Gesin gebroke ná seun (12) doodskok

Krynauw Serdyn. Foto: Verskaf

Krynauw Serdyn. Foto: Verskaf

ʼn Egpaar van die Strand in die Wes-Kaap se lewe is tot stilstand geruk nadat hul jongste kind Vrydag op hul plaas in ʼn fratsongeluk dood is.

Krynauw Serdyn (12), ʼn leerder aan die Laerskool Hendrik Louw, het doodgeskok terwyl hy saam met een van sy maats buite sy ouerhuis in die reën gespeel het.

Hennie, Krynauw se pa, het Maandag aan Maroela Media vertel dat daar op die bepaalde dag probleme met die Eskom-kragtoevoer na die huis was en dat die krag vir die grootste gedeelte van die dag af was. Die krag het egter later die middag weer aangekom terwyl die seuns buite gespeel het. Volgens Hennie was dit een van hulle gunstelingtydverdrywe om van die hoenderhok se sinkdak tot op die grond te spring. Hulle het die middag ook weer by die hoenderhok gespeel.

“Ons weet nie presies wat gebeur het nie, want ek was nie by die huis toe dit gebeur het nie en my vrou, Jessie, was binne die huis besig. Soos ons verstaan, het ʼn tak van ʼn boom afgebreek en bo-op die hoenderhok en teen die kragdrade te lande gekom,” het Hennie gesê.

“Ons dink die krag het van die drade teen die water op die boomtak gelei na die hoenderhok se dak toe. Toe Krynauw en sy maatjie weer op die dak spring, het albei geskok. Die maatjie het nie so erg geskok nie, want hy het tekkies aangehad, maar Krynauw wat kaalvoet was, is op die toneel dood.”

Hennie het gesê Krynauw se maatjie het Jessie binne die huis gaan roep en hulle het dadelik noodbehandeling op Krynauw toegepas. Paramedici was ook kort daarna op die toneel, maar daar was niks wat hulle vir Krynauw kon doen nie.

“Hy was so ’n sportiewe, uitbundige kind en mal oor die natuur en die buitelewe. Hy was baie gewild, maar tog altyd meer bekommerd oor die kind wat eenkant gestaan het,” het ʼn emosionele Hennie gesê. “Ons weet nie nou hoekom dit moes gebeur nie, maar ons het vrede. Die getuienisse wat ons oor Krynauw se lewe hoor, is net ongelooflik. Hy het soveel mense se lewe aangeraak en sy kort tydjie op aarde voluit geleef. Hy was ʼn amazing kind.”

Volgens Hennie het Krynauw ‘n passie gehad vir die stryd teen renosterstropery en word die publiek versoek om eerder donasies aan SANParke se ere-veldwagters te maak as om blomme vir die familie te stuur.

Krynauw word deur sy ouers en ’n ouer broer en suster, Renier en Carlie, oorleef. ‘n Gedenkdiens sal Vrydag uit die Lourensrivier-gemeente in die Strand gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

mariaan ·

Dit is hartverskeurend! So jammer vir sy familie…dis n lewenslange seer…mag die Here julle troos….so n mooie jong seun…so onnodig…ai die lewe verstaan ek nie altyd nie…sterkte vir julle

Illa ·

Ag nee! Aan die Serdyn gesin en familie – ek is so bitter jammer en hartseer vir julle part. Baie sterkte aan julle in hierdie verskriklik moeilike tyd. Ek hoop jul sal vertroosting kan vind.

Snip ·

Dis so tragies. Ek bid vir julle pyn en mag God julle dra waar julle nie meer kan nie.

Penellope Jones ·

So ontsettend jammer om hierdie berig te lees! Ek wens Krynauw se ouers en maats vrede en aanvaarding toe. Om n kind te verloor is bitter, bitter swaar.

Karma ·

Baie, baie hartseer! Innige meegevoel aan die ouers, broers/sussies, grootouers, vriende en familie van hierdie pragkind wat hopeloos te vroeg weggeruk is! Maar ook ‘n pluimpie vir Krynauw – dat hy dapper was om die stryd teen renosterstropery te ondersteun en dat die familie besluit het om donasies aan SANParke se ere-veldwagters in stede van blomme, te gee.

Hendrik Cloete ·

Ons is vreeslik jammer om te hoor oor Krynauw , hy het n groot rol in ons dogtertjie se lewe gespeel en het haar altyd gehelp waar sy gesukkel het in die klas , ons harte gaan uit na sy ouers toe . Hy was n lieflike seun en sal onthou word

Hannelie ·

Here wees asseblief met hierdie familie. Vertroos hul in hierdie hartseertyd. My innige simpatie aan sy ouers en broer en suster.

Gesiggie ·

Here hoekom, hoekom moet so iets gebeur ? n kind wat n passie vir die lewe gehad het? hy het sy jong lewe geniet.. en hoe sou hy vir een oomblik kon dink, dat n speletjie in n ongeluk sou ontaard? hy het n hart van goud gehad” soos volgens berig, altyd gewillig om ander te help..hoe sou ons as mens ooit die weg van die lewe verstaan… dit is so hartseer, my innige meegevoel aan die ouers, sy Familie, sy vriende, en sy maat wat by was toe als gebeur het… Jesus dra hierdie mense in die tyd van Hartseer en versterk hul… RIP Seun,..by Jesus is jy veilig.

Bernita Havenga ·

Aan die ouers my innige meegevoel. Ek kan my nie indink hoe dit moet voel nie, maar die bietjie wat die lewe my reeds geleer het, dui daarop dat dit te seer moet wees . My hart bloei vir julle. Jessica, ek bid dat jy hierdie seer sal kan dra en dat God jou en jou man sal vertroos. Hartseer groete. Bernita

Pieter van der Dussen Senior ·

Job 6:26 – Op rype leeftyd sal jy na jou graf gaan, soos ‘n koringgerf op sy tyd ingebring word. Nie in gryse ouderdom nie, maar wanneer die lewe van iemand voltooi is en hy sy taak op aarde volbring het soos die koringplant die koringkorrels rypgemaak het. Mag die God van alle genade u ook hierdie insig gee en u met troos van die Heilige Gees oordek.

Herlene Petersen ·

Our deepest sympathy to the family. We don’t really understand the but just remember God hold’ s your hand my daughter’s was so shocked
They remember him as a friendly boy
God needs all His angels
Love the Petersen family

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.