Gert van Rooyen-ontvoerings: ‘Net die Here weet …’

Van links bo na regs onder: Tracy-Lee Scott-Crossley (14), Fiona Harvey (11), Joan Horn (12), Odette Boucher (11), Anne-Marie Wapenaar (12) en Yolanda Wessels het tussen 1 Augustus 1988 en 2 November 1989 verdwyn.

Dit is vandag presies twee-en-dertig jaar sedert die pedofiel Gert van Rooyen homself en sy medepligtige, Joey Haarhoff, in 1990 doodgeskiet het, tog lê speurders steeds wakker oor wat van die ses vermiste meisies geword het. Verskeie moontlike deurbrake lei ook telkens tot nuwe teleurstellings vir die families van die vermiste slagoffers.

Van Rooyen en Haarhoff is destyds positief verbind met die verdwyning van Tracy-Lee Scott-Crossley (14), Fiona Harvey (11), Joan Horn (12), Anne-Marie Wapenaar (12), Odette Boucher (11) en Yolanda Wessels (13) tussen 1 Augustus 1988 en 2 November 1989.

Van Rooyen het Haarhoff en toe homself geskiet nadat hulle op vlug geslaan het en die polisie hulle agtervolg het. Dit was enkele dae nadat nóg ʼn slagoffer, Joan Booysen (toe 16 jaar oud), uit hul kloue ontsnap en die polisie in kennis gestel het.

Antwoorde oor wat van die meisies geword het, het egter saam met Van Rooyen en Haarhoff by die Apiesrivierbrug in Pretoria gesterf.

Ondersoeke duur voort

Don Chandler, ʼn oudspeurder wat destyds by die ondersoek na die meisies se verdwyning betrokke was, sê die saak is deel van sy bloed. Chandler is deesdae ʼn sakeman in KwaZulu-Natal, maar ondersoek die saak al jare lank op sy eie koste en tyd. Hy doen dit in samewerking met ʼn groep van sowat agt oudpolisiebeamptes en lede van die publiek.

“Ek het lank op hierdie saak gewerk. Ek was daar die aand toe Van Rooyen homself en Haarhoff doodgeskiet het. Ek het oor die jare ook kontak met baie van die familielede behou.”

Chandler sê hulle het veral oor die afgelope drie jaar baie nuwe inligting bekom, wat volgens hom tot ʼn deurbraak in die saak kan lei.

“Ek het al verskeie kere met die Valke vergaderings belê en in aanraking probeer kom. Ek sukkel egter om samewerking en terugvoer van hulle te kry.”

Hy meen daar is baie ongerymdhede wat die ondersoek destyds belemmer het en dat dit steeds wil voorkom of daar ʼn wil ontbreek om die saak op te los.

“Ek is bereid om die Valke in enige iets met dié ondersoek by te staan – sonder betaling,” sê Chandler, wat in 1993 ná ʼn besering sy uniform opgehang het.

Ao. Veronica Banks van die Valke sê die sake van die vermiste meisies is steeds “oop”.

Gert van Rooyen en Joey Haarhoff.

“Die publiek kontak my gereeld met moontlike leidrade. Alle leidrade word opgevolg, ongeag hoe gering die inligting is. Die ondersoek sal voortduur totdat die meisies gevind word.

“Of mense nou ware of valse inligting deurgee, volg ek steeds op. ʼn Mens weet nooit waarheen dit kan lei nie. Ons het tans leidrade wat ons opvolg.”

Sy het nie kommentaar gelewer op Maroela Media se vraag oor of sy kennis dra van die inligting wat Chandler en sy span glo ingevorder het nie.

Sy het wel gesê dat die publiek die Valke se “oë en ore is”.

“As hulle inligting het, moet hulle vry voel om my te kontak.

“Verder moet ouers altyd weet waar hulle kinders is en wat hulle doen. Kinders is altyd kwesbaar, wat hulle sagte teikens maak.”

‘Ons sal altyd wonder’

ʼn Familielid van Yolanda, wat Haarhoff se susterskind was, sê hulle sal altyd wonder wat van haar en die ander meisies geword het, maak nie saak hoeveel jare verbygaan nie.

Sy het Donderdag op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat.

