Gesin bekommerd oor Pierre Korkie se gesondheid

Yolande Korkie Foto: Sapa stringer

Yolande Korkie Foto: Sapa stringer

Pierre Korkie, die Suid-Afrikaner wat in Jemen ontvoer is, se familie is baie bekommerd oor sy gesondheid, aangesien hulle sedert Januarie nog nie weer enige inligting oor hom ontvang het nie.

“Sy gesondheid is ‘n hoë risiko, en daar was nog geen nuwe inligting sedert Yolande [sy vrou] se vrylating in Januarie nie,” het Michael Venter, ‘n woordvoerder van die gesin, Donderdag in ‘n verklaring gesê. “Die familie is versigtig optimisties oor die nuwe ontwikkeling van die ontvoerders wat met ‘n stamleier vergader. Hulle is dankbaar dat dit lyk of daar ‘n bereidwilligheid is om voort te gaan met onderhandelings oor Pierre se vrylating.”

Die Gift of the Givers het Dinsdag gesê dat die Al-Kaïda-militante, wat Korkie in Jemen aanhou, steeds die losprys eis vir sy vrylating. “Ons het Maandag terugvoer ontvang,” het Imtiaz Sooliman, hoof van die stigting, in ‘n verklaring gesê. “Al-Kaïda soek steeds die losprysgeld. Hulle kan nie uitsonderings maak vir ‘n Suid-Afrikaner nie, aangesien hulle dan uitsonderings moet maak vir die ander drie persone van verskillende nasionaliteite wat hulle ook in aanhouding het.”

Sooliman het gesê dit is nie duidelik of die oorspronklike losprysbedrag van R32.5 miljoen onderhandelbaar is nie.

Korkie en Yolande is in Mei 2013 in Taiz deur die militante ontvoer. Yolande is op 10 Januarie vrygelaat en sy het op 13 Januarie na Suid-Afrika teruggekeer.

Stamleiers het gesê Korkie leef, maar sy gesondheid is baie swak. “Hulle het selfs gesê Pierre is doof en hulle moet skriftelik met hom kommunikeer,” het Sooliman gesê.

Venter sê Yolande het bevestig dat die Suid-Afrikaanse regering dit duidelik gemaak het dat hulle nie ‘n losprys kan betaal vir ontvoerde burgers nie, en geen geld is aan die Gift of the Givers oorhandig vir Korkie se vrylating nie.

Die losprys wat geëis word is meer as wat die familie kan bekostig. Yolande het ‘n beroep gedoen op enigiemand wat moontlik ‘n bydrae kan lewer, hoe klein dit ook al mag wees, om dit asseblief te doen. -SAPA

Lees alles oor Pierre Korkie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.