Gesiene navorser oor Anglo-Boereoorlog sterf

Elria Wessels (Foto: Verskaf)

Kollegas van Elria Wessels, een van die land se topnavorsers oor die Anglo-Boereoorlog, is in rou gedompel ná haar dood.

Wessels (72) is verlede Vrydag in ʼn aftreeoord in Wolmaransstad, Noordwes, in haar slaap weens vermoedelik natuurlike oorsake dood.

Wessels se kollegas sê haar dood laat ’n enorme leemte in die geskiedenisgemeenskap.

Wessels is in Dundee, Natal, gebore en het ná matriek aan die Universiteit van die Vrystaat haar meestersgraad verwerf, waarna sy deel geword het van die Natalse onderwysprofessie.

Op 1 April 1979 is sy as senior museumgeesteswetenskaplike navorser by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke aangestel. Dié museum is by die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein gesetel.

Sy het op 3 Maart 2005, ná 26 jaar diens by die museum, afgetree.

Dr. Johan van Zÿl, senior vakkundige van dié museum, sê haar bydrae tot geskiedkundige erfenis is van onskatbare waarde.

“Elria was deel van die ‘goue jare’ in die Suid-Afrikaanse museumbedryf met Suid-Afrikaanse museums wat veral gedurende haar diensjare gedy het. Haar persoonlike prestasies sluit onder meer in haar betrokkenheid by die 100-jarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog tussen 1999 en 2002, asook die saamstel van ’n navorsingsdatabasis oor krygsgevangenes en duisende navrae oor die oorlog wat sy gedurende haar dienstydperk hanteer het,” het Van Zÿl gesê.

“In die museum se liasseerstelsels verskyn etlike briewe van dank van die publiek, asook internasionale persoonlikhede soos die burgemeester van Londen en sy gade wat haar vir haar gasvryheid en hulp tydens besoeke aan die museum bedank het. Dankie Elria, jou monumente leef voort.”

Wessels was ná haar aftrede vir ’n verdere sewe jaar op kontrakbasis by die museum werksaam.

Verskeie boeke het in haar leeftyd uit haar pen verskyn, onder meer Kwinkslag: Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902, Veldslae, bannelinge in die vreemde, Boerespyse: Resepte en kospraatjies rondom die Anglo-Boereoorlog en Woman, Thy Name is Valour: An Overview of the Role of Afrikaner and Uitlander Women and Children inside and outside Anglo Boer War Concentration Camps, 1899-1902.

Jaco Cilliers, die hoof van Erfenisbewaring by die Erfenisstigting, sê Wessels was ’n enorme gees in erfenis- en geskiedenisbewaring.

“Die Erfenisstigting bewaar self verskeie artefakte uit die Anglo-Boereoorlog en om so ’n navorser te verloor laat ’n enorme leemte in die hele geskiedenisgemeenskap. Ons medelye met haar familie en vriende, sy sal baie gemis word,” sê Cilliers.

Wessels se roudiens vind Vrydag om 11:00 in die Hervormde kerk op Wolmaransstad plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Shakespeare ·

Hartseer, maar sy is darem 2 genade jare gegun. Sterkte aan die wat agterbly.

Papsak ·

Ja so jammer laat sulke mense moet sterf maar sterkte dankie dit is normaal en nie weer covid nie

Theuns ·

Baie jammer oor die groot verlies. Diegene wat so betrokke is by die OORLOG het soms hlaf ongesines ne ongewaardeer tmasiewe bydraes gelewer tot die ware geskiedenis. Dankie aan ‘n groot Gees!

Transvaalse Boertjie ·

Ek is dankbaar dat sy gedoen het wat sy gedoen het, nou moet my generasie diè jeug begin om die geskiedenis van die Boerevolk te beskerm, ontdek en gedenk!

Ons moet seker maak dat ons die mense wys wat dit beteken om Boer te wees. As die jeug dit nie doen nie dan gaan die geskiedenis verlore en dan gaan mense nie weet dat daar ‘n verskil is tussen Boer en Afrikaner nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.