Gesin se gemoed ligter danksy Steyn se vordering

Steyn Steenberg toon goeie vordering en neem al vaste kos in. (Foto: Verskaf)

Steyn Steenberg, ʼn graad 10-leerder aan die Hoërskool Garsfontein in Pretoria, groet beleefd en luister dan gretig na die gesprek om hom waar hy regop in sy hospitaalbed in die Netcare Unitas-hospitaal sit. Hy wys met sy duim dat dit beter met hom gaan.

Hoewel Steyn sukkel om te praat, gaan dit goed met dié tiener wat twee weke gelede by die dood omgedraai het ná ʼn ernstige motorfietsongeluk.

Die 16-jarige het verlede week nog in die waakeenheid van dié hospitaal aangesterk waarna hy oor die naweek na die hoësorgeenheid en vandeesweek eindelik na ʼn gewone saal geskuif is. Dit is vir hom beter hiér, beduie hy.

Steyn het ernstige beserings opgedoen toe hy op Moedersdag sowat ʼn kilometer van sy ouerhuis met sy motorfiets teen ʼn staalversperring gebots het. Al drie sy hoofslagare in die been is tydens die ongeluk afgesny. Sy beserings was van só ʼn aard dat dokters tussen sy lewe en sy been moes kies, en sy been is gevolglik geamputeer.

Sy longe het ook kort na die ongeluk platgeval en sy bekkenbeen is tydens die ongeluk gebreek. Hy is dae lank onder verdowing geplaas voordat hy stadig maar seker van die verdowing gespeen is.

Dit is sedertdien dat Steyn sukkel om te sluk of te praat. “Die dokter het gesê dit lyk of hy moontlik ligte beroertes in twee areas van die brein opgedoen het,” verduidelik Christa Steenberg, Steyn se ma, aan Maroela Media.

Die beroertes het waarskynlik plaasgevind toe Steyn ná die ongeluk in die hospitaal opgeneem is en deur dokters bygebring moes word nadat hy weens bloedverlies sy bewussyn verloor het.

Maats kuier by Steyn in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

“Sy bloeddruk was laag,” voeg Jacques Steenberg, Steyn se pa, by.

Dokters sal dus later vandeesweek nog breinskanderings doen om presies vas te stel waarom Steyn sukkel om te praat. Die tiener het verlede week nog gesukkel om te sluk, maar vandeesweek het Steyn reeds vir die eerste keer vaste kos geëet en kan hy al ʼn paar woorde met ʼn heserige stem sê.

“Die neuroloog sê [die beroertes] is in ʼn area van die brein wat oor die algemeen goed herstel,” verduidelik Jacques.

Die tiener ontvang reeds fisioterapie, arbeidsterapie en spraakterapie in die hospitaal en sal by ʼn rehabilitasiesentrum opgeneem word sodra hy uit die hospitaal ontslaan word. Steyn toon al goeie vordering en loop reeds met krukke waar hy verlede week nog met ʼn loopraam moes oefen.

Maats loer gereeld by die hospitaal in om vir Steyn te kom kuier en hy beduie dat dit vir hom lekker is. Terwyl die gesin met Maroela Media gesels, wag nog ʼn vriend juis sy besoekbeurt af in die hospitaalgang.

“As dit met hom goed gaan, gaan dit met ons goed. As hy beter lyk, lyk ons beter,” sê die Steenbergs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wielspore ·

Sterkte, sulke beserings het gewoonlik ‘n lang herstel pad, met die regte gemoed en ondersteuning is jy een van die dae weer perdfris en gesond.

Linda ·

Ek wens die Regering wil motorfietse verbied. My seun was in Matriek daardie Augustus maand toe n bakkie hom slaan. Hy was amper 7 maande lank in die hospitaal en het vele operasies gehad. Maar die Trauma wat ek as ma gehad het, bly nogsteeds in my gedagtes al is dit 5 jaar later !!!

Helena.f ·

Fantastiese goeie nuus!!! Nou net kalm bly en baaaie geduldig wees. Jys op die wen pad seun en ek glo in my hart baie gebede gaan op vir jou herstel. Sterkte vir sy ouers en ek dink hyt ook n sussie..baie sterkte.

Gerda ·

Steyn, jy is n wonderwerk. God is groot. My een vriend het sy been verloor en niks stop hom nie. Hy speel puik tennis en doen staproetes EN ry alweer sy motorfiets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.