Gesin op Limpopo-plaas oorval

Argieffoto: Reint Dykema

Argieffoto: Reint Dykema

ʼn Gesin van Georges Valley, naby Tzaneen in Limpopo, is erg getraumatiseerd nadat hulle in die vroeë oggendure deur drie gewapende mans in hul plaashuis oorval is.

Marius Jacobs, van Northern Security en Watchdog Tzaneen, het Maandag aan Maroela Media gesê die verdagtes het omstreeks 04:00 op die plaas toegeslaan.

“Die man en sy vrou is vasgebind. Die verdagtes het met die egpaar se kind deur die huis gestap en gedwing om waardevolle besittings uit te wys,” het Jacobs gesê.

Die huis is geplunder en die aanvallers het hul buit in die egpaar se voertuig gelaai en daarmee van die toneel gevlug.

“Een van die slagoffers kon daarin slaag om te ontsnap en het oor die radio hulp van Georges Valley-plaaswag ontbied. Omliggende boere, die polisie en veiligheidsmaatskappye het vinnig gereageer.”

Jacobs het gesê beamptes van die Polokwane-polisie het later die voertuig opgemerk en dadelik agterna gesit. ʼn Wilde jaagtog het gevolg.

“Die polisie het op die voertuig geskiet en die bestuurder het beheer daaroor verloor. Die voertuig het die pad verlaat en deur ʼn heining langs die pad gebars.”

Die mans het hul buit in die motor gelaat en te voet verder gevlug. Hulle is steeds soek.

Jacobs het gesê hoewel die gesin getraumatiseerd is, is hulle ongedeerd.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het Maandag sy kommer oor kinders se veiligheid tydens plaasaanvalle uitgespreek.

“Ons doen ʼn beroep op almal in landelike gebiede om met hulle kinders te gesels oor plaasaanvalle. Ons wil nie hê kinders moet banggepraat word nie, maar hulle moet weet hoe hulle tydens ʼn aanval moet optree,” het Cameron gesê.

Volgens Cameron voel plaasaanvallers niks vir slagoffers nie, dus moet kinders presies weet wat om te doen om hulself én hulle gesinslede te beskerm, omdat hulle dikwels vir onderhandeling deur die aanvallers gebruik word óf om aanvallers te begelei.

Dié voorval was die derde aanval op plase wat in die afgelope 48 uur in die land plaasgevind het.

Mally Thomson is Maandagoggend deur drie verdagtes met ʼn panga in Richmond, KwaZulu-Natal, aangeval. Hy het ’n verdagte doodgeskiet. Die ander twee het gevlug.

Jacobus Kemp het Sondag in Letsetele in Limpopo met ’n haelgeweer op sy aanvallers losgebrand en een doodgeskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Winston ·

Ja alweer n aanval. Gelukkig het twee aanvalle goed verloop. Dit moet elke keer so werk, maar wie kan produktief wees as jy gedurig soos n hond moet rondkyk van waar af en wanneer kom die sweep? Sterkte vir die betrokkenes.

Windhond ·

Die woorde van Psalm 144 vers 1 is soos ‘n lig voor my.

Johannes Meintjes ·

Die staat se lamsakkige versuim om ordelik te regeer laat die burgers geen keuse as om hulself te verdedig nie. Geluk aan AfriForum en Ian Cameron vir julle pro-aktiewe (al is dit eintlik reaktiewe) optrede. Nou wonder ek net wat het geword van al die oud-weermag en oud-polisie kundiges in SA?

Theresa ·

Zero tolerance vir plaasaanvallers. Indien ons so gelukkig was om in ‘n land te woon waar die regering hul pligsbesef nakom vir die basiese dinge (bv veiligheid vir hul burgers) kon hul lankal opgeleide perderuiters – net ‘n voorbeeld – op plase ontplooi het. Ruiters met baie ammunisie. Opleiding wat sal veroorsaak dat die verpestelike inbreker/roofleier en kie hul vasloop en nooit weer so iets sal wil probeer nie. Wat verstaan die hoog geplaasde (nie noodwendig hooggeleerde) mense dan nie van b e s k e r m die wetsgehoorsames, nie???
Siek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.