Gesamentlike sitting oor kragkrisis versoek

Argieffoto: GCIS

Die Demokratiese Alliansie het die speaker van die nasionale vergadering en voorsitter van die nasionale raad van provinsies genader om ʼn gesamentlike sitting van die twee huise van die parlement te reël sodat die land se voortgesette elektrisiteitskrisis bespreek kan word.

“Eskom se onvermoë om betroubare kragvoorsiening te verseker het die land meer gereeld aan beurtkrag onderwerp as die afgelope 14 jaar,” sê Natasha Mazzone, hoofsweep van die DA. “Die kragkrisis is tans die grootste bedreiging vir mense se lewensbestaan en ons ekonomie. Met miljoene Suid-Afrikaners wat hul werk verloor het weens die Covid-19-pandemie kan dinge nie maar net normaalweg voortgaan wanneer beurtkrag die land glo R500 miljoen per fase per dag kos nie.”

Ondanks die erns van die krisis volg pres. Cyril Ramaphosa en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, egter ʼn passiewe benadering om die land se elektrisiteitskrisis op te los, voeg Mazzone by. “Dit terwyl die minister van energie en minerale hulpbronne, Gwede Mantashe, in die publiek die president weerspreek het oor die land se beleid oor hernubare energie.”

Dit is dus noodsaaklik dat die parlement leierskap wys met ʼn samehangende reaksie op die elektrisiteitskrisis en die grondwetlike plig van die wetgewer om die uitvoerende raad dringend aanspreeklik te hou, sê Mazzone.

Ghaleb Cachalia, die DA se skaduminister oor openbare ondernemings, meen die land se kragkrisis kan baie maklik opgelos word. “Maak die netwerk oop vir onafhanklike kragprodusente en laat privaat kragprodusente die gaping vul. Daar kan nie meer ʼn verskoning of rede van die ANC-regering wees om dié noodsaaklike stap te vermy nie. Dit moet onmiddellik gedoen word. Ons doen ʼn beroep op pres. Ramaphosa om dringend en direk op te tree om die malligheid vir altyd te stop deur die netwerk oop te maak en Eskom se monopolie te breek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

casper ·

Nog vergatterings en Koek en Tee — Geen aksie nie maar derduisende vir die verversings !!

Andrew ·

Nee wat. Ek gaan van grid af sodra ek kan. Klaar met bee en nationale krag. N logiese som. Eskom kan in 2021 nie krag aan almal voorsien. Met immigrasie en geboorte statestieke wat dit is, hoeveel krag gaan benodig word in 2025,2030? Hoelank het medupi kysile gevat om gebou te word en hulle voeldoen reeds nie, waar is die ander nuwe krag stasie vir die aanwas 10jaar van nou?

KB ·

Kry net rigting Suid-Afrika/Eskom…julle is soos ‘n passer: Al óm die punt!

Shakespeare ·

Om positiewe groei en opbouing van ons land te implimenteer sit nie in die ANC/EFF se broek nie want hulle is net eenvoudig onbevoeg en korrup.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Wat het die palement sedert 1994 bereik om namens alle Suid-Afrikaners die Eskom probleem hok te slaan? Wat my betref: ek het nie vertroue in die parlement nie. Waarom sou ek vertroue hê?

Jacobus ·

Bevestig net weer dat selfs ministers in klankdigte silo’s funksioneer. Mantashe probeer ‘n punt bewys – reëlreg teen besluite en landsbelang. Die Pres moet nou sy outoriteit bewys en erg snoei onder vermorsers.
Glo dat Mr De Ruyter onder haglike omstandighede sy werk doen en baie moeilike besluite moēt neem EN met die pres se ondersteuning. So nie – duisternis.

Waarnemer ·

Ons gaan n nuwe krag voorsiener kry in 2022 en raai wie gaan in beheer wees?Die top 3 in die regering….

Janice ·

Hoekom klim die DA nou ook op die bandwagon? Toe hulle moes baklei vir die man in die straat (terwyl die ANC die heeltyd onbevoegde en korrupte raadslede en direkteure aangestel het wat Eskom toe leeggetap het en nog steeds probeer) het hulle bitter min gedoen, behalwe tantrum gooi en nog steeds doen hulle niks daadwerklik om te help nie.

Mieke ·

‘n Spesiale eenheid sal seker opgestel word om te besluit wié op daardie gesamentlike sitting teenwoordig mag wees… ens. ens.!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.