Gesin leef in vrees jaar ná pa se moord

Gerald van Jaarsveld en Kathleen van Wyk. (Foto: Verskaf)

’n Jaar ná die moord op ʼn Oos-Randse pa, sukkel sy gesin steeds om sy dood te verwerk, en leef hulle boonop in vrees aangesien die aanvallers nooit gevang is nie.

Gerald van Jaarsveld (32) is op 14 Augustus verlede jaar dood, sowat twee weke nadat rowers hom en sy gesin in hul huis in Brakpan oorrompel het. Hy is ses keer geskiet, waarvan een skoot sy lewer ernstig beskadig het.

Sy verloofde, Kathleen van Wyk, het vandeesweek aan Maroela Media gesê dat sy en haar ses kinders, almal tussen die ouderdomme van 4 en 17, nog baie onbeantwoorde vrae het en sukkel om aan hul lewe ná die voorval gewoond te raak.

Hulle bly nog in dieselfde huis, maar het sedert die voorval veiligheid opgeskerp en by ʼn private sekerheidsmaatskappy aangesluit. Nietemin is hulle steeds “baie bang”.

“Ons sukkel party aande om te slaap – al is die huis nou so veilig as wat dit kan wees. Ons vermy ook sekere dele van die huis.

“Dit maak ons ook bang om te weet hulle [die aanvallers] is nog daarbuite en kan dit aan ʼn ander gesin ook doen.”

Van Wyk sê hoewel sy glo geregtigheid sal eendag geskied wanneer die aanvallers voor God verskyn, sal dit tog berusting bring as hulle ook hier op aarde verantwoording doen.

Gerald van Jaarsveld en Kathleen van Wyk. (Foto: Verskaf)

“Hierdie mense het gemoor en daarmee weggekom. Hulle het ʼn deel van ons weggeskeur, en dis onregverdig dat hulle nie daarvoor hoef te boet nie. My man is nie meer hier nie, maar hulle is nog op vrye voet.”

Maroela Media het verskeie navrae aan die polisie gerig in verband met die ondersoek na Van Jaarsveld se moord, maar nog nie terugvoer ontvang nie.

‘Nuwe normaal’ moeilik

Van Wyk en Van Jaarsveld was 12 jaar bymekaar. Haar oudste twee seuns was nie Van Jaarsveld se biologiese kinders nie, maar hy het hulle soos sy eie grootgemaak.

“Hy was so lank ʼn deel van my, van ons. Maar 12 jaar was nie genoeg nie. Ek wou nog vyftig jaar saam met hom gehad het.”

Van Wyk sê die kinders het steeds baie vrae oor waarom dit met hul pa moes gebeur, terwyl die jongste, Rubin (4), eintlik eers dié jaar besef het dat Van Jaarsveld nooit weer gaan terugkom nie.

Gerald was baie betrokke in hul lewe, ook by hul sport. Dis van hulle weggeneem. My kinders se skoolpunte het ook geval, maar hulle werk regtig baie hard om hul pa trots te maak. Hulle sê hulle wil hê hy moet trots wees op wie hulle is en word. En ek weet hy is, al kan ons hom nie sien nie.

“My kinders is baie sterk. Party dae dink ek dat hulle my meer dra as wat ek hulle dra.”

Die gesin het intussen by ʼn nuwe gemeente aangesluit en ontvang berading. Van Wyk sê dié berading help die kinders baie om hul trauma te verwerk en om op die positiewe dinge in die lewe te fokus.

Om aan hul “nuwe normaal” gewoond te raak, bly egter ʼn uitdaging.

“Ons normaal is weg. Ek moet nou ook gewoond raak aan die nuwe ek. Die Kathleen sonder Gerald. Ons gesin sal nooit weer heel wees sonder hom nie.”

Die gesin kry egter baie ondersteuning van hul familie, onder wie Van Jaarsveld se sussie, Sonika Hugo, wat destyds ʼn BackaBuddy-fonds vir die gesin gestig het. Van Wyk ontvang R4 000 ʼn maand uit dié fonds, wat sy gebruik om kruideniersware te koop. Die fonds is egter amper uitgeput. Hoewel Van Wyk ook voor Gerald se dood gewerk het, was hy die hoofbroodwinner. Nou is sy hoofsaaklik alleen vir hul gesin verantwoordelik, asook vir haar afgetrede peetouers wat die afgelope paar jaar by hulle woon.

Gerald van Jaarsveld en Kathleen van Wyk. (Foto: Verskaf)

“Ons sukkel maar om kop bo water te hou, maar die Here gee my nog elke maand ʼn uitweg. Ons het nog nie een aand honger of koud gaan slaap nie.”

Van Wyk se broer het destyds ook twee gholfdae gereël om met geldinsameling te help, waarmee Van Wyk onder meer die veiligheid by hul huis opgeskerp het.

Hul grootste uitgawes bly kruideniersware en ander basiese benodigdhede, asook skoolbehoeftes en ‑klere en geld vir die kinders se buitemuurse aktiwiteite en sporttoere.

“My salaris word hoofsaaklik aan huur, water en ligte en brandstof spandeer.”

Om met dié uitgawes te help, het Van Wyk se ma, Michelle Grobbelaar, nou ʼn nuwe BackaBuddy-fonds gestig met die hoop om bykomende inkomste te genereer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.