ʼn Gesin van Daniëlskuil in die Noord-Kaap was so vies vir ʼn man wat glo van hulle gesteel het dat hulle hom in hul huis gyselaar gehou het.
Die gesin en die vermeende boef word egter nou deur strafregtelike klagte in die gesig gestaar.
AO Nomvuyo Makoloi, polisiewoordvoerder, sê beamptes is Vrydag in kennis gestel dat ʼn 21-jarige man glo staal by ʼn gesin gesteel het en dat die einste gesin nou die man gyselaar hou.
Die man is na bewering al Donderdag met geweld by die gesin se huis ingeneem en teen sy wil aangehou.
Die plaaslike stasiebevelvoerder, kapt. Nancy Malela, is vroeg Vrydagoggend na die huis toe om met die gesin te onderhandel om die man vry te laat.
“Ná ʼn lang maar suksesvolle onderhandeling is die man vrygelaat en aan die polisie oorgegee,” sê Makoloi.
“Die slagoffer is vir ʼn mediese ondersoek geneem voordat hy met sy familie herenig is.”
Dit is nie duidelik watter soort beserings, indien enige, die man tydens sy beproewing opgedoen het nie.
Drie verdagtes, almal van dieselfde familie, is ná die voorval in hegtenis geneem en ʼn saak van ontvoering is aanhangig gemaak.
Dié drie sal Maandag in die Postmasburg-landdroshof verskyn.
Makoloi het aan Maroela Media bevestig dat ʼn saak van diefstal intussen teen die vermeende ontvoeringslagoffer aanhangig gemaak is.
Hy sal binnekort ook in die Postmasburg-landroshof verskyn.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
8 Kommentare
Te belaglik vir woorde – selfs vir Leon Shuster fliek.
Hoekom sou die mense die dief aangehou het as hulle vertroue in die polisie gehad het.?? Juis as gevolg van ‘n swak polisie diens en korrupte polisie lede neem gewone mense reg in hulle eie hande.Die aksies van die polisie om die mense nou van ontvoering aan te kla gaan net emosies nog meer laat opvlam.Ek is jammer ek het geen hoop meer vir die land nie.
Ten minste het hulle hom gevang,meer as wat SAP sou regkry. En weer eens sal die boef meer van sy regte kan uit oefen as die benadeelde gesin. Lekker SA
Hoop hul het sy ore ook oopgemaak tydens sy aanhouding, hy pleeg misdaad maar word beskerm.
Voessek !