Gert van Rooyen-ondersoek afgelas

Opgrawings by Blythedale-strand in KwaZulu-Natal Foto: GB Jordaan (verskaf aan Maroela Media)

ʼn Soektog na die oorskot van slagoffers van die pedofiel Gert van Rooyen op Blythedale-strand in KwaZulu-Natal is Donderdag afgelas.

Maroela Media het vroeër berig Fokus het sowat 15 maande gelede opnuut met ’n ondersoek begin na die meisies wat deur Van Rooyen en Joey Haarhoff ontvoer is en nooit weer gesien is nie.

Alet van Rensburg Wright, uitvoerende regisseur van Fokus, het aan Maroela Media gesê slegs beendere wat aan diere behoort, is gevind.

Die polisie se honde-eenheid was ook op die toneel en twee groot uitgrawers is gebruik.

Van Rensburg Wright het gesê daar is ʼn moontlikheid dat die stormwaterafvoerpyp, waar daar na die meisies se oorskot gesoek is, in duie kan stort. “Die gat is toegemaak, ons is baie teleurgesteld.”

Sy het reeds met die families van die meisies kontak gemaak om hulle te laat weet dat die soektog afgelas is.

“Ons is baie dankbaar dat die polisie ingestem het om te kom kyk en ondersoek in te stel. Ek wens ons het meer tyd en beter toerusting gehad,” het sy bygevoeg.

Fokus saai Sondagaand om 18:00 op SABC2 ’n spesiale program hieroor uit.

“Ek hoop dat iemand ná Sondagaand se program na vore sal kom met verdere inligting,” het Van Rensburg Wright bygevoeg.

Van Rooyen en Haarhoff het tussen 1988 en 1990 meisies ontvoer. In Januarie 1990 is die 16-jarige Joan Booysen ontvoer. Sy kon egter kort daarna uit die paartjie se huis in Pretoria ontsnap waarna sy die polisie op hulle spoor gesit het.

Van Rooyen en Haarhoff het dae later op die vlug geslaan toe hulle die polisie voor hul huis in Capital Park gesien het. Hulle het tot by die Apiesrivierbrug gejaag waar Van Rooyen glo eers vir Haarhoff en toe homself doodgeskiet het.

Vandag, jare later, is daar steeds geen spoor van Tracey-Lee Scott-Crossley, Fiona Harvey, Joan Horn, Anne-Marie Wapenaar, Odette Boucher en Yolanda Wessels, wat almal ook deur Van Rooyen en Haarhoff ontvoer en vermoedelik vermoor is, nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

karen ·

Hou asb op om die families ouers vriende vals hoop dit gee – dis wreed.

w ·

Het di twee kriminele se kinders geen inligting. Wonder maar net

Piet ·

As ek nie verkeerd is nie het Haarhoff se dogter n jaar of 2 terug haar hart in n gesinstydskryf uitgestort. Die polisie het haar dag en nag getreiter omdat sy moontlik iets sou weet. Sy het wanhoping en hardop met God baklei omdat die kruis van haar ma ook haar srtaf geword het. Toe die polisie ophou om haar so te verpes het sy besef hulle het op haar huis ingeluister en haar gesprek met God gehoor. Ek glo as die naasbestaandes iets geweet het sou hulle dit al lankal bekend gemaak het. Dis onregverdig om te spekuleer dat hulle iets moet weet.

Charles Rossouw ·

Dis wreed om nie meer te wil ondersoek en waarheid uiteindelik te weet. Dis wreed om te vergeet van die meisies asof hul nooit bestaan het. Ek haal my hoed af vir die fokus span om na al die jare steeds te probeer.

Sputnik ·

Darem baie, baie vreemd dat die waarheid nog nooit kon uitkom nie! Sekerlik moet daar mense wees wat meer weet.

AL ·

Dit is waar. Ek hoop eerlikwaar dat iemand weer met ñ vars oog na die saak kyk.

karen ·

Liewe Albert, Ek is toevallig deel van een van die familie’s. Weet jy dalk hoe om my oom en tannie vanaand te troos na nog vals “positiewe inligting? Dit eindig soos gewoonlik in hospitaal behandeling agv huil-skok , soos dan nou die geval is. Inderdaad Liewe Albert jy klink vir my na die regte man wat die regte raad het . Laat weet asb?

Albert ·

Ek ken ook van die familie. Mag so iets nooit weer gebeur. Die hartseer is te groot.

Poppie ·

Wonder maar net hoekom hierdie kinders se oorskot nog nooit gevind is nie? Ek het al die Gert van Rooyen se geskiedenis gaan nalees. Sy verbintenis met plekke wat by die seehet my al laat wonder of die oorskot van hierdie kinders nie dalk in die see ingegooi is nie. Ek kry hierdie ouers geweldig jammer en dat enige ouer nooit sal ophou soek na hulle kinders nie.. Want iewers moet daar iemand wees wat iets weet wat gebeur het.

Michael ·

Slim mense het gesê die lyke was begrawe in die fondasie van die steve biko hospitaal in mahlerbe str capital park dieselfde straat waar gert gebly het??

Fires ·

Van Rooyen was uiters slu, ek twyfel of hy die kinders op ‘n strand sou begrawe tensy hy ook sulke swaar masjienerie tot sy beskikking gehad het

martin cilliers ·

van rooyen het toegang tot die verassings lokaal gehad en sy satans dade daar uitgewis. daar was hulp wat hom gehelp het maar hy het verdwyn dit is soos ek die saak onthou.

Cacophony ·

Nou waar is al daai “getuies” wat met die vorige berig “inligting” wou verskaf oor die saak? Verbasend genoeg is die mense nou so stil soos die graf of is die feit dat hulle fop storietjies ontbloot is die rede daarvaar. Daai mense dra by tot die familie se hartseer en onsekerheid

Bangbroek ·

Dalk is daai mense bang… weereens is die soektog gestaak. Dis vir my baie, baie snaaks. Nog deur al die jare…

SARIE VAN HEERDEN ·

Daar is ‘n hele paar meisies wat vermis word en wonder ek darem of Van Rooyen ALMAL sou vermoor het. Miskien is hul verkoop maar nogtans sou ek dink dat wat ookal met die kinders gebeur het, die ouers graag sou wou weet. Al beteken dit ook dat dit aan die lig kom dat die kinders dan wel vermoor is. Die ouers kan dan tot berusting kom.

fritz breitenbach ·

as die poliesie sy lewe ns geskiedenis onder soek kan hulle dalk agter kom waar hy die ligame gebere het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.