Gesin se kankerskok: Ma en dogter veg saam

'n Onlangse foto van Erica Rhoode en haar dogter, Alexis. (Foto: Facebook via Alexis HOPE Foundation)

‘n Onlangse foto van Erica Rhoode en haar dogter, Alexis. (Foto: Facebook via Alexis HOPE Foundation)

Op die oog af is klein Alexis Rhoode ʼn doodgewone agtjarige meisie wat net soos ander dogtertjies van haar ouderdom lief is vir skool, ballet en netbal.

Die enigste verskil tussen haar en haar gr. 2-klasmaats by die Laerskool Dirkie Uys op Moorreesburg in die Wes-Kaap, is dat Alexis in Februarie 2015 met hoërisiko-fasevier-neuroblastoomkanker gediagnoseer is en steeds chemoterapie daarvoor ontvang.

“As dit nie vir die bleskoppie was nie, sou jy nie eens weet sy is siek nie,” sê Jeandré Easton, Alexis se oudste suster, in ʼn onderhoud met Maroela Media. “My ma, Erica, hou haar nie terug van enigiets nie en sy lei sover moontlik ʼn normale lewe.”

Erica (51) is in 2017 self met borskanker gediagnoseer en nou beveg dié ma en haar laatlammetjie dié gevreesde siekte hand aan hand.

Easton vertel dat Alexis se opwagting in 2011 ʼn groot verrassing vir die hele gesin was, aangesien hulle reeds vier kinders in die huis was, van wie die jongste in daardie stadium in gr. 10 was. Sy self was reeds 26 jaar oud.

“Ons was baie verbaas toe ons hoor dat ons weer ʼn babasussie in die huis gaan hê, want ons almal was toe al groot. Dit was só spesiaal vir ons almal dat daar nou skielik weer ʼn baba in die gesin is,” vertel sy.

Toe Alexis in Februarie 2015 begin kla van pyn in haar regterbeen, het die Rhoode-gesin geen idee gehad watter beproewing nog op hulle sou wag nie. Twee dae later het Erica ʼn knop op Alexis se maag opgelet.

“Sy het haar dadelik dokter toe geneem. Hulle het aanvanklik gedink dit is ʼn obstruksie in die derm aangesien sy gesukkel het met hardlywigheid en sy is daarvoor behandel,” vertel Easton.

“Alexis het twee dae later koors gekry en my ma het haar na die Vredenburg- provinsiale hospitaal gehaas, waar die dokter gesê het haar infeksietelling is baie hoog. Sy het een aand in die hospitaal geslaap en die volgende dag is sy huis toe gestuur met antibiotika.”

Alexis Rhoode. (Foto: Facebook via Alexis HOPE Foundation)

Alexis Rhoode. (Foto: Facebook via Alexis HOPE Foundation)

ʼn Week later het haar koors weer gestyg en sy is weer hospitaal toe geneem. Sy is nog ʼn keer huis toe gestuur met ʼn kursus sterker antibiotika. Die koors het egter nie gebreek nie.

“Ek het voorgestel dat my ma haar na ʼn ander dokter neem,” sê Easton. Alexis is van daar af na die Netcare Blaauwberg-hospitaal toe geneem waar die dokter getoets het vir tuberkulose en klierkoors. Sy is opgeneem in die hospitaal en het binneaarse antibiotika ontvang.

“Die koors het gebreek en sy is huis toe gestuur, maar dit was nie lank voor haar koors terug was nie en sy is weer teruggeneem na dié dokter, wat toe vermoed het dat iets ernstig fout is. Hy het dadelik gereël dat sy in die Rooikruis-kinderhospitaal opgeneem word. Binne 24 uur is sy met hoërisiko-fasevier-neuroblastoomkanker gediagnoseer,” vertel Easton.

Alexis was drie jaar en agt maande oud ten tyde van dié skokdiagnose. “Sy het dadelik met chemoterapie-behandeling begin waarna dokters suksesvol drie gewasse agter haar een nier verwyder het. Daarna het sy nog 14 rondes bestraling en chemo-pille ontvang tot in April 2016.”

Sy was uiteindelik in remissie en die Rhoode-gesin het gedink hulle kan ontspan – tot haar eerste terugslag in Augustus 2016 toe Alexis begin kla het van hoofpyn en naarheid. Sy is dadelik terug Rooikruis-kinderhospitaal toe waar toetse gewys het sy het ʼn massa op haar brein.

“Dit was ʼn groot skok, veral omdat die dokters ons gewaarsku het dat Alexis dit moontlik nie deur die breinoperasie gaan maak nie en dat ons ons op die ergste moet voorberei. Ons het gebid dat dit bars,” sê Easton.

“Sy is op 6 Desember 2016 in teater toe en het ons almal verras toe sy wakker word. Sy is ʼn vegter en lewende wonderwerk.”

Tog het die Rhoode-gesin se diepe waters nie dáár opgedroog nie. Voor Alexis se operasie het Erica ʼn knop in haar linkerbors gevoel en is sy in Januarie 2017 dokter toe. “Sy was so oorweldig deur Alexis se kankerstryd dat sy nie aandag aan haarself gegee het nie en die knop eers geïgnoreer het,” sê Easton.

