Gesin boos oor behandeling van gestremde

Frans en Estelle Eloff. Foto: Verskaf

Frans en Estelle Eloff. Foto: Verskaf

ʼn Kaapstadse vrou het haar kommer uitgespreek oor groot maatskappye wat volgens haar gestremdes uitbuit ter wille van finansiële gewin nadat ʼn opsporingstelsel aan haar verstandelik gestremde swaer verkoop is, hoewel hy nie verstaan het wat die produk behels nie.

Michelle Geere het aan Maroela Media vertel dat haar swaer, Frans Eloff (52), serebraal gestremd is. Hy woon in Smithfield in die Vrystaat saam met sy vrou, Estelle, wat aan Downsindroom ly. Hoewel die egpaar alleen woon, hou Estelle en Michelle se pa, wat naby hulle woon, ʼn wakende oog oor hulle, kook vir hulle kos en bestuur hul geldsake.

Geere vertel dat Frans en Estelle se enigste inkomste ʼn staatstoelaag van R1 500 per maand is. Hulle gebruik dit om kos te koop en ander basiese lewenskoste te dek. Die familie het in Augustus agtergekom dat daar maandeliks ʼn bedrag vir ʼn Tracker-opsporingstoestel uit Frans se bankrekening onttrek word. By navraag het Frans erken dat hy ʼn Tracker-opsporingstoestel vir sy motor gekoop het. Die motor is tans nie meer in werkende toestand nie en staan nou net ongebruik buite Frans se huis.

“Ek kan maklik glo dat Frans vir Tracker gebel het en vir die toestel gevra het. Hy en Estelle blaai gereeld by die huis deur tydskrifte en dan bel hulle sommer enige nommer daarin. Hulle kan soms so ʼn bietjie stout wees op dié manier,” het Geere gesê.

Geere het Tracker genader en versoek dat die opname van die gesprek tussen die Tracker-konsultant en Frans aan haar gestuur word. Sy het ook versoek dat hulle die kontrak onmiddellik staak en die reeds betaalde premies terugbetaal.

Geere sê sy was egter woedend toe sy na die gesprek tussen Frans en die Tracker-konsultant luister. Frans het ʼn spraakgebrek weens sy gestremdheid en dit is moeilik om te hoor wat hy sê. “In die gesprek kan jy hoor hoe die konsultant vir Frans lag en in ʼn stadium roep hy sommer van sy kollegas om ook te kom luister. Dit is duidelik vir hom ʼn groot grap,” het Michelle gesê.

“In ʼn stadium sê Frans vir die man dat hy net ʼn staatspensioen van R1 500 per maand kry, maar die konsultant lag so dat hy nie eens hoor wat Frans sê nie. Teen die einde van die gesprek sê Frans vir hom dat hy nooit sy Tracker-kontrak sal kanselleer nie omdat hy so lief is vir sy vrou. Duidelik het hy geen begrip van die produk wat hy pas gekoop het nie.”

Volgens Geere het sy Tracker versoek om die premies terug te betaal op grond daarvan dat Frans nie verstandelik in staat is om sulke besluite vir homself te neem nie en dat dit tydens die oproep duidelik was dat hy geen begrip het wat die produk werklik behels of enigsins die produk kan bekostig nie.

“As jy net R1 500 per maand verdien, is ʼn Tracker-premie vir jou baie geld. Frans en Estelle het daardie geld nodig. Dit is ook ʼn beginselsaak. Tracker moet dit terugbetaal aangesien hulle nooit die situasie so moes uitbuit om die toestel aan hom te verkoop wanneer hulle duidelik kan hoor dat hy nie verstaan wat aangaan nie,” het sy gesê.

Geere het gesê Tracker het ingestem om Frans se kontrak te kanselleer, maar aanvanklik geweier om die premies wat hy reeds betaal het, terug te betaal. In e-posse wat tussen Geere en ʼn kliëntediens-koördineerder van Tracker gestuur is, en wat Maroela Media onder oë gehad het, hou die koördineerder vol dat Tracker nie verantwoordelik gehou kan word om die premies terug te betaal nie. “Die klagte is deurgegee na die hoogste vlak binne Tracker. Ons het terugvoer gegee in terme van die oplossing van die klagte. Dit is jou wetlike reg om dit verder te voer,” het die koördineerder aan Geere gesê.

