Gerugte op sosiale media dat die drankverbod glo weer ingestel gaan word, is vals. Só het Mlungisi Mtshali, die woordvoerder van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Dinsdag bevestig.
ʼn Herrie het Maandag losgebars na talle stemboodskappe die ronde op sosialemediaplatforms begin doen het oor die drankverbod wat vandeesweek weer in werking gestel gaan word.
Mtshali sê die kabinet het nog nie bymekaar gekom om die regulasies rakende die koop en verkoop van alkohol te bespreek nie. “Daar is geen besluit oor die alkoholverbod geneem nie, want dit is nog nie eers bespreek nie,” bevestig Mtshali.
Dean Macpherson, DA-LP en skaduminister van handel en nywerheid, het ook aan Maroela Media bevestig dat die boodskappe wat versprei word, fopnuus is.
Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Drankhandelsname (Salba) het Maandagaand in ʼn verklaring gesê hulle neem kennis van die gerugte wat versprei word en het ook beaam dat drankverkope nie die week opgeskort gaan word nie.
“Ons het nog geen inligting van die regering ontvang wat daarop dui dat die huidige vlak 3-regulasies rakende die verkoop van alkohol hersien gaan word nie,” bevestig Salba.
Salba sê die fopnuus wat versprei word, kan tot paniekaankope van alkohol lei, wat die handhawing van die veiligheidsmaatreëls asook veilige afstand by drankwinkels kan ondermyn. “Ons doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om hulle van die verspreiding van fopnuus te weerhou. Dit is ʼn misdaad en veroorsaak net onnodige paniek,” lui die verklaring.
Salba sê sedert die hervatting van drankverkope met die instel van vlak 3 van afsondering, het die drankbedryf voortgegaan om nou saam met die regering te werk om die veilige en wettige heropening van die sektor te verseker. Dit het ingesluit dat die bedryf hom tot sekere veiligheidsmaatreëls verbind om veilige en verantwoordelike drankverkope te verseker om sodoende die verspreiding van Covid-19 te bekamp.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
17 Kommentare
En Tops het al die pad gelag . Hahaha!
Ek het weer gehoor die fyngemaalde, gedroogde lewer van ANC en EFF kaders genees COVID-19. Moet waar wees want Einstein, die ontdekker van die gloeilamp, het dit gister op die internet geskryf.
Ek vertrou geen komunis nie met hulle is enige iets moontlik
Ek het dit vir die waarheid van ‘n baie intelligente persoon gekry. Selfs toe ek hom daarop wys dat dit doodeenvoudig snert is weens die waarskynlikheid dat NDZ beslis nie die kans sal laat verbygaan om dit persoonlik aan te kondig nie, was hy steeds skepties. Mense val vir enige tabak (jammer nonsies).
Natuurlik gaan hulle nie nou die drank net stop nie, die regering kry mos nou weer geld in hulle sakke.