Gesin én SA ‘armer’ sonder driekampatleet

André Piehl (51) is die afgelope naweek op sy fiets doodgery. (Foto: Verskaf)

Die dood van die veteraan driekampatleet André Piehl (51) is ʼn reuseverlies vir Suid-Afrika, sy geliefdes en die sportgemeenskap.

Só het Paul Ingpen (53), atleet en redakteur van die Triathlon SBR-, Mountain Bike– en Road Bike-tydskrif Woensdag aan Maroela Media gesê. Hy het Piehl sowat 30 jaar lank geken en sê dat hul gedeelde passie vir driekamp en fietsry oor die jare tot ʼn hegte vriendskap gelei het – ʼn vriend wat hy as ʼn hardwerkende, vriendelike en nederige mens beskryf. Iemand wat jou laat trots voel het om ʼn Suid-Afrikaner te wees.

Piehl, ʼn eggenoot en pa van ʼn 13-jarige tweeling, is Saterdag op sy fiets op die R512 naby Lanseria in Gauteng doodgery. Die bestuurder van die Porsche Cayenne wat hom en ’n vriend, Jean du Preez, getref het, is intussen uit polisieaanhouding vrygelaat – glo weens ’n gebrek aan bewyse. Die motoris was na bewering onder die invloed van drank toe die voorval plaasgevind het. Piehl was die bedryfshoof van Famous Brands, wat kitskoshandelsname soos Steers, Fishaways en Debonairs besit.

André Piehl by sy vrou, Sharon. (Foto: Verskaf)

Die motoris is kort ná die ongeluk in hegtenis geneem, maar later weer vrygelaat. Die gesin se regsverteenwoordiger het Dinsdag aan Maroela Media gesê gerugte dat die man weer in hegtenis geneem is, is vals.

Ingpen sê Piehl se dood bring nie net enorme hartseer mee nie, maar ook vrees.

“Dit skep die vrees dat ons nie meer veilig op ons eie paaie is nie. Paaie waarvoor ons belasting betaal. Selfs al ry ons vroegoggend in die geel lyn, is ons steeds kwesbaar vir hierdie tipe mense wat met dié soort ding kan wegkom.

“Dit is onaanvaarbaar en mag nie geduld word nie. Padreëls moet strenger toegepas word en die polisie moet beheer neem. Daar moet ʼn voorbeeld van hierdie motoris gemaak word.”

Ingpen sê die hele gemeenskap sal vir geregtigheid veg en hy hoop die saak sal behoorlik hanteer word.

“ʼn Onskuldige lewe is geneem. Suid-Afrika is van uitnemende talent en ʼn gesin van hul pa beroof. André is heeltemal te vroeg weggeneem.”

Familie was sy alles

Ingpen sê Piehl was ʼn uiters doelgerigte, gedrewe persoon wat lief was vir sy werk, sy sport en bowenal sy gesin.

André Piehl (51) by die Challenge Roth-wedren in Duitsland. (Foto: Verskaf)

“Hy en sy vrou, Sharon, was gek oor mekaar. Sy tweeling was sy alles. Hulle was lief vir die buitelewe en het baie tyd saam deurgebring.

“André was ʼn pilaar vir sy gesin, en nou staan Sharon net so sterk. Sy staan sterk vir hul kinders, wat nog nie heeltemal verstaan wat aangaan nie. Hulle is gebroke. Haar missie is nou om sterk te wees sodat die kinders ʼn besonderse en dapper lewe kan leef. Dis wat André sou wou hê, en dis wat Sharon staande hou.”

Ingpen sal Piehl se groot hart en glimlag vir altyd onthou.

“Hy was ʼn warm, saggeaarde mens. Hy was eerlik, vrygewig en baie hardwerkend en het altyd tyd vir ʼn mens gehad.

“André het ook hard gewerk om sy sportdoelwitte te bereik.”

Ingpen sê daar was altyd gesonde kompetisie tussen hom en Piehl wanneer dit by sport gekom het.

“Ek het altyd opgewek en positief om André gevoel. Hy het my laat goed voel oor die mensdom en was werklik ’n baie goeie mens.

Reëlings vir ʼn begrafnis is nog nie gefinaliseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
willem heitlager

NO WORDS????

Anel

Nou hoekom mag ons nie weet wat die bestuurder se naam is nie????

Pablo

Daar is geen toekoms in die land meer nie.

Ian

Ons kan miljoene aan Cuba skenk. Plaas die regering eerder fiets paaie skep dat almal veilig hul geliefde stokperdjie en sport kan uitleef. Komaan regering bele in jou eie nasie. Stop om my belastinggeld te vermors.
Meegevoel aan die familie.

Marius

Die kriminele het meer regte as die eerlike burgers.