Gerrie Pretorius ná vyf jaar terug met nuwe album

Gerrie Pretorius het vroeër in Desember in Budapest gekuier. Hy glo om te reis is ‘n soort verjongingskuur. Foto: Gerrie Pretorius se Facebook-blad.

Gerrie Pretorius, sanger en aanbieder van kykNET se gewilde reisprogram Leef jou reis, het vroeër vanjaar uiteindelik weer ʼn nuwe musiekalbum, getiteld Jou hart is weer myne uitgereik.

Volgens Pretorius het hy eintlik al verlede jaar aan dié album begin opneem, maar moes dit so tussen die gewerskaf van opnames vir Leef jou reis en ʼn stryd teen mangelontsteking doen.

“Ja, ná vyf jaar is my musiekdroogte darem uiteindelik weer so bietjie gebreek. Dit is ook hoekom ek die titel Jou hart is weer myne gemaak het, want ek hoop my aanhangers onthou my darem nog en kan sê ons harte behoort nog aanmekaar,” vertel hy met ʼn glimlag.

Dit is dan ook sy tiende musiekalbum, maar 12de uitreiking in totaal.

“Jy weet, twee hiervan was DVD’s en ek was destyds een van die gardes wat nog van die eerste musiek-DVD’s uitgegee het. Ek klink nou al soos ʼn ou man – in 2021 is ek al twintig jaar in hierdie bedryf. Ja, ek was van die eerste karperde wat Afrikaanse musiek in die vroeë 2000’s aangebied.”

Pretorius sê hy het op hierdie album weer kragte saamgesnoer met liedjieskrywers soos Rudi Claassen, wat in die verlede vir hom goeie liedjies gelewer het. Hy het ook saam met twee groot stemme, Caroline Grace en Lynelle Kenned, gewerk om twee duette op te neem.

Hy het verder ʼn paar ou gunstelinge vir hierdie album afgestof.

“ ‘Duifie van die see’ en ‘Grootste wens’ kom van my heel eerste album af. Ek het self nie eens meer hierdie albums nie en ek het dit heeltemal gaan ooropneem omdat mense my gedurig hiervoor gevra het.”

Pretorius vertel daar is ook ʼn verwerking van die snit “Perhaps Love” wat hy saam met Touch of Class opgeneem het en wat unieke kitaarklanke bevat.

Hy sal in 2020 sy agtste jaar as ʼn professionele reisiger vier – in die proses het hy al die voorreg gehad het om 80 lande te besoek.

ʼn Splinternuwe en agtste reeks van Leef jou reis sal volgende jaar in Junie op die kassie begin wys. Dié keer vat hy die kykers saam om die na gletsers in Alaska te gaan kyk. Hy maak ook ʼn draai in Malta, Indië en ook by Kersvader in Lapland om na die Noorderligte te gaan kyk.

“Kyk, as ʼn mens só reis, is daar nie eintlik tyd vir kreatief werk aan jou musiek of tyd om liedjies te skryf nie, maar ek dink tog my ervaringe se inspirasie spoel in my musiek oor. Ek het met my reise ongelooflike respek vir Afrikaanse musikante gekry. Dit is eintlik wonderlik wat ons met die min tot ons beskikking regkry – kyk, ons draai ʼn draad sewe kante toe en tap dan nog sommer water ook uit hom uit,” sê Pretorius.

En as hy sy sin kry, sal hy beslis eendag nog ʼn Afrikaanse jazz-album vir sy aanhangers lewer.

“Kyk, ek het die geleentheid gehad om in Las Vegas in die VSA te sing en daar het ek sommer drie keer na mekaar ʼn jazz-konsert van Frank Sinatra gaan sien.

“So sit ek en kuier in Ollie Viljoen se studeerkamer kort ná hierdie ervaring. Hy vertel my toe na aanleiding hiervan dat hy die enigste weergawe van transkripsie-opnames het van die enigste ou wat ooit Afrikaanse geswing en gejazz het, en dit was Sias Reynecke. Ollie het van die musiek vir my gespeel en daar het my idee ontstaan dat ek ook dié soort musiek in Afrikaans kan en wil doen.”

Pretorius sê sy platemaatskappy het hom altyd gevra wanneer hy vir hulle ʼn Bles Bridges-album sal doen. Hy wou aanvanklik niks hiervan weet nie, maar het later ingestem, mits hulle hom sou toelaat om sy Afrikaanse jazz-album op te neem.

“Ek dink dit sal vir my lekker wees om weer so een te doen en my aanhangers te trakteer met al daardie mooi ou nommers in Afrikaans.”

  • Gerrie Pretorius het onlangs in Maroela Media se ateljee kom kuier en meer vertel oor sy jongste album Jou hart is weer myne, asook die reise van die Leef jou reis televisiereeks wat hom deesdae so besig hou. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.