Gesin se nagmerrie ná botsing tot skok-diagnose lei

Dean, Suleen en Lientjie Truter (Foto: Verskaf)

ʼn Gesin van Gauteng sê hulle is platgeslaan ná ʼn reeks tragedies hul lewe handomkeer verander het: Eers was hul 20-jarige dogter in ʼn motorongeluk wat haar in die hoësorgeenheid laat beland het; toe beleef die gesin nóg ʼn terugslag nadat sy met ʼn seldsame breingewas gediagnoseer is en intussen is die gesin ook hul familieonderneming kwyt.

“Ons is platgeslaan,” sê Dean en Lientjie Truter in ʼn onderhoud met Maroela Media. “ʼn Mens kan staande bly na één terugslag, maar wanneer ʼn reeks tragedies ʼn mens in só ʼn kort tydperk tref, is dit moeilik om positief te bly.”

Die Truter-egpaar se dogter, Suleen, is verlede jaar ná ʼn ongeluk in Wierdapark in Pretoria na ʼn hospitaal in Centurion gehaas.

Suleen het glo vroeër die aand saam met vriende gekuier toe die ongeluk op pad terug na haar ouerhuis gebeur het. Sy het na bewering by ʼn skerp draai beheer oor die motor verloor en in die buitemuur van ʼn huis vasgery. Die muur het ineengestort en die grootste deel van die baksteenmuur het op die bestuurder se kant van die motor geval.

Lientjie sê Suleen het erge kopbeserings opgedoen en is in die hoësorgeenheid van die Unitas-hospitaal opgeneem. “Die ongeluk het my platgeslaan,” sê sy. “ʼn Mens skrik geweldig groot – jy dink onmiddellik dat jy dalk een van jou kinders kan verloor. Ek onthou nie alles van daardie dag nie omdat ʼn mens se lyf in skok gaan. Ek weet net daar was vrese dat sy dit nie sou maak nie. Sy het erg gebloei en die dokters het gevrees dat sy dalk aan haar bloed kan stik. Hulle was ook bekommerd dat sy sou ophou asemhaal.”

Suleen Truter (Foto: Verskaf)

Die egpaar sê hulle was nié voorbereid vir nóg ʼn terugslag nie. “Ons kon nie eers behoorlik sin maak van die ongeluk nie, toe moes ons hoor die dokters wil ons sien oor ʼn diagnose wat hulle gemaak het. Ons was geskok, platgeslaan. Jy dink nie reguit in so ʼn oomblik nie – jy wag dat hulle vir jou die ergste sê sodat jy dit kan probeer verwerk.”

En dit wás erg, sê sy. Suleen is gediagnoseer met akoestiese neuroma – ʼn seldsame breingewas waar die gewas tussen senuwees op die breinstam groei en mettertyd tot gehoorverlies ly. Dit is ʼn gewas wat hoogs ingewikkeld is om deur middel van ʼn chirurgiese operasie te verwyder omdat die breinstam en -senuwees in die proses erg beskadig kan word.

Mediese personeel het later eers besef dat dié breingewas juis ook die rede is hoekom Suleen al ʼn geruime tyd aan gehoorverlies begin ly het. Sy het dit egter nooit laat ondersoek nie omdat sy nie “ernstige onraad” vermoed het nie.

Suleen, wat verlede jaar ʼn tweedejaar student in rolprentvervaardiging en -skryf by Afda in Johannesburg was, moes intussen op versoek van mediese kenners haar studies staak totdat sy ʼn operasie ondergaan het om die gewas te verwyder.

“Wat moet ʼn mens sê? Niks wat jy sê of doen gaan help nie. ʼn Mens bid, jy hoop,” sê sy.

ʼn Mediese span in Pretoria het intussen aan die gesin gesê ʼn alternatiewe en relatief nuwe behandeling vir dié gewas is waarskynlik die beste behandeling om die groeisel te verwyder. Die behandeling vereis dat Suleen bestraling moet ondergaan en die behandeling is volgens die dokters baie veiliger as om die gewas chirurgies te probeer verwyder.