Aangesien Tracker nie bereid was om die saak verder te bespreek nie, het Geere haar tot sosiale media gewend om haar situasie te verduidelik. Verskeie mense het daar teen Tracker uitgevaar en geëis dat die maatskappy die premies terugbetaal en die familie om verskoning vra dat hulle konsultant vir ʼn gestremde persoon lag.

Maroela Media het Tracker Donderdagmiddag per e-pos om kommentaar genader. Kort daarna het Tracker met Geere in verbinding getree en bevestig dat hulle die premies van altesaam R2 062 aan Frans sal terugbetaal.

“Ek is dankbaar dat die premies nou terugbetaal gaan word omdat Frans en Estelle die geld werklik nodig het. Dit verander egter niks aan die feit dat Tracker geen maatreëls gereed het om te verseker dat gestremdes en ander weerlose mense nie uitgebuit word nie,” het Geere gesê.

“Hulle moet tog ʼn bewys van inkomste vra om te verseker dat die persoon die premie kan bekostig of ʼn bewys van eienaarskap van ʼn motor? En indien dit duidelik is dat die persoon geen begrip het van die produk wat hy koop nie, moet daar tog ʼn rooi vlaggie by hulle opgaan eerder as wat hulle net deurdruk met die onderhandeling?”

Tracker het by navraag van Maroela Media gesê die kontrak is in September 2014 aan Frans verkoop aangesien Frans die maatskappy genader en die produk versoek het. “Tracker stem in dat mnr. Eloff ʼn spraakgebrek het, maar daar was in geen stadium tydens die oproep enige aanduiding van verstandelike gestremdheid nie aangesien al die vrae begryp en gepas beantwoord is,” het Nandi Canning, kommunikasiebestuurder van Tracker, gesê.

Canning het bygevoeg dat Tracker die kontrak gekanselleer het en al die premies aan Frans terugbetaal het soos versoek. “Ten spyte daarvan dat Tracker geen bewyse het dat mnr Eloff gestremd is nie, het ons die afgelope twee jaar se premies ten volle terugbetaal. Tracker sal seker maak dat alle inbelsentrumpersoneel die nodige opleiding ontvang om oproepe van hierdie aard te hanteer,” het sy gesê.

Canning het nie Maroela Media se vrae beantwoord oor of Tracker enige maatreëls ingestel het om seker te maak dat kliënte wel die produk verstaan of kan bekostig nie.

Geere het die onderstaande video Donderdag, 10 November 2016 op Facebook gedeel om Frans se situasie te verduidelik:

This Tracker South Africa Telemarketer not only laughs at my disabled brother in law but also sells him a Tracker South Africa contract when it is clear that he doesn’t understand what he is buying. Tracker now refuses to pay back their money. Tracker South Africa has a corporate responsibility to not take advantage of disabled people. Help me share this so that Frans can get his money back.

Posted by Michelle Geere on Thursday, November 10, 2016

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

44 Kommentare

Dnl ·

Ai tog… die sakelui kan ook net nie wen nie… as hulle hom die produk geweier het, sou ons weer gelees het oor hoe hulle teen gestremdes diskrimineer

Cherokee ·

Strooi… kommissie is die towerwoord wat geen diskriminasie duld nie.

Agent ·

Hier is n paar kommentare wat so onvanpas is dat ek raai dat dit die betrokke maatskappy se inmenging is. Dit is duidelik oneties.

Cacophony ·

Nou wat het die feit dat hulle hom verneder het te doen met besigheid? NIKS! Dis net swak smaak

Jeanine de Bruyn ·

Die is so verkeerd.
Tracker se konsultant kan hoor hy is nie helder van verstand tydens die oproep nie. Mens kan nie ‘n kontrak sluit wettiglik as die ander party nie helder van verstand is en die bepalings aanvaar. Oneties verby.
Frans kan baie bly wees hy het familie wat so mooi na hom omsien.

