Gesin in huis oorval, ma geskiet

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die ma van ’n gesin aan die Oos-Rand is Woensdag in die been geskiet tydens ’n oënskynlike huisrooftog in Brakpan.

Kapt. Pearl van Staad, woordvoerder van die plaaslike polisie, sê ’n man, vrou en hul 21-jarige dogter het gelê en slaap toe twee rowers die diefwering van die gesin se huis in Dalpark, Brakpan, oopgebreek en toegang tot die huis verkry het.

Dit lyk in dié stadium of nog ’n verdagte tydens die voorval buite die huis in ’n wegkommotor gewag het.

Volgens Van Staad het die 51-jarige man wakker geword van ’n geraas en ondersoek ingestel. Hy het hom in die rowers vasgeloop en die rowers het skote afgevuur.

Die 49-jarige vrou is in die proses gewond.

Die verdagtes het met huishoudelike besittings, waaronder ’n televisie en huissleutels, op die vlug geslaan.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici het die gesin saam met plaaslike owerhede net na 03:00 in hul huis aangetref.

Paramedici het die gesin ondersoek en bevind dat die vrou ’n skietwond aan haar been opgedoen het. Die man en die dogter het albei ligte beserings opgedoen.

Die gesin is op die toneel behandel voordat hulle na ’n private hospitaal vervoer is vir verdere mediese behandeling.

Van Staad sê die polisie ondersoek ’n saak van huisroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Samuel ·

Hoe jammer om dit te lees. Elke dag word onskuldige mense oorval of aangerand. Is ‘n mens nog êrens in ons mooi land veilig? Hoop die polisie sal spoedig die misdadigers vastrek. Sterkte vir die gesin in hierdie tyd.

Tino ·

Sou die inwoners geskiet het was hulle seker gearresteer vir moord.

Hierdie dubbel standaarde maak my naar

ChrisR ·

Nee hulle sou nie……dis net jammer te min glo aan vuurwapens of los dit gereeld in die kluis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.