Gesin treur ná seun in pa se arms sterf

Shaun Jamneck [Foto: Shaun Jamneck, Facebook]

ʼn Gesin van Bloemfontein se harte is stukkend nadat hul 23-jarige seun na afloop van ʼn motorongeluk in sy pa se arms in die hospitaal dood is.

Shaun Jamneck (23) was Maandagoggend in ʼn ongeluk in Generaal De Wet, ʼn woonbuurt Bloemfontein, toe ʼn ander motoris glo oor ʼn rooi verkeerslig gery het. Shaun was ʼn regstudent.

Volgens kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, het die ongeluk omstreeks 07:50 op die hoek van Currielaan en die Sannaspospad plaasgevind.

Covane sê volgens ooggetuies het ʼn motoris in ʼn silwer Chevrolet Aveo oor ʼn rooi verkeerslig gejaag en Jamneck se groen Renault Clio getref. Jamneck was op pad werk toe.

Hy is ná die ongeluk na die Life Rosepark-hospitaal gehaas waar hy aan sy beserings beswyk het.

“Die bestuurder van die ander motor is per ambulans na die Pelonomi-hospitaal se trauma-eenheid geneem.”

Volgens Covane is ʼn saak van strafbare manslag by die Parkweg-polisiestasie aanhangig gemaak.

Trane en seer

Shaun se pa, Hendrik Jamneck, skryf in ʼn boodskap op Facebook hoe Shaun in sy arms dood is.

“As ’n pa se trane opdroog en sy gemoed is gebreek en sy hart is in flarde; sy hart is stukkend. Dan begin die gemoed bloei, jou hart verbrokkel, want jou seun is in jou arms dood,” skryf Hendrik.

Hendrik sê hy worstel met die vraag oor of hy meer in Shaun se laaste oomblik kon doen.

“Hy is weg, hy is by Pappa God. Hy is veilig, maar voor jy jou weer kan kry, kniel jy langs sy hospitaalbed en huil en vra: Hoekom my kind? Hoe stap ’n pa weg met die wete jy gaan hom nooit weer sien nie.”

Shaun se ma, Nolene Venter Jamneck, sê sy het onverpoos gebid dat God haar geliefde seun moet red.

“Ek het jou bene vasgehou en gebid dat Liewe Jesus weer jou hartjie moet laat klop. Maar jy het te seer gekry. Gevoel ek kan jou nie los in die hospitaal nie,” skryf Nolene op haar Facebookblad.

Nolene skryf sy is steeds in ongeloof oor die ongeluk.

“Ek kan dit nie glo nie. Voel of jy enige oomblik om die draai gaan kom. Jy het geweet hoe lief ek jou het, en daarvoor is ek dankbaar. Ek weet jy is veilig in die hemel, maar ek kry bitter swaar.”

Vriende en familie het op Facebook hul hartseer oor Shaun se dood gedeel.

“Jy was so ongelooflik merkwaardige mens, so opreg. Jou tyd op aarde was hopeloos te kort. Daar was nog soveel goed wat jy saam met ons moes doen en ervaar… Ek belowe dat ons kinders sal weet hoe merkwaardige mens hul oom was en dat jy elke dag sal af kyk op hulle,” skryf Jolandi Jamneck, Shaun se skoonsuster.

“Shaun, jy los ʼn groot leemte in ons almal se harte. Jy was so ʼn goeie mens. Jy was altyd bereid om jou oor vir my te leen wanneer ek hom nodig gehad het. Jy het altyd reg gestaan met raad, al wou ek dit soms nie hoor nie,” skryf Marinette Marais

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Misky ·

Bitter hartseer en simpatie met die ouers en familie. Hoop daai ander drywer word aangekla en geregtigheid sal seëvier.

Shakespeare ·

Net nog ‘n dinamiese, kundige jong man uit ons gemeenskap gevat. Daar is duisende onbevoegde korrupte kaders wat weggevat kon word. HOEKOM ??? My innige simpatie met die familie.

TRP ·

Ek kan nie eens aan woorde van troos dink nie, dit is net eenvoudig te hartseer.

Fanie ·

Ons woon ook in Bloemfontein. Die wettenloosheid in Bloem is skrikwekkend, wat ek nog nie ierwers anders gesien het nie. Mense verontagsaam rooi verskeerligte orals in Bloemfontein en daar is geen verkeerspolisie in die stad nie. Padveilighed gaan baie meer as net om op snelwee te staan en vir spoed te stop.

Andre ·

Ek glo dit gaan maar orals so, en nie net in Bloemfontein nie. Mense moet onthou, alles begin by jouself, dit moet nie nodig wees vir verkeerspolisie om jou tereg te wys nie.

Moedeloos ·

Fanie glo my dit gaan oral so self hier by ons in die Wes Kaap. Jy ry nie meer sonder om 100% seker te maak daar kom nie n kar wat die robot skip nie. Dis baie erg en nee dit is nie net Taxi wat hul hieraan skuldig maak nie . Pad verbruikers het net nie meer die geduld en toewyding om veilig op die paaie te wees nie.

Vanessa ·

My hart is so seer vir julle. Geen woorde sal die pyn verlig nie. Ons bid vir julle, mag Jesus julle dra in die moeilike tyd.

Mariaan ·

My hart breek vir die ouers…so onnodig! So so jammer…baie sterkte vir julle

Stofbakkies ·

Dit is so tragies, dit gaan nie net in Bloemfontein so nie, Nelspruit is net so erg. Het vandag weer gesien hoe ‘n taxi vol skoolkinders wie hy pas by die skool opgelaai het oor ‘n rooi robot voor ‘n bakkie injaag, gelukkig het die bakkie betyds kon stop, taxi het nie eers stadiger gery nie, net aanhou jaag. My hart klop in my keel vir daai kindertjies wie aan sy genade oorgelaat word.

Irene ·

Strafbare manslag is nie aanvaarbaar nie. Hy het oor n rooilig gejaag en agv daarvan is n onskuldige jong man dood. Dis moord! My diepste meegevoel vir Shaun se familie en vriende.

Alleen Wolf ·

Oor rooi robotte jaag is die deesdae die norm eerder as die uitsondering.

Impartial ·

Geen ouer verdien hierdie tipe seer nie. My innige simpatie, mag julle rusting vind in die genade van Onse Vader.

OW ·

Hoe sal ons ooit weet.Sy weë is nie ons weë nie en ons weë is nie Sy weë nie.

Marina ·

Dit is bitter hartseer. Mense dink mos deesdae dit is mode om nie by ‘n rooi lig of stopteken te stop nie en dan moet onskuldige mense met hulle lewens boed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.