaers nie, want hulle is gewone mense soos ek wat ʼn passie het vir wat hulle doen. Die kritiek is op die bestuur gerig, want ek gee net lof aan ons aanklaers.”

Nel is deeglik bewus daarvan dat die soort sake waarby hy betrokke is, maklik tot vyf jaar van sy lewe heeltemal kan “insluk”. Dit is hier waar die bulhond-temperament hom weer goed te staan kom. ʼn Bulhond volhard, is vasberade en aggressief as hy uitgelok word, maar beskerm sy gesin en dit waarvoor hy lief is. Dit is dalk waarom Nel daarin geslaag het om sy gesinslewe van sy werkslewe te skei.

“Ek het verskeie veilige plekke waar ek kan ontsnap. My gesin en my stoei-afrigting by Menlopark se stoeiklub, asook my tyd op die gholfbaan – dit is waar ek heeltemal ontvlug.”

As hy in die stoeisaal instap, is hy net “coach Gerrie” vir die kinders wat hy afrig.

Hoekom juis dié sportsoort?

“Dit is ʼn sport waarin jy op die mat gaan en dan is jy alleen, daar is nie veertien ander mense wat gaan help as jy ʼn fout maak nie. Jy moet op jou eie krag staatmaak, jou eie vernuf en strategie. As die fluitjie blaas, is dit jy en ʼn opponent en die beste een stap van die mat af.”

Is daar iets – enigiets – waarvoor hy bang is?

Hy dink ʼn bietjie; glimlag dan. “Ek is bang om in ʼn hysbak te ry.”

Daarmee kan sy aanhangers saamleef.

  • Luister die volledige onderhoud met Gerrie Nel boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

55 Kommentare

Elize ·

Na my mening is adv Nel nou op die regte plek.glo dinge sal nou gebeur.

Jan ·

Esté, die trane het geloop na ek jul berig gelees het, eintlik sommer toe ek sien julle het die inligting geplaas.

George Ruthven ·

Useless as jy my vra, net die volgende soustrein wat die stasie in trek om uit te beit…..op die ou einde is dit net weer uselless…

Andre ·

Nie om voorbarig te wees nie, maar hoe dra daai tipe komentaar by tot enigeiets konstruktief? Sulke komentaar waarvoor Afriforum gereeld op staan vir Afrikaner regte? Waar veral Nel baie van pas in sal kom? Bou die nasie bou die volk… Hartseer

Sjoe ·

Sjoe geniepsig as jy my vra, George, 1 vraag vir jou, wat doen jy om SA beter te maak? Met n Inge Lotz saak, sou hierdie man n groot verskil gemaak het en haar verpletterde ouers baie minder gekos het! Ja hy het foute gemaak nes ek en jy! Hy gaan egter hoop bring in n korrupte land, hy sal vir niks en niemand terugstaan!

Anoniem ·

George, en presies wat doen jy om die korrupsie en soustreine van die land te stop? Ek dink jy is ‘n troll – daai mense wat onsinnige kommentaar lewer om andere uit te lok.

buks ·

Dagse Gerrie daar is net een Oscar. Ek wil net weet wie is die volgende een wat jy wil vernietig. Ek het van jou en Reeva eewe min geweet, nou weet almal van julle. Jy het die vertroue wat mens nog in die regstelsel gehad het verdeel. Byvoorbeeld die Reeva kant en die ander kant. Vir 35 jaar vervolg jy misdadigers wat op die einde ons belasting betalers miljoene der miljoene Rande gekos het. Ek dink, nou gaan jy Afriforum se swaarverdiende geldjies gou gou opeis.

Cherokee ·

Daar was ook net een Reeva. Haar aardse bestaan is deur Pistoors vernietig.

Sannie ·

Ai Buks. Oscar het Reeva flenters geskiet deur n TOE toilet deur!! DIT is waarmee haar ouers moet saam leef. Al wat Adv Gerrie gedoen het was om geregtigheid te laat geskied. Oscar kan weer aangaan met sy lewe na sy tronkstraf maar wat het Reeva se ouers? Vir my as ouer van n pragtige dogter en ek moes luister na al die liegstories wat hy, Oscar gespin het ….. dan se ek dankie Heer vir n man soos Adv Gerrie!

