Gesin vlug met hond en twee tasse

Yana en Shaun van Wyk by hul dogter, Taylor. (Foto: Verskaf)

Shaun van Wyk (30) en sy jong gesin het verlede week met net twee tasse en hul hond uit die stad Ternopil in die weste van Oekraïne gevlug, nadat Rusland dié land Donderdag ingeval het. Die meeste van hul besittings het in hul huis agtergebly en daar is selfs nog ʼn bietjie skottelgoed in die wasbak.

Van Wyk se Oekraïense vrou, Yana (28), en hul dogter, Taylor (5), is tans in Pole, waar hulle by ander barmhartige Suid-Afrikaners tuisgaan. Die gesin het Donderdagoggend met hul motor vertrek en Vrydagaand in Pole aangekom. Hulle was uiters bang dat hulle by die grens weggewys sou word, maar glo dat hulle met die Here se genade die land kon binnegaan.

Van Wyk kom oorspronklik van Hartbeespoortdam in Noordwes, maar woon al die afgelope ses jaar in Oekraïne. Hy is in die IT-bedryf en bestuur ook saam met sy vrou ʼn masseringsalon.

“Die hele ervaring was vir ons verskriklik erg. Daar is al jare lank probleme in Oekraïne, maar almal het maar gedink dis dalk net leë bedreigings.

“Toe ek Donderdag met vegvliegtuie bo ons huis wakker skrik, het ek dadelik die nuus gaan lees en besef die moeilikheid is hier. So ʼn halfuur later het ʼn sirene deur ons dorp weerklink wat beteken het hier is oorlog.”

Van Wyk sê hy het sy familie aangesê om dadelik te pak sodat hulle kan vlug.

Shaun en Yana van Wyk by hul dogter, Taylor. (Foto: Verskaf)

“Dit was stresvol. Ek het gebewe van al die adrenalien in my lyf. Ek het met my familielede kontak gemaak, gesê ons gaan vlug en gevra dat hulle vir ons bid. Daarna het ek ʼn bonatuurlike kalmte ervaar.”

Hy sê hy het sy dogtertjie probeer opgewonde maak oor hul reisuitstappie sodat sy nie bang hoef te wees nie.

Van Wyk sê hy dink egter hy ly nou nog aan skok.

“Selfs as ek net die geluid van ʼn trein hoor, dan dink ek weer aan daai sirene en skiet daar ʼn koue rilling deur my lyf.”

Hy sê baie Suid-Afrikaners in die buiteland het hulle bygestaan.

“Die Suid-Afrikaners hier maak hul deure vir ons oop en gee vir ons slaapplek. Dis regtig fantasties. Die goed wat ons agtergelaat het, het bloot materiële waarde. Ons probeer nou net kalm bly. Ons beskou dit as ʼn uitdaging en weet dat ons baie ondersteuning het. Ons weet dit gaan orraait wees,” het hy Maandag bewoë aan Maroela Media gesê.

“Hulle kort nou hulp”

Gilbert Martin van die People of South Africa-stigting, ʼn niewinsgewende organisasie, staan verskeie Suid-Afrikaners in Oekraïne en Rusland by en help hulle om uit dié lande te vlug.

Hy sê sowat 200 mense, onder wie Suid-Afrikaanse studente, is reeds suksesvol na buurlande wes van Oekraïne verplaas.

Die stigting werk nou saam met verskeie ambassadeurs in Oekraïne en Rusland, asook buurlande en oud-Suid-Afrikaners in ander lande, om Suid-Afrikaners se veiligheid te verseker.

’n Brand word geblus in Koshytsastraat in Oekraïne se hoofstad, Kiev. (Foto: AFP)

“Ons is baie bekommerd oor die mense daar. Dis verskriklik erg.”

Martin sê daar is ook baie Suid-Afrikaanse studente wat binnekort eksamens in Oekraïne en Rusland sou aflê en nou nie hul internasionale grade kan voltooi nie.

Dié studente, wat in baie gevalle met beurse studeer, weet nie wat nou van hul voornemende loopbane word nie en het ook nie geld om na Suid-Afrika terug te keer nie. Dit geld ook vir baie ander Suid-Afrikaners wat nou moes vlug.

Martin sê die stigting het onder meer ten doel om geld in te samel om Suid-Afrikaners na die land terug te bring en hulle te hervestig wanneer hulle in die land aankom.

“Ons hoop dat niemand ooit in daai mense se skoene sal wees nie. Hulle het ons hulp nou verskriklik nodig. Ons doen ʼn beroep op mense en ondernemings om betrokke te raak en hulp te bied.”

Mense wat betrokke wil raak, kan hul Facebook-blad besoek of vir Martin ʼn e-pos stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Plaaskind ·

Die gras is tog nie altyd groener aan die ander kant van die draad nie. Almal wat SA verlaat, ander lande het ook maar hulle probleme. Ek sê maar net. Ek voel tog baie jammer vir die gesin, veral die ou dogtertjie.

Pieter ·

Wat gemaak as jy nie werk kry in SA nie en jy moet oorleef. Gaan jy sit en doodgaan van honger of gaan jy n werk aanvaar buite die lands grense van SA. So ja ons verlang na ons familie en vriende maar ons moet ook lewe.

Plaaskind ·

Ek praat van mense wat reeds goeie werk in SA het en dan agter geld aan hardloop. Dit is my opinie. Punt.

