Gesin rasend ná pa vermis raak

Scott van Zyl (Foto: Verskaf)

ʼn Gesin van Marken in Limpopo is rasend van bekommernis nadat ʼn man Vrydagmiddag tydens ʼn jagtog in Zimbabwe vermis geraak het.

Scott van Zyl, ʼn professionele jagter, het vroeër vandeesmaand saam met ʼn groep buitelandse jagters na Zimbabwe vertrek vir een van sy gereelde jag-uitstappies.

Van Zyl se gesin is egter Vrydagmiddag ingelig dat hy vermis geraak het, en ʼn grootskaalse soektog is intussen van stapel gestuur.

ʼn Familielid het vertel Van Zyl se vrou, Suré, en die hele gesin kan sedert hy vermis geraak het nie ʼn oog toemaak nie en vrees vir sy lewe. Van Zyl het ook twee jong kinders.

“Niemand is seker wat gebeur het nie – hulle was glo op ʼn luiperd se spoor voor hy vermis geraak het. Een van sy honde het weggeraak en hy het hom gaan soek. Niemand het weer van hom gehoor nie. Sy honde het laatmiddag alleen teruggekom na die kamp toe, maar hy is nog nie weer gesien nie.”

Die familielid het gesê die polisie en ondersoekeenhede het talle van sy persoonlike items, waaronder sy sak en navigasiestelsel, op die Limpopo-grens gevind. “Hulle het ook sy spore daar gekry, maar die ondersoekspanne was nog nie in staat om verdere leidrade vir sy verdwyning op te spoor nie. Enigiets kon gebeur het.”

Suré word tans bygestaan deur familielede en die egpaar se kinders kuier tot tyd en wyl by vriende.

“Ons het niks geslaap nie – niemand kan ʼn oog toemaak nie. Dit is die onsekerheid wat ʼn mens rasend maak. Al wat ons nou kan doen, is bid.”

Gerhard Vos, ʼn vriend van Van Zyl, sê talle ondersoekeenhede, vriende en die polisie het intussen ook by die soektog betrokke geraak.

Nagenoeg drie helikopters fynkam ook die gebied vir enige spoor van hom.

“Dit is nou reeds twee aande, maar ons hou steeds moed dat hy net vermis geraak het. Dit is wonderlik om te sien hoe mense betrokke raak en probeer help,” sê hy.

Die Search & Rescue-ondersoekeenheid asook die Limpopo Hunters Liason-groep het Saterdag gesê geldelike hulp van die publiek is nodig om die soektog aan die gang te hou.

Die groep sê dit kos nagenoeg $850 (ongeveer R11 500) per uur om ʼn helikopter in die lug te hou. Verder is daar ook nie brandstof in die gebied nie, en brandstof vir die helikopters moet aangery word.

Vos meen die hele ondersoekspan verwag minstens R500 000 gaan nodig wees vir die hele soektog.

Intussen is ʼn GoFundMe-blad opgerig sodat die publiek met behulp van skenkings betrokke kan raak.

Vir meer inligting oor skenkings, klik hier.

Jy kan ook direk skenkings aan die Search & Rescue-ondersoekeenheid asook die Limpopo Hunters Liason-groep maak:

Rekeninghouer: LHLF
Bank: Standard Bank
Rekening nommer: 336390718
Tak kode: 017445
Verwysing: SCOTRESCUE

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.