Gesin soek ooggetuies ná man se dood

Shawn van Eeeden (Foto: Verskaf)

Shawn van Eeden (51) se gesin is dringend op soek na ooggetuies wat kan help met inligting nadat hy verlede maand buite ’n kroeg in Turffontein in Johannesburg glo aangerand is en dae later in ’n hospitaal dood is.

Van Eeden is ná die voorval op 23 Oktober in die Charlotte Maxeke-hospitaal opgeneem waar hy nege dae later aan sy wonde beswyk het.

Sy vrou, Liz Craucamp, sê die gesin is op soek na ooggetuies wat daardie Vrydagaand buite die kroeg gesien het wat met Van Eeden gebeur het. Hulle vermoed hy is erg aangerand.

Volgens gerugte is ’n video glo die aand van die gebeure geneem. Talle omstanders in die omtrek het ook moontlik gesien wat gebeur het.

Craucamp vertel Van Eeden is die aand omstreeks 21:30 na die kroeg toe om sy seun te gaan soek.

“Hy het al gereedgemaak om te gaan slaap toe sy seun twee van sy selfone gegryp en weggehardloop het. Hy het hom gaan soek. Hy het vermoed dat sy seun dalk na dié spesifieke kroeg toe is en hy het hom daar gaan soek.”

Daar word beweer dat Van Eeden deur ’n groep mans voorgekeer is toe hy by die kroeg aankom.

“Volgens gerugte is hy met ’n bofbalkolf bygekom en erg geslaan. Ons het ook ’n storie gehoor dat hy omgery is en onder ’n motor beland het.”

Lee-Ann Mellett, Van Eeden se dogter, sê iemand het daardie aand die ambulans gebel om haar pa te kom haal, maar hulle weet nie wie die persoon is nie. Sy sê iemand het ook glo ʼn babakombers oor hom gegooi voor die ambulans opgedaag het.

“Hierdie mense swyg nou,” sê sy.

Shawn van Eeden (Foto: Verskaf)

Die gesin het vandag sy liggaam gesien nadat hy Sondag in die hospitaal oorlede is.

“Ek was geskok om die wonde op sy vernielde liggaam te sien. Hy is deur hel. Niemand verdien om deur sulke wreedheid te gaan nie.”

Craucamp het die hospitaalpersoneel bedank dat hulle so goed na Van Eeden omgesien het.

Van Eeden was welbekend in die Turffontein-omgewing en volgens sy vrou het hy ’n hart van goud gehad.

’n Saak van poging tot moord is aanvanklik by die Booysens-polisiestasie aanhangig gemaak. Kapt. Lorraine van Emmerik, woordvoerder van die Booysens-polisiestasie, het bevestig dat dit ná Van Eeden se dood na ’n moordsaak verander is.

“Die polisie ondersoek nog die saak en dit is nog nie duidelik wat presies gebeur het nie.”

’n Roudiens sal later vandeesmaand vir Van Eeden gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

LiveAndLetLive ·

Ek hoop van harte hulle kry die mense wat verantwoordelik is vir die man se dood.
Sterkte aan sy familie, dit sal dalk help as julle die nagklub se naam ook noem.

Nicolene ·

Waar is die seun nou? En watter antwoorde het hy om te deel?

Boervrou ·

Ek wil dieselfde vraag vra, en jammer aan die RES van die familie oor al die hartseer wat julle moet deurgaan, maar swyg die seuntjie ook nou?
Daar is net te veel kinders wat hulle ouers se besittings “neem” of vir hulleself toe eien, soveel sò dat sommige ouers kaalbas uitstap. Jammer seun, maar “miskien” is jy bewus wat daar gebeur het. So maklik as wat jy daai 2 selfone gegryp en weggehardloop het, so maklik kan jy bietjie soos ‘n kanarie begin sing.

Riaana ·

R. I. V. Van Eeden my hart bloei letterlik hier waar ek sit, waarom moet mense soos gediertes mense betrek, vir die gesin wens ek troos toe wat net die Liewe Vader vir jou sal kan gee, dit skeer mens se hart uit mens se bors uit om te besef watse wreede vieslike plek die Aarde geword het, die skuldiges hoort in die bos of nie eens nie mag die Liewe Vader julle daggies vir julle uit le, hoop julle gewettes eet julle tot op die dag wat julle gemaai het, wat julle gesaai het, dit wat jy aan ander doen SAL AAN JOU GEDOEN word.

Blomme ·

Wens so ons word eendag wakker uit hierdie nagmerrie van ń land! Sodom en Gomorrah. Ek sidder vir die dag wanneer God Sy hand oor hierdie land gaan uitsteek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.