Erica en Alexis Rhoode. (Facebook via Alexis HOPE Foundation)

Erica en Alexis Rhoode. (Facebook via Alexis HOPE Foundation)

Uiteindelik, ná vele toetste en ondersoeke by die Groote Schuur-hospitaal, is Erica met borskanker gediagnoseer. “Ons hele gesin was platgeslaan. Ons kon nie verstaan hoekom nie. My ma sit reeds met Alexis wat kanker het en nou moet sy self daarmee deal. Ons kon nie verstaan waarom ʼn ma, wat deur so baie is met haar jongste dogtertjie, nog dié stryd ook die hoof moet bied nie.”

Net voor haar 50ste verjaardag het Erica ʼn suksesvolle mastektomie ondergaan. Sy en Alexis het saam aangesterk en het albei behandeling ontvang tot Augustus 2017.

Albei was in remissie tot Alexis se tweede terugslag in Junie 2018, kort voor haar sewende verjaardag. “Sy het swelling aan die linkerkant van haar keel gehad. Die dokter het vermoed dit is pampoentjies en het gesê dit behoort ná sewe dae te sak, wat nie gebeur het nie. My ma het toevallig die dag ʼn opvolgafspraak by Groote Schuur gehad en het besluit om Alexis na die Rooikruis- kinderhospitaal te neem vir verdere ondersoeke.

“Die toetse en CT-skandering het bevesig dat Alexis se kanker terug was. Dit het versprei na haar limfkliere en ander dele van haar liggaam. Hoewel sy dadelik weer met behandeling begin het, was ʼn operasie nie hierdie keer ʼn opsie nie aangesien die gewas langs ʼn hoofslagaar en senuwees was.”

In Maart vanjaar het die dokters die Rhoode-gesin meegedeel dat Alexis kankervry is. “Dit is ʼn wonderwerk,” sê Easton, hoewel Alexis nog tot in September vanjaar chemo moet ontvang.

Steeds kon die Rhoode-familie nie rus nie. In Desember 2018 het Erica weer ʼn knop gevoel, dié keer in haar nek. Sy is in Januarie vanjaar weer terug na Groote Schuur waar dokters nog ʼn knop onder haar regterarm gevind het. “Dié keer is dit nie net in haar bors nie, maar ook haar longe, lewer en beendere.”

Volgens Easton gee Erica voor dat sy “oukei” is. “Ek glo egter dit is baie erger as wat sy dit vir óns wil laat klink. Sy wil nie hê ons moet stres oor haar nie.”

Sy vertel haar pa, André, is die enigste broodwinner en werk hard om die pot aan die kook te hou. “Alexis is sy alles. As sy vir Dadda bel, dan bring hy wat sy vra en hy is ʼn groot steunpilaar.”

Tans word Alexis se behandeling gefinansier met die hulp van die Cupcakes for kids with cancer-organisasie. Die koste vir haar behandeling beloop R6 000 per elke drie weke.

Erica en Alexis Rhoode. (Foto: Facebook via Alexis HOPE Foundation)

Erica en Alexis Rhoode. (Foto: Facebook via Alexis HOPE Foundation)

“My ma is werklik ʼn superheldin. Sy bring self elke derde week vir Alexis hospitaal toe en bly dan by my en my gesin in die Kaap oor. Sy neem ook haarself hospitaal toe. Ek dink as ma vind jy die krag as dit kom by jou kind, want dan doen jy dit net, maak nie saak wat nie.

“Ons gesin laat dit net werk onder mekaar. My ma moet elke week ry van Moorreesburg af na die verskillende hospitale toe, want sy kry twee weke agtereenvolgens behandeling en in die week wat sy nie behandeling kry nie, is dit Alexis se beurt,” verduidelik Easton.

“My ma is die sterkste vrou wat ek ken. Om dae, nagte en weke langs jou kind se hospitaalbed te waak en te bid vir wonderwerke, en om nie net jou eie kanker te beveg nie, maar ook saam met jou kind haar kanker te beveg, wil gedoen wees. Niks is vir ons ma onmoontlik nie en sy is werklik ons heldin.”

Enigiemand wat die Rhoode-gesin finansieel wil ondersteun, kan Alexis se Facebook-blad besoek of vir Jeandré Easton nader by 079 295 6516.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Yankee ·

Pragtige ou mensie. Daardie ogies wys egter sy is n vegter. Mooi so kleinding, skop daardie K onder sy agterent!!

Skerpioen ·

Ek bid vir julle gesin. Ek bid vir genesing en dat julle nog baie jare vir mekaar gespaar sal word. Ek bid vir krag en vir vrede.

Boerin ·

Erika en Alexis….julle pragtige kinders van God ! Mag HY Sy hande oor julle hou, mag julle sterk terug veg…en HY julle elke dag die Krag gee.
Ek dra julle op…

Db ·

Ek wonder partykeer hoekom ‘n kind sulke siektes moet kry. Wat is die doel agter dit of mag ek nie vra nie? Ek weet net die Vader sal hulle deur dit dra en iemand op hulle pad aanraak wat Hom nodig het want hulle hou reeds baie sterk aan Hom vas. Sterkte vir julle en die hele familie wat deur hierdie beproewings moet gaan

Gesiggie ·

Sjoe… die verhaal het trane laat vloei en dit is so hartseer dat n Ma en dogter deur als moet gaan… al die pyn die seer die bekommernis. Erica jy is n yster van n vrou en n Ma duisend en vir Alexis… jy is n engel kind en jou glimlag verhelder al die seer. Mag die Here vir Erica en Alexis aanraak, hul genees van al die eina en die kanker…. saam sal jul kan getuig van n wonderwerk in jul lewens. Hou aan Glo.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.