Gesin dagvaar polisie vir duisende

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Johannesburgse gesin dagvaar die polisie vir meer as R770 000 omdat die polisie glo nie ag geslaan het op verskeie oproepe om hulp tydens gewelddadige dreigemente deur ʼn vervreemde eggenoot nie, het The Star Donderdag berig.

Die koerant berig die man het glo in November verlede jaar petrol oor sy bedlêende skoonma gegooi en haar aan die brand gesteek.

Dit volg nadat sy vrou hom vir ʼn egskeiding gedagvaar het, en sy en haar suster ʼn beskermingsbevel teen hom bekom het.

Die gesin lewe glo vir jare lank al in vrees weens die man se gewelddadige geaardheid.

Hulle het ʼn siviele eis teen die polisie aanhangig gemaak nadat die polisie glo die suster en hul prokureur nege keer verontagsaam het toe hulle dreigemente by die Sophiatown-polisiestasie aangemeld het.

Die man het glo sy vrou en skoonma in September 2013 met ʼn vuurwapen gedreig. Hy het ook gedreig om hul huis af te brand nadat daar ʼn beskermingsbevel teen hom bekom is, en ook sy skoonsuster aangerand.

Die skadevergoedingeis is gerig aan Nathi Nhleko, minister van polisie, Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris, en vier beamptes van die Sophiatown-polisiestasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Ek hoop van harte hulle wen die saak daar is n baie groot laksheid by die polisie . Net nog n job. Geen trots meer nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.