“Yolanda het drie susters, en tot vandag toe is dit vir hulle baie swaar. Hulle praat nog dikwels oor haar en wonder steeds oor haar. Ons almal doen. Dit bly vir ons as familie ʼn baie moeilike ding.”

Soos die geval met van die ander slagoffers, is Yolanda se ouers intussen oorlede sonder om ooit te weet wat van hul kind geword het.

Dié familie moes boonop met die emosionele las saamleef dat Yolanda deur haar eie tannie ontvoer is.

“Yolanda se ma moes voor haar dood sowat ses jaar gelede vrede daarmee maak [dat haar suster by haar kind se verdwyning betrokke was].”

Don Chandler, ʼn oudspeurder wat destyds by die ondersoek na die meisies se verdwyning betrokke was, ondersoek die saak al jare op sy eie tyd en onkoste. (Foto: Verskaf / Don Chandler)

Die familielid sê sy glo nie dat die vermiste kinders, wat vandag al volwassenes in hulle 40’s sou wees, nog leef nie.

Sy twyfel ook of die saak ooit werklik opgelos sal word.

“Ek dink as die polisie destyds gedoen het wat vir hulle gesê was, sou hulle die saak opgelos het. Daar het nou te veel tyd verloop.”

‘Nuwe leidrade’ veroorsaak ook trauma

Die familielid sê voorts dat al die nuwe leidrade en bewerings wat oor die afgelope jare gemaak is en eindelik op niks uitloop nie, ook baie traumaties is.

“Dít het beslis ʼn groot impak op die families. Veral as mense beweer hulle weet waar die meisies is. Net die Here weet waar hulle is.

“As ons geloof nie so sterk was nie, weet ek werklik nie hoe ons deur alles sou kom nie.”

‘Waarheid lankal uit’

Danie Krügel, ’n voormalige luitenant-kolonel in die polisie, sê wat hom betref het die waarheid lankal uitgekom.

Krügel het destyds groot opslae gemaak met sy aankondiging dat hy ’n toestel ontwikkel het wat vermiste mense deur ’n

Danie Krügel, ’n voormalige luitenant-kolonel in die polisie, by sy toestel wat vermiste mense met ’n haarmonster kan opspoor. (Foto: Verskaf)

haarmonster kan opspoor.

In 2007 het hy ʼn terrein in Pretoria uitgewys nadat hy haarmonsters van die slagoffers verkry het. Dié terrein was sowat 2 km van Van Rooyen se huis in Capital Park in Pretoria geleë.

ʼn Groot aantal gebreekte bene is opgegrawe en DNS-toetse het maande later gewys dat ses van die bene wat gevind is, wel van menslike oorsprong was. Maroela Media het ook die laboratoriumverslag wat bevestig dat daar wel menslike beendere gevind is, onder oë gehad.

Dit kon egter nie aan enige van die vermiste meisies verbind word nie omdat die DNS erg beskadig was deur beheerde brande in die gebied. Die polisie het geen verdere opgrawings op dié terrein gedoen nie en die ondersoek het daarna doodgeloop.

Krügel glo egter dat die beendere wat gevind is, wel aan die vermiste kinders behoort. Hy benadruk dat hy onder eed sal kan wys hoe hierdie toestel werk en bereid sal wees om te getuig indien die saak uiteindelik voor ’n hof gedaag word. Daar is intussen ook patentreg aan sy uitvinding in die VSA en 18 ander lande toegeken.

“Ek het die amptelike DNS-verslae en ek werk op wetenskaplike bewyse, nie saam met waarsieners nie.”

Dit bly iemand se kind 

Krügel sê voorts ʼn mens moet altyd onthou dat Van Rooyen se vermeende slagoffers mense se kinders was.

“’n Mens praat so maklik van ‘die Van Rooyen-sage’, maar vergeet soms dat elkeen van die slagoffers iemand se kind is – en daardie kind is weg.

“Hierdie kinders moes gespeel het, opgegroei het, getrou en self kinders gehad het, maar hul lewe is van hulle ontneem deur persone met gruwelike agendas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Casper

Die bene wat gevind is was van menslike oorsprong maar was dit die van die vermiste kinders,nee want dan was die saak opgelos.Wie is nog so naïef om te glo daai kinders leef nog.