Gesin platgeslaan ná werker se dood op kleinhoewe

Argieffoto: Reint Dykema

Argieffoto: Reint Dykema

“Hy was baie meer as net ʼn werker. Hy was ʼn vertroueling en my vrou se regterhand. Hy was deel van die familie.”

Só het Tiaan Combrinck Dinsdag gepraat van sy 46-jarige voorman wat vroeër die oggend tydens ʼn aanval op hul kleinhoewe in Wallmannsthal, noord van Pretoria, doodgeskiet is.

Combrinck het versoek dat die oorledene se naam nie in dié stadium bekendgemaak word nie, aangesien al sy familielede nog nie van sy dood in kennis gestel is nie. Hy het gesê die man het die afgelope vyf jaar vir die gesin gewerk en het met takies in en om die huis gehelp.

“Hy was buite die huis besig toe ons twee Yorkshire-terriërs begin blaf het. Hy het een van die ander werkers gevra om saam met hom te kom kyk wat in die huis aangaan, want hy kon aan die honde se blaf hoor iets was fout,” het Tiaan gesê.

In die huis het die twee mans ʼn gewapende rower aangetref en ʼn struweling het ontstaan. Een van die werkers kon daarin slaag om uit die huis te hardloop. “Op daardie oomblik het my vrou, Chantell, in die laning na die huis toe aangery gekom en hy het vir haar gesê [die voorman] word in die huis aangehou. Sy het my histeries gebel en ek het dadelik die polisie in kennis gestel.”

Toe die polisie opdaag is die voorman se liggaam in ʼn plas bloed op die vloer aangetref. Volgens Combrinck is hy op In kort afstand in die kop geskiet. Die rower het met net ’n selfoon gevlug.

Combrinck het gesê hy is dankbaar dat sy vrou en kinders nie in die huis was ten tyde van die voorval nie, maar die gesin is platgeslaan deur die voorman se dood. “Hy het drie kinders in die Vrystaat by wie hy gereeld gaan kuier het.”

Ao. Isaac Mangena, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn saak van moord word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan 2 ·

Dis tragies hoe mense vir niks doodgemaak word in SA. Waar is die ANC helde dan om “ons” te kom red.

SNEL ·

Skokkend dat hy sy lewe verloor het vir n selfoon. n Lewe is niks meer werd in die land nie. Mens se hart raak seer om dag vir dag te lees en hoor hoe baie mense hul lewens onnodig verloor. Ek dink meer sterf as gevolg van misdaad en roekelose bestuurders in ons land as aan natuurlike gevolge elke dag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.