Ja ne ·

Ja ne hy het foute, Henning, Kebble(die foute is dalk onvoldoende ondersoek& vuil geld wat goeie advokate kan bekostig) obsessie met Oscar( ek dink hy was bietjie te desperaat om sy naam in ere te herstel na Mickey Schultz), maar daar is baie suksesvolle sake wat ons nie van hoor of lees. Die misdadigers gebruik belastingbetaler se geld, jou persepsie bietjie deurmekaar!

Cherokee ·

As ek reg verstaan wat jy probeer kwytraak dan maak jy ‘n fout. Dit gaan nie op die Beitbrug gebeur nie maar lokaal.

Piet van staden ·

Hallo George. Verstaan glad nie jou kommentaar nie. Jy klink wanhopig en radeloos. Fantasties om te weet God is in beheer. Afriforum en Solidariteit doen wonderlike werk. Kom ons vat hande en staan saam. Gerrie Nel is n Bulhond en gaan n verskil maak.Hoop jy voel beter.

Ig ·

Gerrie, vee jouself af aan die lot kla kouse en suur g@@te.Jy is n aanwins vir Afriforum en as n paar mense ongelukkig is omdat jy jou werk toegewyd doen, so be it.

Anoniem ·

Saggeaard is G Nel beslis nie!!!!
Glo wel dat dit baie goeie skuif is om hom by Afriforum te he.

Jan ·

Jy sê hy is nie saggeaard nie. Spekuleer jy of ken jy hom persoonlik?

marous ·

Verduidelik assbeblief presies hoe private vervolging werk . Bepaal die Strafproses wet dat die privaat vervolger die proses tot die einde kan deurvoer en of die NVG die mag het om dit ter enige tyd oor te neem indien dit blyk dat die aanklag bewys kan word?? Indien wel wat se reg tot insette het die privare vervolger dan? Ja ….. ek dra al jare by tot Afriforum .

Pietser ·

Privaatvervolging kan ingestel word waar die staat weier of versuim om een of ander rede. Staat kan besluit om te vervolg gedurende ‘n privaatvervolging en oorneem tydens ‘n saak in welke geval die privaatvervolging moet staak. So dis of die een of die ander, kan nie gesamentlik plaasvind nie.

jaco ·

almal wat hom nou so ophemel, vergeet sy rassisme toe hy van regter Masipa se aanvanklike vonnis op Oscar verskil het. Sy kritiek op haar het basies neergekom op “jy is swart en daarom het jy ‘stupid vonnis gefel”. Eks nou nog verbaas dat niemand anders, nie eens ons anti-wit regstelsel, sy kritiek as rassisme gesien het nie.

Jan ·

Rasisme? Is jy ook nou op daar die wa wat almal laat regop sit.

Steven ·

Jaco ……word groot asb ? Indien jy nie kommentaar kan lewer wat konstruktief is nie stel ek voor jy moet jou opine vir jouself hou.

TvA ·

Ek dink jy gee jouself weg. Leer eers om Afrkaans reg the skryf voordat jy jou naam op sosiale media krater maak met sinnelose kommenntaar.

An3s ·

‘n Palet is die Afrikaanse woord vir “palette”, dis die bordjie waarop ‘n skilder sy verf meng. Ek dink die skrywer het aan “palate” gedink…maar ongeag die glips, ek reken Gerrie gaan dinge roer!

Mariné Lourens ·

Dagsê Vic

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die hoofopskrif van die berig is gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

muis ·

Nou wonder ek of julle negatiewe mense die dag iets goeds te se gan he as hy positiewe verbeteringe gan maak.. (Thinking……)

Johann ·

Ek skaam my vir die negatiewe en afbrekende wysneuse op hierdie webwerf oor Adv Gerrie Nel se aanstelling. Gaan lees gerus wat skryf Brutus Malada van City Press oor Gerrie. Ook sê hy mense wat stories opmaak en spekuleer, in plaas van om die waarheid verkondig, doen dit om ander te diskrediteer. Ek daag julle. almal, voor enigeen nou weer kommentaar plaas om eers Malada se rubriek te gaan lees.

willem ·

waar gaan Afriforum die geld kry ok hierdie man te betaal? ‘n Regsman van sy kaliber kan nie goedkoop wees nie. Ek dink die hele ding is in elk geval n mors van geld, tyd en energie. jy kan privaat vervolg tot jy blou in die gesig is. sodra die media weet wie jy vervolg, sal hulle verder gaan met ‘n “name him and shame him” veldtog, maar uiteindelik moet dit tog maar na die land se regte howe toe verwys word en NET DAAR sal ‘n ANC-beheerde regstelsel jou keer om ANC-regeringsmense wat korrup is, verder te vervolg en te verhoor.