Roxane ·

Ok…ek het begrip vir die man se situasie maar ek dink rerig hierdie ding is heeltemal uit porposie geruk! Frans het duidelik geweet waar toe hy homself verbind, hoekom sal hy dan anders vra met hoeveel gaan die premie jaarliks op as hy dan nie weet wat hy koop nie? Die transaksie is al in Nov 2014 ondergaan maar nou eers ‘n bohaai daaroor opskop – klink maar fishy

Ig ·

Roxane dit is n skreiende skande maar dit is hoe die telebemarkers enigiets sal doen ongeag net om die verkoop te doen.Jy klink soos sommiges wat nie kan verstaan dat n gemolesteerde jare loop voordat hulle n klag indien nie.Ek is so bly dat ek al my voertuie se opsporing by Tracker onlangs gekanseleer het .

Coco ·

Ek was ook n konsultant..en n mens vra nie bewys van inkomste as klient in bel en vra vir n produk nie.
En hoe moet n mens deur die foon sien dat n klient n gebrek het..
En baie kere lag mens vir iets of iemand om jou… dalk het hy nie vir klient gelag nie.
En die kontrak is al 2 jaar oud.. hoekom nou skielik agterkom…en Tracker se konsultante word streng opgelei..ek weet.

Lennox ·

Ag asseblief! Voer jy nou die woord namens die maatskappy? En so terloops, dit is proporsie en nie porporsie nie.

Ywerige Koerantlesertjie ·

lg… dit was nie ‘n telebemarker nie – hy het self gebel… Ek verstaan jou punt van iemand wat ys aan eskimo`s probeer verkoop, maar ek sien nie die verbintenis met ‘n gemolesteerde persoon nie, Of jy word geboelie om stil te bly, Of jy besluit self om stil te bly…

Coco;, jy moet selfs ‘n PHD hê om ‘n brood te verkoop deesdae!! Hoe kan jy nou NIE deur die foon hoor ‘n pesoon lei aán ‘n gestremdheid nie…vergeet jy nou weer niemand anders verkoop nooit NIKS nie (Ek weet dit moet die woord IETS wees Lennox, soms word woorde spesifiek verkeerd gespel om die passie of uitdrukking daarin uit te druk)

Lennox; Sy het gesê porposie en nie porporsie nie… moenie iemand korreggeer as jy dit self verkeerd kry nie… balk in jou eie oog en al daai lekker dinge jy weet mos… blame it on spell checker… (ja ek korreggeer jou ook lekker verkeerd al dan nie… en dit is die punt) (.) <– – punt

sunette ·

Ek is bly iemand het vir hul opgestaan. Frans en Estelle kan nie alleen met geld werk nie. Dit is waarom hul steeds ñ mate van toesig het. Well done tannie

Cherokee ·

Die Tracker-sin-vir-humor is hopeloos want daar is absoluut niks om oor te lag in die hele gesprek nie. So wat hulle snaaks genoeg vind om oor te giggel is onverstaanbaar (tensy hulle dalk toe al Roxane se kommentaar gelees het).

T ·

Ek is nie verstandelik gestrem maar het ook al my rieme styf geloop met Tracker

Poppie ·

In elk geval, so verstandelike gestremde persoon is ‘n gevaar op die pad en het duidelik nie gesonde oordeel om besluite te neem. Hoe het hy sy leerling- en bestuurslisensie geslaag of is daar meer agter alles?

Sies egter dat Tracker se verkoopsagent spot met ‘n gebrek!!

CQ ·

Ag nee regtig. nerens hoor mens dat die ou van tracker vir Frans verneder nie. Ou Frans WEET nie eens die man lag vir hom nie!! Nee dit maak dit nie reg nie, maar dis nou regtig nie nuuswaardig nie!
Het julle nog nooit gelag as iemand val of teen n paal vasloop nie?… jy weet jy MAG NIE maar jy kan dit nie help nie!!!!die man het dalk regtig gedink Frans is snaaks (nie lelik nie)

skorra ·

CQ dit klink werklik nie of ou ‘gherraatsh’ groot genoeg is om blatante vernedering raak te sien nie… Eina!

Ou Rubbish ·

Skaam julle morsdood Tracker. As Maroela Media julle nie gekontak het nie sou julle die geld gehou het.

ada ·

Hierdie konsultant moet afgedank word. Wat n ongenaakbare persoon.Kan nie suiwer Afrikaans praat nie en het die klant se wenswaardigheid aangetas. Geen integriteit of moraliteit nie. Weet nie of die man van Tracker en sy medepligtige daardie twee woorde verstaan nie. Dank hulle af.

