Gesin saam in ongeluk: Ma, dogtertjie (4) sterf

Die motor se wrak. Foto: ER24

Die motor se wrak. Foto: ER24

ʼn Ma en haar vierjarige dogter is Sondag in ʼn ongeluk op die N17-snelweg in Brakpan aan die Oos-Rand dood.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê die botsing het omstreeks 11:00 plaasgevind.

“Met paramedici se aankoms op die toneel, is daar bevind dat die motor, met vier insittendes, teen ʼn brugpilaar gebots het. ʼn Kind, vermoedelik vier jaar oud, en haar ma is met noodlottige beserings aangetref,” het Vermaak gesê.

Volgens Vermaak het die pa en ʼn 10-jarige kind ernstige besering opgedoen. “ʼn Noodhelikopter is ontbied om hulle na ʼn hospitaal te neem, maar hulle is op die ou end met ambulanse vervoer.”

Hy het gesê albei kinders is tydens die ongeluk uit die voertuig geslinger. Die ma se liggaam was in die wrak vasgekeer.

Waarnemende lt.kol. Kobeli Mokheseng, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie, het aan Maroela Media die ongeluk bevestig.

“Die ongeluk het in die oostelike rigting van die snelweg by die Heidelbergpad-brug plaasgevind. Die bestuurder van ʼn ligbruin Toyota RunX het beheer oor die motor verloor, waarna dit gerol en teen die brugpilaar gebots het,” het Mokheseng gesê.

Volgens Mokheseng is die man 37 jaar oud en die vrou 32.

Mokheseng het gesê die werklike oorsaak van die ongeluk word deur die metropolisie se ongelukrekonstruksie-eenheid ondersoek, maar voorlopige ondersoek dui daarop dat moegheid ʼn rol in die ongeluk gespeel het.

Die Brakpan-polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Vivian ·

Ai my hart gaan uit na die pappa en familie. Mag jul God se vertroosting ervaar deue die tyd. Baie sterkte.

Donovan ·

Die hoofweg is mos onder kamera… kyk video en dien wat gebeur het…

Speedguard ·

Ja Jeanette, jy lees reg, dit maak nie saak hoe tragies dit is nie maar vereis die Strafproses wet dat die stappe geneem moet word , dis nie te se dat hy skuldig bevind gaan word nie, elke saak het sy eie meriete!

Ilse ·

Hulle kan nie dit aan die pa doen nie. Mens vra nie vir ‘n ongeluk om te gebeur.

anie ·

SLAG GATE weer eens n bewys dat die land se paaie in n SLEGTE toestand is . so jammer en so hartseer

Carla ·

Anie…. lees weer mens. Nerens word genoem van slaggate nie. Ek ry self daai pad en daar is geen slaggate daar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.