Gerda ·

O die leuenstoel kritici darem! Staan n slag op uit daai sagte gemaksone voor die tv en begin te werk en hou op om mense wat wel die moed aan die dag lê om konstruktief te wees, af te kraak en te verdoem tot die moeras van middelmatigheid waarin jy jou afsloof

Henry ·

Wanneer mens noodwendig gedwing word om sommige van die negatiewe kommentare wat hierbo verskyn te lees, dan wonder ek alhoe meer of dit regtig nodig is om ‘n kommentaarfunksie onderaan berigte te verskaf.

Die doelwitte van Afriforum en ‘n gedugte man/werker soos Gerrie Nel, is tog broodnodig in ‘n droewe land wat deur ‘n regime bedryf word en minder as niks* vir die welsyn van die inwoners voel.
‘n Regime* en amptenare wat alles in die stryd werp om hul eie belange en materiële welsyn ten koste van die staat se burgers s’n te bevorder, soos die jongste voorbeeld bewys lewer toe 94 weerlose mense na ‘n vroeë dood gestuur is.

Sterkte aan Afriforum en alle lede wat tsv vreemde aanvalle uit eie geledere by hierdie aksie betrokke is. Hopelik sal ons Afriforumlede asook nuwe lede se bydraes in al julle behoeftes voorsien.

*Om te probeer verhoed dat my bydrae in ‘n snippermandjie beland, het ek nie ‘n ander woord met al sy toepaslike verbuigings gebruik nie. Natuurlik is daar geen waarborg dat my poging wel die mandjie sal vryspring nie…

Helene Heyns ·

Nel sê hy kan miskien tydens n kruisverhoor voor kom as ‘n bietjie aggressief. Dis dié eufimisme van die eeu. Hy raak wreed nie net aggressief nie.

Johann ·

Het jy gelees wat Brutus Malada gesê het? Hy het nie gespekuleer nie.

Johann ·

Dan het ek vergeet om te vra, ander advokate, hoe tree hulle op. en Barry Roux? Is dit dan nie deel van hul mondering om aan te val nie? Dit is nie noodwendig wat hulle inherent is nie, maar hulle kan nie suutjie wees, so saggies saggies ‘n windjie los nie.

marous ·

Dankie Pietser . Met ander woorde die bal kan uit die private vervolger se hande geneem word. Indien die NVG dit laat val sal die private vervolger nie die mag he om dit verder te neem nie…..

Wynand Kruger ·

Dit is jammer hy hou nie van die kombuis nie, Hy volg die resep in die hof en daar le sy sukses. Elke kriminele daat het n’ resep en hy kan dit ontleed

Nic ·

Gerrie Nel is ‘n egois (hy kon Oscar se aanvanklike vonnis nie aanvaar nie, sy ego was te groot) wat floreer daarop om op sagte teikens te fokus, hy het waarskynlik ‘n oproepie gekry uit die onderwereld gekry om liefs pad te gee uit die NVG.

cliff duncan ·

Ek persoonlik dink dit is n yslike aanwins. Enige poging tot verbetering van ons posisie word waardeer en Gerrie is net die man vir die posisie. Vertrou net hulle het hul rand en sent sommetjies gemaak.

Chris ·

Verduidelik tog asb vir my wat bedoel jul met die woord “palet” in jul hoofopskrif?

Mariné Lourens ·

Dagsê Chris

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die hoofopskrif van die berig is gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Johann ·

Goeienaand Esté/Mariné, ek sal dit waardeer as julle tog meer lig op die woord ‘palet’ kan werp soos julle dit aanvanklik in die opskrif gebruik het.

Dit is reg dat dit die verfbord van ‘n kunsskilder is, maar daar is ook ander betekenisse. Een waaraan ek pertinent dink is waar dit by smaak, bv van kos uit kom, of die palet wat mens ervaar van wyn wat mens proe. Het jul aanvanklike gebruik van die woord nie hiermee te doene gehad nie? Dis hoe ek dit interpeteer het.

Baie dankie, dit sal nogal interessant wees om die gebruike van die woord ‘palet’ te lees as julle meer lig hierop kan werp.

Johann ·

Hi weer Mariné, ek dink ook aan die woord ‘sensasie’, dit wat mens ervaar as mens bv iets proe.