Sarel Strydom ·

Ek .verbaas my werklik vir hierdie mense wat nog party trek vir die Televerkoper en vir Tracker. Dit is hoe daar teen gestremdes gediskrimineer en hulle uitgebuit word.

Marius ·

Hoekom moet mense hulle eers tot sosiale media wend voordat hulle so eenvoudige probleem uitsorteer. Dit maak my sommer boos. Hulle is net geldgierig.

Dorothy de Wit ·

Ek hoop van harte dat Tracker vas gevat gaan word!! Ek stem dat die mense wat gelag het, afgedank moet word. Swak steyl!

Lance ·

Dis regtig n skande, ek kanseleer sommer my kontrak ook …dis nie eers so baie geld nie en hulle weet wat die situasie is en dan maak hulle SO ? ….dis uiters wreed en ongevoelig en n damn skande van Tracker om so optetree !

Liendempers ·

Ek het net een vraag
In die berig is daar iemand wat kos kook en hulle geldsake bestuur. Die kontrak loop al amper 2 jaar? Hoe word dit dan bestuur. Is dit nie maar net omdat dir voertuig nou staan dat ons nie nou meer wil betaal nie? Ek werk in versekering en sien dit so gereeld. Voertuig word afgeskryf, nou wil ek nie meer my tracker betaal nie………..

Liendempers ·

Net nog n gedagte. Se nou net ou Frans se kar het voete gekry? Sou hulle toe vir tracker gevra het om dit gaan soek? Of nog gehuil het oor die kontrak? Miskien moet Frans se selfion geprogrammeer word met net die nodige nommers, dan kan hulle nie meer stout wees nie. Regtig!

Duidelik ·

Dit is so duidelik hoe oneties tracker opgetree het. Gelukkig verval my kontrak binnekort en hierdie is genoeg om my aan te moedig om na die vele alternatiewe te kyk, ek was inelkgeval nie baie gelukkig met hulle nie.

Liewe heksie ·

Ek en my man het ook n stel afgetrap met tracker ons het ons motor verkoop en o wee daar begin ons moeilikheid dit het ons maande geneem om dit te kanselleer van bakboord na stuurboord en van die een na die ander ons was moedeloos verby gesukkel tot ons hule gedreig het met die media toe kon dit vinnig gekanselleer word

SPEEDGUARD ·

Verseker is daar , die mense gebruik dit nie, juis waarom die tellie “makelaars” met alles weg kom, Goeie wenk as iemand jou skakel en vra hoe dit gaan en jy antwoord -goed en met u self en hul se “Very well and thank you for asking” druk die ROOI knoppie want dit is Hulle !

Daantjie ·

Is daar iemand wat enige nut van Tracker gekry het? Ek het beslis nie!

Sarie ·

Lekker lag Tracker konsultant, jy sal voorwaar die wind van voor kry! Om misbruik te maak van gestremde persone (en lekker te lag), gaan in jou gesig ontplof. Slaap lekker en rustig, jou tyd is min..en dit is geen beloftes – die Here slaap nie

Ywerige Koerantlesertjie ·

Jy kan nie iemand “vervloek” in die Here se naam nie. (Vervloek = om ‘n ander persoon teenspoed toe te wens). Moet nie kwaad met kwaad vergelyk nie en wees goed gesind teenoor ander mense. God sal wel oordeel want dit is SY reg en HY sal vergeld as hy dit so oordeel. Gee jou vyand water om te drink as hy dors is en kos om te eet as hy honger is… Die “jou tyd is min” dreigement is onvanpas want jy kan hom nie namens God veroordeel nie, dit is nie jou reg nie.

Mykie ·

Ek glo regtig die konsultant van Tracker het gedink die “klient” wil bietjie hulle dag ophelder en grappies maak deur die manier wat hy praat. Ek het nog nooit iemand ontmoet wat vir n gestremde moetswilliglik lag nie. Maar ook stem ek dat Tracker moet hulle sokkies optrek. Die egpaar se finansies moet dalk ook maar maandeliks nagegaan word aangesien die familie reeds die omstandighede moet beheer. Well done Tracker dat julle ongeag n ooreenkoms bereid was om die geld terug te gee.