Suleen Truter (Foto: Verskaf)

Die gesin het na weldoeners landswyd uitgereik in ʼn poging om geld vir die operasie in te samel aangesien hulle nié ʼn mediese fonds het nie.

Dean, wat vroeër sy eie konstruksiebedryf gehad het, sê die onderneming is vroeër bankrot verklaar omdat hy nie meer kontrakte gekry het om te werk nie. Die gesin beweer dit het te doen met onvoldoende vlakke van swart ekonomiese bemagtiging in die maatskappy wat uiteindelik verlede jaar ook daartoe gelei het dat die onderneming gelikwideer is.

“Ons het selfs ons huis in die proses verloor,” sê Lientjie. “Wanneer dinge weer beter sal gaan, weet ons nie. Wat ons wel weet is dat ons alles in ons vermoë moet doen om te verseker dat sy hierdie behandeling kan kry.”

Dr. Sheynaz Bassa, ʼn kliniese onkoloog, het aan Maroela Media bevestig dat Suleen met die gewas gediagnoseer is. Bassa sê mediese kenners is wel van mening dat bestraling die beste metode sal wees om dié gewas te verwyder sonder om permanente skade te veroorsaak.

Die Truter-gesin is vandeesweek by die Groote Schuur-hospitaal in die Wes-Kaap. Lientjie sê hulle sal na alle waarskynlikheid Vrydag hoor hoe die pad vorentoe gaan lyk. “ʼn Paneel dokters sal more ná die laaste ondersoek kan sê wat ons vorentoe kan verwag, wat die behandeling alles gaan behels en hoe lank dit én haar herstelpad gaan neem.”

Die behandeling sal na verwagting meer as R200 000 kos. Die gesin het intussen ʼn trust gestig vir weldoeners wat betrokke wil raak deur middel van skenkings. Vir meer inligting stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Ada ·

O My genade!!!
Ek dink aan julle!!!
Pragtige dogter.!
Vat dit dag vir dag en Glo!!!

Jenifed ·

Ek ht vir die Truter gesin gewerk jare gelede. Pragtige mense en behulpsaam. My hart gaan uit na hulle. Bid vir julle as familie, God sal voorsiem

Buitestander ·

Lees gerus die boek Job in die bybel.
Laat mens nader aan God lewe en op Hom vertou.

Marinda ·

Alles sal weer regkom. Ek is ook deur baie diepe waters en nes een ding verby is, was die volgende daar, maar my geloof en die feit dat ek en my familie deur alles nog mekaar gehad het, het ons deur gesien. ñ Mens bly staande. As ek nou terug kyk lag ek daaroor. Dit was nie snaaks toe nie.
Never give up, no matter what. Sterkte vir julle.

Deloris ·

Genade, mag julle krag kry van ons Here af… hou vas aan julle geloof, en aan God. Sterkte.

Andre Grundlingh jnr ·

Jislaaik. Dit is rof. So mooi meisiekind! Julle sal ok wees. Sterkte

Theresa B ·

Baie sterkte vir julle. Moet nooit julle hoop en geloof verloor nie. Dinge sal weer beter word. Mag die Here julle Seën en ook die Dr’s wat oor julle dogter se beterskap beskik.

Bernard ·

Ek is self met ‘n akoestiese neuroom in 2011 gediagnoseer ek was 19 jaar oud… Lang storie kort, na 4 x 12 uur operasies en 30 sesies bestraling het ons “die ding” gewen… Ek het net 1 oor (die ander is nou net daar as ‘n “decoration”) en het ‘n klein bietjie senuwee skade in my gesig, het ‘n goeie werk en is tans besig om Blasting Engineering deur Tuks te studeer… Al wat ek probeer se is dat niks op jou pad kan te groot wees vir julle nie, weet waar jou krag vandaan kom… Baie sterkte met dit wat voorle…

Gert Fourie ·

Byt vas Suster. Ek het n brein operasie gehad wat 80% van my akoestiese neuroom verwyder het. Dis nie die einde nie! Sou graag met julle daaroor wou praat vir bemoediging. Sterkte, sulke dinge bring jou tot op jou kniee… Ek bid vir jou hoor.
(As julle kan, kontak my asb?)