Henry ·

Ek stem saam met Johann – vir wat dit werd is, maar ek is vir seker nie ‘n taalkundige nie!
Ek het aanvaar dat palet na smaak (palate/taste in Engels) verwys, siende dat daar in die openingsparagraaf na Adv Nel en braaivleis verwys word. Dws korrupsie is nie deel van sy palet/smaak/voorkeur nie.
Andersyds kon die berigskrywer ook na ‘n skilder se palet verwys het, wat eweneens beeldspraak-gewys verband kan hou met die inhoud van hierdie artikel. Maw – Korrupsie se kleure is nie deel van Gerrie Nel se palet nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Johann

Dankie vir jou navraag.
Die woord “palet” is nie ‘n Afrikaanse vertaling vir die Engelse woord “palate” nie. ‘n “Palet” verwys slegs na die verfbordjie van ‘n kunsskilder.

Goretnis
Suné
nms Maroela Media

Nico ·

Almal wat sê Gerrie Nel het Oscar se saak op appèl geneem vir eie gewin.
1. Die direkteur van openbare vervolging se mandaat is om sonder vrees vir retribusie te vervolg.
2. Nie almal in die OV kry die geleentheid nie.
3. Adv Gerrie Nel jag geen regse agenda nie. Hy volg bloot ‘n mandaat wat hy ontvang het. Nie Outa (ek respekteer hulle) of Lawyers for Human rights of enige ander Nie-regerings organisasie het daardie visie openbaar nie. So moet nie dink Gerrie is polities gemotiveer nie. Hy stuur tronk toe sonder vooroordeel. Jackie Selebi en Oscar Pistorius. Ek slaap bietjie rustiger omdat mense wat saakmaak vir ons omgee.

Nico ·

Ek geniet Gerrie Nel se openbare kommentaar. Hy nooi mense uit om elke iedere stap te fynkam. En hy vervolg sonder vrees en voordeel. My hoed af vir mense wat standpunt inneem. Hierdie gaan groter word as enigiets tevore. SA het ‘n nuwe stem nodig.

Nico ·

En ek bedoel ‘n stem teen enige misdaad. My en jou geld het geen kleur. So ook enige plaasaanval- slagoffer en verlies wat ons ly, of enige slagoffer van plaasaanvalle of kampusgeweld.

Koos ·

Met alle respek gese, ek wil graag sien wat gaan jy regkry ou Gerrie. Jy gaan gou grys word ou pel.

anner koos ·

Kom ons kyk eers wat rig Gerrie uit sonder die mag en hulpbronne van die Staat agter hom.

Hans Heyneke ·

Gewoonlik maak diegene met hul negatiewe kommentaar geen finansiele bydra tot Afriforum nie aangesien hulle nie lid is van die organisasie nie. Ek noem hulle leunstoel klipgooiers.

Vic ·

Stel voor Mnr Nel begin sy werf aksie deur advokaat Thuli Madonsela te werf

Alida ·

Vic jy behoort by hierdie tyd te weet dat Thuli reeds ‘n ander pos aanvaar het.

Vic ·

Jammer, Alida, ek is seker maar oningelig. Het sy n kontrak geteken wat haar verbied om n beter aanbod te aanvaar?

Alida ·

Ai ek kry skaam vir my nasie. Los Mnr Nel uit. Nie een van ons weet wie hy regtig is nie. Ek self is nie aanhanger van hom nie. Daar is nie een enkele staatsamptenaar wat oorloop van vriendelikheid nie. Uit die aard van hulle werk kom hulle bombasties en nors voor. By die huis by sy gesin is hy ‘n ander mens. Ons ken hom nie. Oor die leser wat bekommerd is oor sy vergoeding. Ek dink nie Afriforum sou hom aangestel het as dit nie in hulle finansiele vermoë was nie. Niemand weet wat die onderhandelinge tussen die partye wat al meer as ‘n jaar aan die gang is behels nie. Hou op spekuleer en lewer opbouende kommentaar asb. Gerrie Nel is ‘n aanwins vir Afriforum en ons moet bid dat hy hierdie goddelose korrupsie sal probeer stopsit in die hele SA met al sy mense in almal se belang. Dit gaan nie net oor die afrikaners nie maar oor al die mense in hierdie land. ALMAL word benadeel deur korrupsie. Gee hom ‘n kans om sy vervolgings te doen. Ek hoop die negatiewe kommentare onder skuilname sal mans genoeg wees om, as hy sukses behaal, grootmoedig genoeg te wees en te sê “Well done”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.