Gesin op kleinhoewe oorval; verdagtes jaag met pa weg

Argieffoto: Lorraine Claasen

ʼn Gesin van Pretoria het ʼn noue ontkoming beleef toe hulle Dinsdagaand deur drie gewapende mans in die oprit van hul huis op ʼn kleinhoewe aan die weste van die stad ingewag is.

Neels en Stefanie Pieterse en hul tweejarige dogtertjie het omstreeks 20:30 by die huis gekom. Neels het uitgeklim om die hek van die erf op die Andeon-kleinhoewes oop te maak toe ʼn gewapende verdagte toeslaan.

Stefanie het aan Maroela Media vertel sy het haar slapende kleuter op haar skoot vasgehou toe sy haar man skielik buite die motor sien val het. “Ek het eers gedink daar is net een aanvaller en ek het probeer om die motordeur [aan die bestuurdersitplek se kant] toe te ruk en te sluit vir die veiligheid van my kind. Genadiglik was ons oudste kind dié aand by ouma.”

Sy vertel dat ʼn ander aanvaller in dié stadium haar motordeur aan die passasierskant oopgeruk het. Die kleuter het wakker geword en begin huil waarna die aanvaller haar gemaan het om die kind stil te maak. Hy het ʼn vuurwapen teen haar en die kind se koppe gehou en hulle aangesê om op die grond te lê.

“Ek het op my maag gaan lê en ek kon onder deur die motor sien hoe skop hulle my man aan die ander kant van die motor,” vertel Stefanie. “Ek het net gebid. Dit het soos ʼn ewigheid gevoel.”

Die aanvallers het Neels daarna vasgebind, in die motor geboender en met hom op die vlug geslaan. “Ek het nie geweet of ek weer my vrou of kind gaan sien nie,” vertel Neels op sy beurt.

Stefanie het opgespring en begin geskree om haar ouers, wat naby woon, se aandag te trek. Hulle dogtertjie was in dié stadium histeries, vertel sy.

By haar ouers aangekom, was Stefanie te geskok om ʼn woord uit te kry. Sy kon eindelik daarin slaag om te verduidelik wat gebeur het waarna haar ouers in hulle motors gespring het om Neels te gaan soek. Die buurtwag en polisie is ook ontbied.

Volgens Stefanie is Neels binne ’n kwessie van 15 minute twee blokke daarvandaan in Kennethstraat gevind. Die verdagtes het hom gevra of die motor ʼn opsporingstoestel het en hoewel die motor nié met een toegerus is nie, het Neels kopgehou en gesê die motor het wel só ʼn stelsel. Die verdagtes het die motor tot stilstand gebring en met ʼn beursie en skootrekenaar weggehardloop. Neels het in die motor agtergebly.

“Hulle het vir my gesê ek moet stil lê op die agterste sitplek anders gaan hulle my skiet. Gelukkig het polisiebeamptes op patrollie net daarna by my aangekom,” vertel hy.

“Ek dink hulle het die verdagtes met sekondes gemis,” voeg Stefanie by.

Neels se ribbes is gekneus. Stefanie en die egpaar se kleuter is ongedeerd na dié voorval. Die egpaar is wel getraumatiseer. “Ek wil nooit weer daardie nag oorhê nie,” sê Stefanie.

“ʼn Mens is nou bang om in die aand iewers heen te gaan. Deur die dag is dit nog oukei, maar as dit donker word, moet ʼn mens maar eerder net by die huis bly,” sê Neels.

Kapt. Msimango Bonginkosi, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig.

Die polisie ondersoek ʼn saak van motorkaping. Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Willie ·

Ongelukkig deesdae moet mens jou eie huis bekruip… Net bly die gesin is ongedeurd, dis n verskriklikke ondrevinding.. Sterkte aan julle

wonder ·

Dank die LIEWE VADER julle is veilig. Sterkte aan jou gesin. Ons sal almal moet begin oplet en wakker wees met die omgewing om ons voor ons tot stilstand kom, vir ons en en kinders se veiligheid.

fred ·

die VF+ gaan baie werk vorentoe hê….en ons hoop rêrig hard terug slaan…ons het genoeg gehad

bambi ·

Dis mos die idee om vrees by ons in te boesem! Jy is nêrens meer veilig nie; jammer om van die nagmerrie te hoor! Ek is ook n kluisenaar deesdae; maar oorkant die pad word gepollevink reg deur die nag…..

Staan op teen onderdrukkers ·

Ons moet opstaan vir ons eie land waarin ons nie deur moordenaars en korruptes en rassiste onderdruk word nie, ons verdien vryheid en menseregte.

Jan ·

‘n Saak van motorkaping is nie goed genoeg nie. Aanranding met die opset om ernstig te beseer, diefstal, motorkaping, ontvoering…. Dat ons mense nog nie onder vandag se omstandighede kop verloor het nie, weet ek nie!!!!!!!!!!

jakes ·

Tipiese gedrag van lafaards wat onopgevoed is en voor die voet mense aanrand, kaap of vermoor. Hulle moet voor die voet permanent uit die samelewing verwyder word maw maak hulle permanent stil.

Lana ·

Stem saam, Jan. Ek is so moeg vir die SAPD wat nie altyd al die regte klagtes teen die oortreders ondersoek nie!!!
Wat van rig van ‘n vuurwapen in dié geval??!!

Hannelie ·

Gaan daar iets gedoen word na die verkiesing??? Seker nie dis mos ‘n wit gesin wat aangerand is. Hoop regtig ons kry ‘n ander president wat menslikheid het en met reg kan oordeel oor hierdie sinnelose geweld. Die nuwe president moet ‘n ruggraat hê en dit kan stop want só kan dit nie aangaan nie. Ek sê net dankie Here hul leef.

Attie. ·

In ons land kan jy op ‘n plaas of ‘n kleinhoewe bly indien jy ‘n motorhek teen die pad het, dit is noodsaaklik om nie hoof uit te klim en ent van jou huis nie. Tweedens moet jy om jou huis ‘n paar terriers hê, wat kan kom groet as jy by die tuinhek kom. Die honde se gedrag sal jou presies inlig wat tans aan die gebeur is. Ek voel vreeslik jammer vir die Pietersen gesin maar 2019 is nie die beste jaar om in die aande te gaan rondloop sonder dat die nodige in werking is nie, Ek hou my nou seker slim maar ek dink as Neels daaroor sal nadink sal hy besef waar hy gefouteer het. Honde en motorhekke en elektriese omheinings as jy wil rondloop in die aande. Jy kan veilig op ‘n plaas bly. Die grootste fout was om te dink dat dit nie met jou kan gebeur nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.