Gesin se huis aan die brand gesteek

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Gesin van Lindhaven in Johannesburg is haweloos gelaat nadat die huis, waarin hulle al vir meer as 20 jaar lank bly, aan die brand gesteek is.

“Hulle het my huis afgebrand en my honde doodgemaak en my kar aan die brand gesteek, net omdat hulle aanneem iets het gebeur,” het die vrou, wat uit vrees anoniem wil bly, Woensdag aan Sapa gesê. “Ons het niks met enigiets te doen gehad nie. Waarom sou ons so iets doen?”

ʼn Skare van ʼn nabygeleë informele nedersetting, naby Princess Crossing en Westgate, het die huis afgebrand omdat hulle glo die vrou se man het iemand in die gebied vermoor.

Lt. Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn man wat in die informele nedersetting bly is Vrydag doodgeskiet. Sy liggaam is Saterdag gevind. Die groep beskuldig die vrou se man van die moord.

“My man het nog nooit eers ʼn vuurwapen besit nie,” het die vrou gesê.

Sy het glo Dinsdagmiddag omstreeks 18:15 by die huis opgedaag toe ʼn groep mense by die grensdraad van die huis gestaan het. “Ek het stilgehou om te hoor wat gebeur. Hulle was oproerig en ʼn polisieman moes my na my motor begelei het.”

Volgens die vrou het ʼn skare van ongeveer 300 mense aan die heining van haar huis begin ruk. “Ek het die polisie gebel, en ek het die blitspatrollie ontbied. Ek het sewe vriende gevra om die polisie te bel, maar hulle het nie reageer nie.”

Die vrou, haar skoondogter, kleindogter, man en huishulp kon uiteindelik tot by hul motor kom en van die eiendom wegvlug. Sy het haar drie honde in die huis toegesluit en gedink die skare sal nie kan inkom nie. Die vrou se man het omstreeks 21:30 teruggekeer en gesien die skare het deur die muur gebreek.

Die vrou het glo weer die blitspatrollie ontbied en gesê die mense probeer om haar huis af te brand. Volgens haar het die beampte die telefoon in haar oor neergesit.

Sy het toe vir haar man gesê hy moet daar wegkom, want dit is te gevaarlik. Die bure het haar omstreeks 22:10 gebel om te sê die huis word afgebrand.

Hulle het weer teruggejaag na die huis toe en die brandweer en polisie was reeds op die toneel. Twee van die honde wat in die huis toegesluit was, het verkool. Die derde hond is na die veearts gehaas.

“Ons bly al 27 jaar in hierdie huis sonder enige voorval,” het die vrou gesê.

Die polisie het die gesin verseker dat hulle deur die aand by die huis sal bly. Die gesin het omstreeks 09:00 weer teruggekeer om te kyk wat hulle kon red. “Ons hele lewe was in die huis.” Die polisie was nog steeds daar en het haar man gevra of hy ʼn vuurwapen besit. Hy het dit ontken. Die polisie het hul identiteitsnommers neergeskryf en die perseel verlaat.

“Die polisie het ons net daar gelos en vyf minute later het ʼn groep mense weer opgedaag,” het die vrou bygevoeg. Hulle moes weer wegjaag en het later saam met veiligheidsbeamptes teruggekeer.

Die gesin bly nou intussen saam met familielede en vriende.

“Ek gaan maar ʼn paar kledingstukke en skoene koop en vir my man ʼn paar sokkies en dan sal ons maar teruggaan werk toe,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JoeV ·

Dis die begin van ‘n nuwe guur. Versekering het lank reeds die klosule “politieke geweld” uit gehaal, sie is jou eie skade as did gebeur.

Tragies, dink aan julle.

Lisa Prinsloo ·

Geen hulp van die SAP meer, dis aan die orde van die dag!! Blitspatrollie antwoord nooit en as jy die dag n onbelangstellende, onduidelike, slaperige stem aan die anderkant van die lyn kry is dit voorwaar n wonderwerk!! Wat n skande!!! Mense werk hard vir jare en barbare kom en vernietig als wat jy besit in n oogwink!!! Geen respek of gevoel vir n ander mens of dier nie!! Ek wil tjank elke dag as ek sulke goed lees en hoor, wat gaan word van ons kinders????? Mag God ons genadig wees!! Aan die familie: eks jammer vir jul verlies en pyn, sterkte ek dink aan jul.

Alet ·

Wees asb so gaaf om my via Maroela Media te kontak aangesien ek nie my persoonlike besonderhede wil gee nie.

Tokkie ·

Dagvaar die onbeholpe regering wat nie SA se burgers kan beskerm nie

Tokkie ·

Waarom wil Maroela nie my kommentaar plaas nie – is dit omdat ek voorgestel het dat die mense die onbeholpe regering dagvaar wat nie SA se burgers kan beskerm nie?

Elizabeth ·

Die is verskriklik! Die arme, arme honde en die arme mense – kan my nie indink hoe dit moet wees nie! Kan mens nie op ‘n manier die mense bystaan met klere en kos of iets nie? Mens voel hulpeloos as mens nie weet hoe om dit by hul te kry nie. Enige voorstelle van iemand?

pop ·

Ek is nou so ontsteld dat ek begin opgooi het. Maroela stig asb n hulpfonds sodat ons kan help. Ons kan mos saamstaan.

Drieks ·

Ek het al gevra vir iemand wat weet om ons die regte antwoord te gee.
Hoekom kan die regering nie ons skade betaal wat ons deur misdaad kry nie.
Iemand moet tog weet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.