Pine ·

As jou bron van inkomste opdroog word ‘n mediese fonds en ander voorsienings onbekostigbaar. Ons gebede vir Suleen is on onbeurlik, maar geloof sonder werke is dood en in hierdie geval kan die werke ‘n bydrae wees.

Gert Fourie. ·

Byt vas suster. Ek moes die operasie laat doen om my neuroma te verwyder. Sou graag in kontak wou kom vir bemoediging. Dis nie die einde nie, maar wel die begin vir jou. Jy sal eendag verstaan.Ek bid vir jou!!!

Gert Fourie. ·

Ons probeer weer… Ek is deur so operasie. Byt vas, dis nie die einde nie, maar wel n nuwe begin. Sou julle graag wou kontak. Ons bid vir julle!!!

Amelia ·

Sterkte, het ek ook so pas gedink. Dalk moet die ouers dankbaar wees vir die ongeluk waarin hul dogter was. Die Here het snaakse maniere om sekere dinge te laat gebeur. Sodoende is die gewas ontdek terwyl dit nog gestop kan word. Eintlik is die Here wonderlik. Ons besef net nie altyd hoekom als gebeur nie en ja ek wat al deur baie situasies is en veral gesondheid, sien n paar jaar daarna die hand van die Here daarin. Ek het onmiddelik gesien toe ek die stuk lees, dat die Here eintlik die gesin gehelp het met die ongeluk en ja, ek verstaan ook hul moedeloosheid want ons is net mense.

Genade ·

Hierdie Omstandighede sal Beslis n Storie van Hoop word vir Ander in Tyd Vorentoe as Julle Sterk staan en aan die Here Vashou en Op Hom Vertrou!!!
Glo my Hy is met Julle en Hy se in die Woord dat Hy Alles Weer Nuut kan en Sal maak want Hy is God.
En as Julle van Hom Die God van Israel wil Getuig en Sy Naam Groot maak Sal HY Dit vir Julle doen Volgens Julle Geloof in Hom.
Staan Vas, Worship Hom en Se net Solank dankie vir Enige iets wat N mens dankie kan se voor Al voel Julle daar is “niks”
For We do not go by what we see but by What We Believe.
Sterkte.

Gesiggie ·

My hart gaan uit na die gesin… wat n prag van n dogter… Wees verseker God is Groot… en met Ons God is enige iets moontlik… Hou net vas aan Sy kleed… en vertrou, als sal weer beter gaan en ek weet Die Engele sal na Suleen kyk, en na jul as n gesin… als wat mooi is

Pierre ·

Vroulief se tannie sterf weens longkanker. Twee weke later word vroulief self gediagnoseer met fase 4 kanker. Twee ernstige operasies volg en chemo sessies. Sy beland in dieselfde kamers waar haar tannie gele het. Tydens 1ste operasie gaan staan haar hart weens foutiewe narkose masjien lesing. Ons skoolgaande tiener dogter skenk net voor alles geboorte. Twee maande later sterf n tannie van my aan kanker. Twee weke later sterf my oom ook aan kanker. Op dag van vrou se laaste chemo beland my oudste dogter in ICU weens ernstige botsing. Jaar na dit skeur jongste ligamente morsaf en word geopereer. Op selfde dag word ons ses dag oue kar afgeskryf in botsing. Vrou en oudste dogter matig beseer. Ek word met ernstige ptsd gediagnoseer en beland twee maal in hospitaal vir behandeling. Dus het ek nie simpatie nie maar empatie. Ons as gesin is besig om weer op te staan slegs deur genade. Mag die Heer se genade ook jul as gesin omhels met genesing en inkomste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.