Gesin sterf in N3-ongeluk: ‘Hulle was engelmense’

Die Snyman-gesin (Foto: Verskaf)

“Hulle was engelmense met oop harte wat op só ʼn tragiese wyse van ons weggeneem is.”

Só vertel Ansunette Snyman, skoonsuster van Willie (44) en Zelde (41) Snyman, wat Sondag in die grubotsing op die N3 naby Harrismith in die Vrystaat dood is.

Willie, Zelde en hul dogter, Lize (15), was saam met hul boesemvriende, Ian (52), sy vrou Christa (45) Greyling en hul seuns Jacques (16) en Jordan (15) Marais en Donovan Delport (22), van Uvongo waar hulle vakansie gehou het, na Pretoria op pad.

Die minibus waarin dié Pretoriase gesinne gery het, Willie se Prado en ’n vragmotor was in die ongeluk betrokke.

Almal behalwe Jordan het in die ongeluk omgekom.

Maroela Media het vroeër berig dat dié tiener tans om sy lewe in ʼn hospitaal in Bloemfontein veg. Hy was in die wrak vasgekeer en moes met behulp van meganiese toerusting uit die wrak bevry word.

Donovan was nie in die ongeluk betrokke nie nadat hy verlede week na Pretoria teruggevlieg het omdat hy Woensdag moes begin werk.

Die gesinne het die minibus geleen om net ná Kersfees saam op vakansie te gaan. Hulle het Sondag teruggery huis toe omdat Ian Maandag weer sou begin werk.

Ansunette vertel die minibus het twee keer onklaar geraak. Die persoon by wie die gesinne die minibus geleen het, het Sondag die bussie met die Prado van Pietermaritzburg na Pretoria teruggesleep.

Van regs: Donovan, Jacques, Christa, Ian en Jordan (Foto: Verskaf)

Die eienaar van die minibus is ook in die ongeluk dood.

Willie en Zelde het hul eie ingenieursonderneming in Pretoria gehad.

Lize was ’n leerder aan Hoërskool Tuine in Pretoria. Sy sou vanjaar na Hoërskool Overkruin in Sinoville geskuif het.

“Sy het uitgeblink in dans en akademie. Sy was onderhoofmeisie van haar laerskool. Sy was ’n sterkind,” vertel Ansunette.

Ds. Paullet Grobler, leraar van NG Kerk Pierneef in Pretoria, sê die Snymans was die afgelope 15 jaar aktiewe lede van die gemeente.

“Hulle dood is ’n groot skok vir ons. Hulle gaan ’n groot leemte laat. Hulle was aktief deel van ons geloofsfamilie,” vertel Grobler.

Willie was deel van die kerkraad en Zelde was een van die voorsitters van die kerk se vrouediens. Lize sou hierdie jaar by Grobler in die belydenisklas gewees het.

“Hulle was baie betrokke by die gemeente se aktiwiteite. Die basaars was altyd ’n hoogtepunt.”

Grobler beskryf die Snymans as opregte en vriendelik mense.

“Jy kry nie beter mense as hulle nie. Hulle het altyd soveel positiwiteit en liefde uitgestraal. Hulle het vir ander hoop gegee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Niklaas ·

Ek wonder wat het gebeur. Dis absoluut tragies en ons kan net simpatiseer met die naasbestaandes.

Charles ·

Die opskrif is verwarrend. Klink eerder na twee gesinne wat in die ongeluk was. Ons meegevoel aan al die familie.

Mariaan ·

Dit was 2 gesinne wat in die ongeluk was..almal oorlede behalwe die een seun

Mariaan ·

So so tragies! Berig effens onduidelik…die kombi was dus gesleep deur die prado..toe hul met n trok gebots het?

Celia ·

Die berig is verwarrend. Het altwee Gesinne in die ongeluk gesterf. Almal behalwe die een Seun? Het die Prado die bussie gesleep met almal in die bussie? Terwyl die bussie gesleep word?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.