Gesiene boer se dood ruk gemeenskap

Braam Riekert saam met Erasmus en Riekert jr. se seun, Braam (Foto: Facebook)

Braam Riekert saam met Erasmus en Riekert jr. se seun, Braam (Foto: Facebook)

Die Afrikaanse sangeres en televisie-aanbieder Sorina Erasmus sê haar gesin is “in diepe rou gedompel” ná die afsterwe van haar skoonpa, Braam Riekert.

Erasmus het Maandag hartroerend oor die afsterwe van haar man, ook Braam Riekert, se pa in ʼn Facebook-inskrywing geskryf.

Riekert sr., ʼn gesiene boer van Roedtan in Limpopo, is Maandag in die ouderdom van 70 weens hartversaking oorlede.

Hy is in 1946 op sy plaas, Conterberg, gebore en het tot sy afsterwe ʼn gemengde boerdery, waaronder sonneblomme, voëlsaad en beeste, suksesvol bestuur. Hy was ook meer as tien jaar voorsitter van die boerevereniging in die omgewing.

“Die engele het my skoonpa kom haal en hy sit aan die voete van die Koning. Ons verlies is die hemele se wins. Ons aardse mense groet ʼn groot, goeie en gesiene boer wat diep spore in baie mense se harte getrap het met sy harde stem, sterk handdruk en sagte hart,” het Sorina in die inskrywing gesê.

Erasmus sê Riekert se nalatenskap sal haar altyd bybly. “Ek groet jou, pa Braam. Dankie dat jy ʼn pa duisend was vir my man, Braam, en dat jy hom grootgemaak het met die beste waardes. Ek weet dat my man ons seuntjie met dieselfde waardes sal grootmaak sodat hy ook ʼn man van God en ʼn mens van inbors sal wees.”

Só het die sangeres en haar man roerend oor Riekert in ʼn ode geskryf:

“Springbokvlakte. Bosveld-wêreld. Boere-kontrei. ʼn Stuk droë dorre aarde wat dankbaar elke druppel genadewater van Bo opsuig om die gesaaides te seën met oopmond laggende sonneblomme. Boerwees hiér sit nie in elke man se murg nie. Dit verg ʼn sterk boer met geloof soos ʼn berg en mannemoed soos ʼn span osse. ʼn Man soos Braam Riekert, wat midde-in die droogte steeds sy aansteeklike sin vir humor laat geld. Een met innerlike krag, want Roedtan se rooi grond is sinoniem aan Braam Riekert.

“Toe val die reën, mildelik en onophoudelik op sy lande. Reën van seën en waaroor hy sou bokspring met swak knieë en al. Reën waarvoor hy só lankal bid, maar waarvan hy op sy sterfbed nooit bewus was nie. Vandag is dié water trane wat sy plaas benat soos die engele treur oor die groot Bosveld-boom wat helaas geval het en sy lêplek van rus gevind het. Man, Pa, Oupa, vriend, boer: Jou turfgrond sal altyd jou naam hoog dra en jou mense sal altyd jou lewe as ereplek in hulle midde hou. Ons lief jou soos die windpomp die wind en die boer die reën op sy lande. Rus saggies, tot ons weer ontmoet daar waar die sonneblom se kop nederig voor die groot Boer, ons God, buig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

rita ·

Sjoe..dit het trane in my oe gelos. God se gee ere aan jou vader en moeder..julle het geskitter vir julle pa.

Alta Schutte ·

My innige simpatie aan die familie…Net die feit dat julle so mooi oor hom skryf, is al ‘n bewys van sy mooi nalatenskap! Mag God julle vertroosting wees!

Sonet ·

Net dankbaar die oom is nie in n plaaamoord vermoor nie….

Johan van der Berg ·

Ek check jou my tjomma,so mooi dankbaar en nederig. Sal hom weer ontmoet. Jesus liefde

Johan Pretorius ·

Rus in vrede OOM BRAAM. U verhaal laat my baie dink aan my oupa. Hy was baie deiselfde mens gewees n boer in die Leeudoringstad omgewing. Ek salueer u. U is nou op die wonderlikste plek ooit. En mag GOD u famillie seen en beskerm teen die bose geeste wat in die nag op die plaas rond sluip.

Skerp spioen ·

Dit behoort elkeen van ons se strewe te wees om eendag so van gepraat te word.
Goeie mens. Goeie lewe. Goeie nuus.

ANDRE ·

En so word ons groot mense van die vlakte al minder . Sterkte Braam , Annie en Sorina , ons dink aan julle . Andre Smit Potgietersrus.

Mike de Beer ·

..” Stil broers daar gaan ‘n man verby..” Hulde aan ‘n groot man.

lettie ·

skoon trane in my oe gekry oor die pragtige ode, en ek ken nie eens die man nie! Watter raakvat woorde is dit nie vir elke boer in hierdie land nie! God seen julle.

Tersia Swanepoel ·

Dis sò mooi geskryf! Wat ‘n besonderse Oom moes hy nie gewees het nie! Sterkte aan die familie!

Hannelie ·

Sjoe….dis so mooi ode aan die oom. Rus in Vrede oom Braam. Sterkte aan sy familie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.