Gesin se hond dood ná polisie glo losbrand

Skyler, ‘n Rottweiler-kruising, is Dinsdagaand dood nadat sy glo vroeër deur ‘n polisielid geskiet is.

“Ek voel om te huil.”

Só het Ashley Adams Woensdag gesê nadat lede van die polisie se teenbende-eenheid na bewering sy hond, Skyler, Sondag tydens ʼn klopjag in Bonteheuwel in Kaapstad geskiet het.

Maroela Media het vroeër berig die Rottweiler-kruising was vasgemaak toe polisielede, ná ʼn vermeende bendeverwante skietery vroeër die dag in die omgewing, huise daar deursoek het.

Adams het gesê die polisielede het gevra om die perseel binne te kom en een beampte het selfs gevra of die honde vasgemaak is.

Met die uitstapslag het een van die polisiebeamptes volgens Adams vir Skyler verskeie kere geskiet.

Die hond is in ʼn bedenklike toestand na ʼn dierekliniek in die omgewing geneem, maar is Dinsdagaand dood, het Adams gesê.

“Dis ʼn hond, man, nie ʼn gangster nie,” het Adams ontsteld gesê nadat hy vroeër vanoggend oor die dier se dood ingelig is.

“Hulle kan nie ʼn mens se hond net so skiet nie. Ek is hartseer en moedeloos.”

Die polisie het by navraag gesê die hond het hulle aangeval toe hulle die perseel binnegegaan het. “Die klaer word aangeraai om die polisie van ʼn verklaring te voorsien.”

Adams ontken ten sterkste dat sy honde enigiemand wou aanval en sê al drie die gesin se honde was vasgemaak tydens die deursoeking en het geen gevaar vir die polisie ingehou nie. Hy sê hy het ook verneem dat ʼn ander inwoner van die buurt voor sy hond gaan staan het om die dier te beskerm nadat die polisie dieselfde dag glo gedreig het om ook dié hond te skiet.

Adams sê hy oorweeg dit nou om hom na die polisie se onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) te wend om die voorval te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anel

My hart bloeie vir die hond en sy eienaar. As ek nog iets sê beland ek in die tronk.

Annie

my goeie hemel – dai man sou nie van my erf afgestap het nie hy sou afgedra moes word as dit my hond was nie …. jammer dat die mensdom jou in die steek gelaat het pragtige woef baba – fly free little angel :-(

Skylertjie

Vreeslik jammer maar ek dink dit is dalk beter vir skylertjie. Ek glo nie sy het veel van ‘n lewe gehad so aan ‘n ketting nie. Ek hoop dit lafaard wat haar geskiet het kry die straf wat hy verdien.

Hanlie

Dis so hartseer. Weereens net bewys dat die polisie dink hulle kan doen wat hulle wil. Tyd dat hulle vasgevat word.

Wanda

Niemand is meer veilig in die land van ons nie! Nie dier of mens nie!