Gesin van vier dood aangetref

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn 46-jarige man, sy 30-jarige vrou en twee seuns, onderskeidelik twee en nege jaar oud, se liggame is Maandagaand in hul huis buite Potchefstroom in Noordwes aangetref.

Lt.kol. Amanda Funani, provinsiale polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê die voorval het by die gesin se huis in die Ikageng-nedersetting plaasgevind.

“Volgens inligting wat tans beskikbaar is, het die man en sy vrou na bewering rusie gemaak voor hulle gaan slaap het. Die man het later na die kinders se kamer gegaan om die twee seuns te kry, waarna hy sy 13-jarige stiefdogter opdrag gegee het om na haar ma in die nedersetting te gaan soek,” het Funani gesê.

Funani het gesê die stiefdogter beweer sy het die man se liggaam aan ʼn dakbalk sien hang toe sy teruggekeer het na die huis. Sy het die bure daarvan in kennis gestel en hulle het die polisie ontbied. Die polisie het op die vrou en die twee seuns se liggame in die huis afgekom. Die oorsaak van hul dood is nog nie bekend gemaak nie.

Die polisie ondersoek drie sake van moord en doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Lt.kol. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris, het dié voorval van beweerde geslagsgebaseerde geweld te midde van die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders, streng veroordeel.

Sy het haar meegevoel met die familie van die oorledenes betuig. Motswenyane het ʼn beroep op mense gedoen om gebruik te maak van die beskikbare maatskaplike dienste om huishoudelike probleme op te los.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.