Isabel ·

Ek het ook ‘n stel met mtn af getrap. Vir 2 jaar ‘n nommer wat ek die kontrak v gekanselleer het uit hul eie hernu en maandeliks uit my bankrekening saam met my nuwe kontrak gedebiteer. Stuur nie v jou state nie. Dit kan gebeur dat jy iets betaal en nie besef hulle loop jou in nie. My nou nog nie vergoed nie. Ja ek vind ook die gesprek geensins lagwekkend nie.

Ywerige Koerantlesertjie ·

Ek weet nie van jou af nie maar omdat ek min geldjies het bestudeer ek maar gereeld my bank staat om seker te maak niemand vat onnodig geld nie, en as ek so iets sien laat ek die bank die debiet order omkeer

Skande! ·

As ek so vluglees deur van die komm entaar, is dit duidelik dat die maatskappy hulle trolle hier het. NIKS verskoon die laakbare gedrag van die konsultant en medewerkers nie. Dis ‘n absolute skande!

nonnie ·

Ek stem saam met jou Skande. Sulke gedrag van die konsultant is onaanvaarbaar. Hy dra geen kennis van hoe om met n gestermde persoon te werk nie. Geen deernis. Net uitbuiting en uitbuiting en agteraf lag. Wys jou waarvan die konsultant en sy medepligtige gemaak is.Geen maar geen integriteit nie. Wonder of dit n voorwaarde is om by Tracker te werk.

Ywerige Koerantlesertjie ·

Ek keer nie sy onprofessionele gedrag goed nie, maar dit is die man op die foon en sy maat…
En dit is onvanpas ook… JA…
Maar die man is nie as ‘n maatskaplike werker aangestel nie, ook nie as sielkundige, of terapeut nie.
Hy is ‘n verkoopsman, en aanvanklik voor ek die berig gelees het, het ek die bandopname geluister en ek self het gedink die klient het te diep in die bottel gekyk, en nie geweet hy is gestremd nie..

Joyce ·

Gestremdes moet glad nie toegang tot hul bankbesonderhede hê nie.

Neeman ·

Hoekom vra Tracker dan nie iemand se inkomste voordat hulle ‘n kontrak aangaan nie? Selfoon maatskappye doen dit, klere-winkels doen dit, motor-maatskappye doen dit, van wanneer af teken jy met enigeen ‘n Tracker kontrak ongeag sy inkomste? Is Rica/Fica gedoen? Seker ook nie, dus was TRACKER desperaat en verkeerd. Vra die man om verskoning en gee sy geld terug.

Ywerige Koerantlesertjie ·

Omdat dit ‘n Subskripsie Ooreenkoms is, en nie ‘n Huurkoop of Aankoop ooreenkoms is nie…
Neem ‘n subskripsie uit op die plaaslike koertant of ‘n tydskrif… hulle vra ook nie sommer net vir jou inkomste nie.
Omdat die “simkaart” kontrak tussen Tracker en die selfoonmaatskappy wat die simkaart voorsien is, en nie tussen die Tracker klient en die selfoonmaatskappy nie.
Simkaarte word dus aan Tracker uitgemaak in in Tracker se naam ge RICA… anders sou die ding nie werk nie.
Tracker is nie ‘n bank of ‘n instansie wat finansiele dienste verskaf soos om geld te leen of te bewaar nie dus is FICA nie van toepassing nie…
En nee, ek werk nie vir Tracker nie, endosseer hulle ook nie, is nie ‘n klient van hulle nie, en hulle naam kon net sowel iets anders gewees het, die feit is dat al wat die konsultant homself skuldig aan gemaak het was dat hy uiters onprofessioneel opgetree het. Dit regverdig nie dat die subskripsie fooi terug betaal moes word nie.
Wees dus eerder bewus van die feit dat hierdie maatskappy uit welwillendheid vir hierdie klient tegemoed gekom het, wat wel ‘n prysenswaardige gebaar was. Hulle kon netsowel hierdie ding in die hof laat uitspeel het… Selfs slegte publisiteit – bly publisiteit…

Ywerige Koetantlesertjie ·

Trolle kry mens seker oral wanneer iemand nie dieselfde opinie as ander het nie… persoonlik dink ek dat ongeag of die konsultant gedink het die man wat inbel te veel gedrink het, en of hy gedink het die man het n spraak probleem is hy nie n dokter nie, en nog minder gaan hy vra” askiestog meneer beskik u oor enige gestremtheid of geestes afwyking?”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.