Christian ·

As ‘n mens ‘n oorlog moet gebruik om te sê die “gras is nie altyd groener nie” moet jy weet hoe erg Suid-Afrika is. Die misdaadstatistieke vir die laaste kwartaal van 2021 in Suid-Afrika was so 1-2 weke terug in die nuus. In 3 maande is 6 900 moorde gepleeg en 15 000 poging tot moord, dit kom neer op elke 9,9 minute vir 3 maande in ‘n ry word iemand vermoor of daar is ‘n poging om iemand om die lewe te bring. Sedert 2014 toe Rusland met militere ingryping in Ukraine begin het is 14 000 mense dood en in die dieselfde tyd perk is 158 000 mense in Suid-Afrika vermoor. Maar jy is reg dit is nie “altyd” groener aan die ander kant nie.

anniekiewiet ·

As ek my kinders uit my pensioen help en weet ek gaan nie meer lank op aarde wees nie, dan huil ek myself aan die slaap. My seuns werk as sekuriteitswagte… Dis omtrent al waar onse mense nog geholpe raak. En so bly hulle ‘n paar saam in ‘n huis om finansieel kop bo water te hou. As jy of jou kinders nie so sukkel nie, bly stil oor hulle wat in die buiteland gaan werk soek.

Cherokee ·

Julle wat Plaaskind aanval oor sinvolle kommentaar, moet kophou en nie agter mekaar aan praat nie.

Piet Snot ·

Nee Cherokee, ek’s ‘n ekspert op die gebied. Ek leef dit die afgelope 10 jaar reeds, en nog elke dag.
Om toe te laat dat iemand soos daardie sulke beledigende twak kwytraak, is juis om nie kop te hou nie.

Johannes_64 ·

Gras is altyd groener aan die anderkant van die draad, is omdat daar meer mis is.

Piet Snot ·

Plaaskind, jy het geen benul waarvan jy praat nie. Punt.
Ek moes my kinders in die buiteland grootmaak – nie omdat ek wou nie, maar omdat ek moes.
Jy is onnodig beledigend.
“Ek sê maar net”.

Plaaskind ·

@Piet Snot, ek het NIEMAND beledig nie, ek het bloot genoem dat ander lande ook probleme van hul eie het.

Kokerboom ·

Bly hul is veilig. Weereens grootskaalse vernietiging en onnodige menseverlies deur ‘n magsbehepte despoot

Stofdonkie ·

Is die probleem in Oekraiene nie in die Ooste van die land nie? Is dit onnodige histerie aangevuur deur media wat Putin net probeer in slegte lig stel?

Vexed ·

Gids ja wat, net so ou oorloggie so aan die sy kant van die land. Niks om oor bekommerd te wees nie, wat is ‘n ou oorlog alarmpie tog nou. Praat van oordryf, mense eet iets en ontspan. Klink dit reg Stofdonkie?

anniekiewiet ·

Ek verstaan nie jou vraag nie. Is daardie beeldmateriaal nie werklik nie?

piet ·

Stofdonkie – Die Russe val die land aan vanuit die Ooste, suide en noorde. Dit lyk vir my na ‘n volskaalse aanslag.

Dries ·

Bly liewer in Poland. Hier gaan dit net so sleg. Ramaphosa het reeds sy steun vir Rusland uitgespreek

Irene ·

Om te sê dat Suid-Afrikaners gegeepad het is baie ongevoelig en onsimpatiek. Niemand verdien dit wat nou in Okraïne aangaan nie. As ek kon sou ek elke liewe Suid-Afrikaner daar gaan haal het. Almal dink en voel en tree nie dieselfde op nie. Om vir jouself of vir jou en jou gesin n beter toekoms te wil hê al is dit in n ander land noem ek braaf en n man met visie en goeie bedoelings. Dis nie n geheim dat Suid-Afrikaners baie meer geld in die buiteland verdien nie en dit vir presies dieselfde beroep. As ek jonger was sou ek ook geimigreer het. Wat nou gebeur in Okraïne het niemand voorsien nie.

jeff ·

Sjoe, soos in die country en western lied, hulle het die ‘suds in the bucket and the dishes in the sink’ gelos.

Jaco ·

Rusland beskerm basies 2 etniese Russiese “volkstate” in die Ukraine. Die ANC sê niks. Die ANC is ook ten gunste van ‘n eie staat vir die Palestyne. Die ANC is ook dik pêlle met China, wat ‘n gtoot mate van selfregering en outonomie aan Hong Kong en Macao gee. NET ‘n volkstaat vir Afrikaners/wit mense in SA is blykbaar verkeerd. Hoe dan nou? Dis mos dubbele standaarde.

madels ·

Dit moet verskriklik wees om jouself in n oorlog situasie te bevind. My hart gaan uit na julle. Daar is al soveel getuienisse van wonderwerke daar dat hierdie is net nog n goeie getuienis dat die Here Sy liefdevolle hand oor julle hou.

Roedolf Johannes ·

ARME MAN Hardloop weg uit ons mooi land,nou moet S A hom help want nou het hy probleme.Voel niks vir hom nie,hy moet bly waar hy is en die land vra hulle moet hom help.Ons land is nie goed genoeg vir almal wat so weg hardloop nie,maar as daar probleme is verwag almal hulp S A

Pieter ·

As ek die berig lees vra hy nie eenkeer vir iemand se hulp nie. Mense bied uit hulle eie uit hulp aan. En in elk geval is hulle vriende van ons en het hy nie uit die land uitweg gehardloop nie. Hy en sy vrou het met mekaar op n pasasiers bot ontmoet en hy is saam met haar na haar land toe. So ja kry eers jou feite reg voor jy kloppe gooi.

Swerwer ·

Wel, dit is net ons Hemelse Vader wat ons uit so ‘n situasie kan red want dit gaan nie veel beter in ons eie land nie.

Karina ·

Die regering het honderde studente uit China verwyder dmv ‘n SALugdiens vliegtuig. Waarom kan hulle nie ‘n vliegtuig stuur om hierdie vlugtende Suid Afrikaners terug te bring nie? Wonder maar net

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.