Gesin gebroke na seun (19) se dood

Dylan Joubert (19).

Nege dae lank het hulle onophoudelik na hom gesoek. Die 19-jarige Dylan Joubert se gesin was rasend van bekommernis nadat hy op 9 Oktober spoorloos verdwyn het.

Dylan se pa, Riaan de Beer, het daardie Vrydag omstreeks 18:00 met hom op die foon gesels. Die sein was sleg, maar De Beer kon hoor Dylan is op pad werk toe. Die oproep is afgesny en Dylan se gesin kon hom net glad nie weer in die hande kry nie.

Hy het nie by die werk opgedaag nie en het ook nie weer by sy blyplek in die ooste van Pretoria opgedaag nie. Sy werkgewer het geen idee wat van hom geword het nie en teen die volgende Woensdag het sy gesin ʼn saak by die polisie aangemeld, sê Yolandi de Beer, Dylan se ma.

“Ek was buite myself van bekommernis,” sê sy.

In daardie stadium het hulle nie meer geweet wie om te kontak of waar om verder te soek nie. Dylan was spoorloos en hulle was radeloos. Organisasies soos die Pink Ladies – wat help soek na vermiste mense – het ingegryp en pamflette met Dylan se foto is wyd op sosialemediaplatforms versprei.

De Beer sê talle mense, heelwat van hulle wildvreemdelinge, het aangebied om te help. Iemand het hospitale begin kontak. ʼn Vrou het aangebied om self elke lykshuis te besoek sodat Dylan se gesin dié trauma gespaar word. Pamflette is versprei.

Op 19 Oktober het die oproep gekom wat die gesin verpletter het. Dylan se liggaam is in die staatslykshuis gevind nadat hy reeds die Vrydag waarop hy vermis geraak het deur ʼn motoris in die Wilgers-omgewing in die ooste van Pretoria, waar Dylan gewerk het, raakgery is. Hy is oënskynlik op die toneel dood, maar weens ʼn gebrek aan enige identiteitsdokument kon niemand hom identifiseer of sy gesin in die hande kry nie.

Dylan en sy pa Riaan.

“Ek sien hom in alles. Ek soek hom in almal. As ek hier uitry, soek ek na my kind en dan tref dit my elke keer: My kind is weg.

“Ek het vertroue dat hy veilig is by liewe Jesus, hy is ʼn kind wat geglo het. Ek het ʼn mate van berusting gevind – die feit dat ek nou wéét waar hy is. Die feit dat ek weet hy is veilig; dat hy nie êrens lê en na my roep of na my soek nie.

“My kind is oukei. Hy is nou in die hemel. Ek weet waar hy is. Hierdie gesoekery… om vir nege dae lank nie te weet nie…”

ʼn Gebroke De Beer vertel dat hulle besef het dat hulle die soektog na Dylan nie alleen sou kon behartig nie. “Dit was ʼn wow-oomblik om te weet dat daar soveel mense wat bereid was om ons te help.”

Riaan moes die jong man se liggaam eindelik gaan uitken. “Dit moes ʼn verskriklike moeilike ding vir hom gewees het.

“Ek het ʼn wonderlike man. Hy gee my kans om te rou. Hierdie is die seerste seer, maar my man en kinders dra my,” sê De Beer.

Die gesin is gebroke na Dylan se dood.

Sy sê Dylan se broers en susters, Jarred, Zeldré, Marizelle en Taylor se harte is stukkend, maar die gesin ondersteun mekaar geweldig.

Sy beskryf Dylan as ʼn buitelugkind. “Hy was baie lief vir visvang. As jy net die woord visvang gesê het, was sy goed al klaar gepak,” vertel De Beer.

Oor die gebeure wat gelei het tot Dylan se dood, sê De Beer sy glo dit was ʼn ongeluk.

“Die persoon wat hom raakgery het, is stukkend. Hy het vir tien dae lank na ons gesoek. Die man is gebroke. Hy het nie weggejaag nie. Hy het by my kind gesit. Hy wil ons bitter graag ontmoet.

“Die feit dat hierdie man by my kind gebly, is ook ʼn vertroosting vir my as ma.

“Dit sal ook by hom bly vir die res van sy lewe. Ons wil nie die saak verder neem nie; ons soek almal berusting.”

ʼn Roudiens vir Dylan is voorverlede Vrydag gehou en hy is veras.

“Nou is hy weer by my. Hy is tuis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Magda ·

So tragies – baie sterkte aan die Familie asook die persoon wat hom raak gery het.

Maggies ·

Dit is só ontsettend hartseer dat ek myself nie kan indink hoe ouers deur so iets kan kom nie.
Ek glo egter in die genade van ons Trooster, Jesus Christus. Alleenlik Hy sal hierdie gesin asook die bestuurder kan vertroos. Dankie meneer dat jy by Dylan gebly het en nie weggejaag het nie.
Dankie ook aan al die mense wat hierdie gesin bygestaan en gehelp het.
RUS IN VREDE, DYLAN.

antieke antie ·

sterkte aan die geliefdes…. hy is so pragtige jong man

Hester ·

My inigiste simpatie ,baie dankbaar vir julle dat die ander persoon julle bly soek het.

Jakes ·

Ons innige medelye met familie en vriende van die seun. Geen erger tragedie as om n kind te verloor nie. Sterkte.

Riaana ·

Hy is nou in die hemel, en wil nerens anders wees nie… R. I. P…. Sterke vir die familie julle is in ons gebede????

Sandra ·

Baie voorspoed en Gods sterkte vir julle as ‘n gesin. Mens stuur mens se kinders uit in die groot wereld om te gaan werk, en om grootmens dinge te gaan doen. En mens vertrou maar op Hom wat alles in Sy twee hande het.

johanf ·

So hartseer, baie stekte aan die ouers en naasbestaandes.
Ek kan my nie in so situasie indink nie….

Sandra ·

Genade En God Se liefde aan julle almal. Dit is hartverskeurend En sekerlik een vd dinge wat n mamma nooit moet oorkom nie. Sterkte En glo Dat jy jou kind eendag weer Sal Kan vasdruk.

TO ·

Ag dis so bitter hartseer. Sterkte vir julle, net Jesus kan berusting gee. Mag die persoon verantwoordelik ook berusting vind by Jesus. Ek weet watter pad julle loop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.