Vyf mense, waaronder drie kinders, is dood nadat hul huis Woensdag in die vroeë oggendure in Vlakfontein, Johannesburg afgebrand het.
“Ons is omstreeks 03:00 na die toneel ontbied,” het Robert Mulaudzi, ʼn woordvoerder van die Johannesburg-nooddienste, gesê. “Vyf mense het onherkenbaar verkool.”
Volgens Mulaudzi is die oorsaak van die brand nog onbekend, maar daar word vermoed dat ʼn verwarmer die brand veroorsaak het.
Die slagoffers is vermoedelik ʼn 47-jarige vrou, ʼn 28-jarige man, twee negejarige kinders en ʼn 13-jarige tiener.
Volgens Mulaudzi sal die stad bystand aan die familie en bure verleen wat erg getraumatiseer is deur die voorval. “Ons versoek die gemeenskap om asseblief versigtig te wees wanneer hulle van verwarmers of kerse gebruik maak,” het Mulaudzi gesê. – SAPA