Die liggame van vyf lede van dieselfde gesin, onder wie twee kinders, is gister in ʼn plantasie naby Richmond in KwaZulu-Natal gevind. Die moorde hou dalk verband met ʼn familievete.
Die gesin het verlede week van hul plaas in Boston, net buite Pietermaritzburg, verdwyn. “Die polisie het Saterdag twee verdagtes ingeneem vir ondervraging. Die twee mans, onderskeidelik 25 en 27 jaar oud, is in Elandskop vasgetrek,” het brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, Dinsdag gesê.
“ʼn Gesamentlike operasie is gister uitgevoer en die polisie het op die gesin se uitgebrande voertuig in Byrne, Richmond, afgekom. ʼn Verdere ondersoek het die polisie na ʼn nabygeleë plantasie gelei waar die liggame van Sizwe Mauris Ngcobo (64), Thandazile Zondi (41), Bonokwakhe Khuboni (40), Sibongile Fanelesibonge (2) en die een maand oue Libra Ngcobo gevind is.” Die liggame was erg verbrand en reeds besig om te ontbind.
Naicker sê klagte van ontvoering en moord word ondersoek en nog inhegtenisnemings word verwag. “Die twee verdagtes is ook formeel aangekla en sal na verwagting Dinsdag in die landdroshof in Richmond verskyn.”
Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, sê in dié stadium lyk dit of die moorde verband hou met ʼn familievete.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
Die ware pandemie in ons land is misdaad.
Dit is absoluut onmenslik! Hoe vermoor/verbrand jy ander.
Verfoeilike gemors. Ongelukkig kan hulle net tot lewenslange tronkstraf gevonnis word.
Die moorde in SA ruk handuit. Dit is hart verskeurend.
Ek kan nie glo wat ek nou gelees het nie. Hoe vermoor jy vyf mense, een ‘n baba en dan probeer jy nog die liggame verbrand? Verseker sielsiek.