Gerugte oor nog ʼn drankverbod wil nie gaan lê

Talle Suid-Afrikaners het Dinsdag inderhaas paniekaankope by drankwinkels gedoen na ‘n gerug dat die verbod op alkoholverkope weer heringestel gaan word. (Foto: Maroela Media)

Gerugte oor ʼn hernieude drankverbod wil net nie gaan lê nie, ondanks sterk ontkenning van die regering.

Die DA voer aan dat daar ʼn sterk drukgroep is van ministers wat so gou moontlik weer ʼn verbod op alkohol wil instel.

Volgens Dean Macpherson, die DA se woordvoerder oor handel, nywerheid en mededinging, sluit die groep ministers onder meer in Bheki Cele, minister van polisie, Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Fikile Mbalula, minister van vervoer, en Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake.

“Minister Mbalula het die afgelope paar dae voor in die koor gestaan en gesê alkoholwetgewing moet hersien word ná ʼn aantal ongelukke wat glo met drankverbruik verband gehou het. Hy het ook gesê dat ‘mense buite beheer is wat alkohol betref’. Hierdie ongelukke en lewensverlies is tragies, maar moet nie gebruik word om ʼn politieke ideologie te dryf soos ons vermoed die geval is nie.”

Macpherson het ook verwys na die Gautengse departement van gesondheid wat beweer het dat hospitale onder druk is weens alkoholverwante trauma ondanks die vermindering van Covid-19-opnames. “Dit is egter ʼn vals narratief, want selfs in die beste omstandighede het hospitale in ANC-bestuurde provinsies nie beddens nie weens chroniese onderbelegging en korrupsie.”

Cele is nog een van die ministers wat onlangs vir die soveelste keer sy stem dik gemaak het oor alkoholverbruik.

“Enige poging deur die ANC om nog ʼn alkoholverbod te gebruik as ʼn stormram om ʼn politieke ideologie te dryf, sal sterk deur die DA teengestaan word.”

Pres. Cyril Ramaphosa, (Foto: GCIS)

Volgens Macpherson het daar reeds te veel werkgeleenthede verlore gegaan weens die ANC se binnegevegte oor alkohol en pres. Cyril Ramaphosa se onwilligheid om op te staan teen sy teenstanders.

“Dit is dus noodsaaklik dat Ramaphosa Suid-Afrikaners gerusstel dat hy nie sal toegee aan enige politieke druk deur die ANC of die ministers in sy kabinet rakende nog ʼn alkoholverbod nie. Enigiets anders sal net daartoe lei dat bespiegelinge nie weerlê kan word nie.”

Talle Suid-Afrikaners het vroeër vandeesweek na drankwinkels gestroom nadat fopnuusberigte oor ʼn hernieude alkoholverbod soos ʼn veldbrand versprei het.

Jackson Mthembu, minister in die presidensie, het egter Donderdag gesê besprekings oor ʼn hernieude drankverbod tydens die afsonderingstydperk was nie eens op die nasionale koronavirusbevelraad óf die kabinet se agenda nie.

“As daar nou iets is wat ʼn klassieke voorbeeld van fopnuus is, dan was dit hierdie een.

“Daar was beslis nie so ʼn bespreking nie en daar is tans ook geen bespreking daaroor deur die kabinet of die bevelsraad nie,” het Mthembu volgehou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

koos10 ·

Dis ding is ANC, niemand vertrou julle meer nie ‘n duidelike bewys dat julle nie kan regeer nie.

annie ·

… hmmm… en dit is wat gebeur as sulke speletjies gespeel word. Miskien wil die slim dokter die tenthospitale uitbou tot voltydse stouterdsdorpe en dan kan die antie haar reeks laphoedjies gereeld Donderdagaande vir ons opsit en afhaal, opsit en afhaal… en die kelders raak net voller. Hoekom loop drankwinkels nou skielik oor van vreemde duur fancy sterk drank?

Snowball ·

Vigs is ook buite beheer, wat beplan hulle om te verban in dié verband?
As ek na die parlement se middellywe kyk moes kos al lankal net 4 dae ‘n week verkoop word.

Anoniem ·

Dalk moet ons ‘n verbod op die verkope van kos en drank op die parlementslede instel.

Persheks Adri ·

Die klomp lieg so hul glo hulself regtig waar! Ek is ‘n NIE drinker, maar als gaan oor magsmisbruik en kopdoek en haar kinders wat lekker geld gemaak het op die swart mark en word steeds nie vervolg nie!!!

Wanneer word sy en haar kinders vervolg? Geen woord oor dit nie so kom kom ons wag vir die oranje pakkies ek sal dit koop ook!

Werner ·

Dink ons is besig of het al klaar n staatsgreep beleef . Glo nie daar gaan meer kruisies getrek word nie . Demokrasie het nog en sal ook nie in Afrika werk nie . Dit werk ook nie hier nie .Daarvan kan die korupsie en die selektiewe regstelsel getuig . Nog net die politici probeer ons daarvan oortuig anders sit hulle ook sonder werk. En ook hoe hulle hierdie inperking hanteer dui op diktatorskap

Okmardom ·

Dit help om gesigsmaskers te dra in die parlement, dan kan niemand die verleentheid op hulle gesigte sien nie…maggies maar hulle “well fed!!”

Jdb ·

Mense sou nie so reageer as Ramaruggraatloos net eerlik was tot nou toe nie. Hy en Kopdoek het mos die gewoonte ontwikkel om snags beperkinge uit te vaardig wat dan teen middernag in werking tree. Voor die vorige nagtelik uitgevaardigde drankverbod het die regering ook ontken dat ‘n verbod weer ingestel sou word.
Mens word net een maal met so ‘n slap riem gevang.
Wat maak dit saak dat mense gaan drank koop het? WAT. MAAK. DIT. SAAK?
Niemand forseer enigiemand om al hul drank in een dag, een week of een maand op te drink nie? Drank het mos ‘n baie lang raklewe!
Tree liewer oor die algemeen sterker op teen dronklappe.

Martie Smartie ·

Drankhandelaars wat geld maak so gou as wat hulle kan … he he he, slim

Ria ·

Ek stem vir geen alkohol vir bestuurders maar wraggies as mense hulle wil dood drink, laat hulle dit doen. Vir die res van ons wil mens darem jou eie keuse kan maak of jy iets wil neem of nie. Mense met messteke moet laaste in die ry staan vir behandeling.

Jaco ·

Die ANC sê ook alle mense is gelyk en apartheid is weg, maar in praktyk keer hulle met regstellende aksie en BEE dat wit mense werk kry. Daar was tydens inperking aanvanklik selfs pogings om te keer dat wit organisasies organisasies kospakkies uitdeel en pogings om te keer dat arm wit mense kospakkies kry.
So ja, sê die een mooi ding en doen die teenoorgestelde lelike ding. Dan verstaan ek waarom mense gerugte glo dat die drankverbod gaan terugkom.

Nie Verbaas ·

As mens kyk na ongeluk statistiek is alkohol nie die groot oorsaak nie. Volgens syfers is ongeveer 10% van ongelukke alkohol verband. Hierdie is maar net nog n poging om te wys wie is baas. Dit lei die aandag af van die werklike probleme wat onbevoegde ANC nie kan regstel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.