Gesin vra moordondersoek ná klipgooi-voorval pa eis

Phildon Chetty (39) is dood toe ʼn klip op 27 Augustus deur sy motorruit in Durban geslinger is. (Foto: Verskaf)

Die gesin van ʼn Johannesburgse man wat dood is toe ʼn klip op 27 Augustus deur sy motorruit in Durban geslinger is, dring daarop aan dat die polisie ʼn saak van moord ondersoek.

Phildon Chetty (39), ʼn pa van drie kinders, het omstreeks 02:00 op die Higginson-hoofweg in Chatsworth gery toe iemand ʼn groot klip van ʼn voetgangerbrug gegooi en dit deur die windskerm van sy Toyota Corolla gebars het.

Chetty se broer, Vildon, sê die klip het sy broer teen die kop getref en sy nek gebreek. Chetty se motor het gevolglik teen ’n versperring op die hoofweg gebots. Hy is ook beroof ná die voertuig tot stilstand gekom het.

Kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ʼn saak van strafbare manslag ondersoek word. Gwala het nie Maroela Media se navraag oor waarom ʼn moordsaak nie ondersoek word nie, beantwoord nie.

Phildon Chetty (39) is dood toe ʼn klip op 27 Augustus deur sy motorruit in Durban geslinger is. (Foto: Verskaf)

Vildon sê die gesin is meegedeel dat daar glo nie ʼn moordkategorie vir die “gooi van klippe” is nie.

Hy sê boonop het die polisie die saak aanvanklik as ʼn ongeluk hanteer en eers later, ná volgehoue druk deur die gesin en gemeenskap, die ondersoek na strafbare manslag verander.

Dit blyk egter dat daar min vordering met dié ondersoek is.

Karou Charou, ʼn Suid-Afrikaanse komediant en woordvoerder van die National Indian Congress of South Africa, het die voorval op sy sosialemediaplatforms gedeel, waar hy ook ʼn beroep op die polisie gedoen het om die saak deeglik te ondersoek.

“Dit moet beslis as ʼn moord hanteer word, want dis wat dit was.”

Vildon sê sy broer se dood het sy gesin en die familie geruk.

“Dit kan nie net ongesiens verbygaan nie. Hoe kan daar so min respek vir ʼn lewe wees? Die persoon of persone wat die klip gegooi het, het tot sy baadjie en skoene van sy liggaam af gesteel.”

Hy beskryf sy broer as ʼn toegewyde pa en eggenoot, en die gom wat die hele familie bymekaar gehou het.

Phildon Chetty (39) is dood toe ʼn klip op 27 Augustus deur sy motorruit in Durban geslinger is. (Foto: Verskaf)

“Hy was ʼn man met karakter en integriteit. Ons het ʼn besondere band gehad. Ons as familie sukkel geweldig om sy dood te verwerk.”

Intussen skakel Vildon met plaaslike veiligheidstrukture en die gemeenskap, met die hoop om veiligheid in die gebied op te skerp sodat só iets nie met ʼn volgende persoon gebeur nie.

“Ek wil nooit hê ʼn ander familie moet die pyn wat ons nou verduur, ervaar nie.

“Daar moet maniere wees om die brug te beveilig en te verhoed dat klippe vandaar gegooi word.”

Supt. Parbhoo Sewpersad, woordvoerder van die Durbanse metropolisie, het aan Maroela Media bevestig dat dié gebied ’n sogenaamde misdaadbrandpunt is.

Hy sê dit is ook duidelik dat die persone wat die klip in dié geval gegooi het, ’n misdaad wou pleeg aangesien Chetty daarna ook beroof is.

“Dit het voorheen ook al gebeur. Daar word klippe van die brug afgegooi en dan word mense beroof.

“Ek doen ’n beroep op die gemeenskap, plaaslike veiligheidstrukture en sekuriteitsfirmas om hande met die metropolisie te vat sodat ons veiligheid kan bevorder en saam kan werk. Dis nie ’n stryd wat ’n mens alleen kan voer nie,” sê Sewpersad.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Persheks Adri ·

Moord is moord ongeag wat gebruik word om iemand dood te maak

Oros Soros ·

Wat ‘n snert redenasie van die polisie. Hierdie is duidelik moord en roof. Strafbare manslag is die nalatige veroorsaking van die dood van ‘n medemens. Die klipgooi was ‘n opsetlike aksie en die dader kon voorsien dat dood agv. n botsing sal intree. Skokkend en manipulering van misdaadstatistiek. Polisie pleeg hier self die misdaad van bedrog deur die wanvoorstelling. Die lede verantwoordelik moet daarvoor vervolg word.

Herms ·

So as jy iemand opsetlik dood gooi met ‘n klip is dit nie moord nie…..

Aries ·

PATETIES- Ja Miavos ek stem honderd persent saam met jou kommentaar- dit wil voorkom asof die polisie wat hier betrokke is nie eers die verskil tussen OPSET of NALATIGHEID ken nie

H.A. ·

dit is moord…DIT IS MOORD…Die polisie wil nie met die dade werk nie.

Willem ·

Sal skuldige nie kry met hierdie lamsakkige cele clowns nie.Saps is useless in die ergste graad!!!!!

Onnie ·

Dit is uiters skokkend dat daar oop en bloot, by verskeie brûe reg oor die land, klippe gegooi word om onskuldige motoriste te beroof, en die SAPS doen niks om dit te verhoed of aan te spreek nie. Verskeie mense is al dood so. Om ‘n lyk te beroof van sy klere en skoene, is di laagste van laag!! Sies, watse soort mens doen dit? Vir wat betaal ons belasting aan ‘n regering wat ons nie kan beskerm nie??

Hoekom ·

So ek kan maar mense dood gooi me klippe!? Lekker Suid Afrika!

Kiewiet ·

Nee regtig hierdie is v n mens baie ontstellend hierdie arme jong man..waar is die geregtigheid v hom????
Dit is MOORD!!

Cherokee ·

Wanneer julle ‘n oorweg of voetgangerbrug nader en daar is mense op die brug, beplan om die enigste voertuig te wees wat onderdeur ry, en verander van baan die oomblik wanneer onder die brug ingery word.

Linx ·

Ekt gedog x die enigste een wat hierie formula volg,maar ja daar is nie ander manier nie

Cherokee ·

Waarom dan Linx, het jy nog nie die advies gelewer nie? Ons is veronderstel om waarde te heg aan die kommentaarstelsel, en raad soos hierdie, kan lewens red,

ROELOF ·

Dit is skokkend en duidelik wou die skuldiges hom dood om sodoende te beroof. Maar weereens….hoekom 2:00 uur die oggend op pad met inperking en te wete dat die kriminele besig is met hul aktiewiteite.?

Linx ·

Ek myself ry soms tussen 12h&2h huistoe agv werk dalk was hy ñ essential worker

Retha ·

Ken jy die omstandighede? Moontlik het hy permit gehad. Wat soek kwaaddoeners daardie tyd op die brug?

Jr ·

Africanasity at it’s very best. Daar is is nie ‘n moordkategorie vir “klip gooi'” WDF. MOORD IS MOORD. Just when you think you’ve heard the most stupid utterance then another fool comes out with something more idiotic and unbelievable

AndrewL ·

Dit is duidelik dat die stasiebevelvoerder die statistiek manipuleer. Moord is die enigste opsie – of die klip nou direk sy dood veroorsaak het of dit tot gevolg gehad het. As die artikel reg geskryf is, moet roof ook nog bygevoeg word.

annie ·

Daardie grootte klip sou sekerlik iemand wat dit tref dood en is nie sommer net ‘n skrikmakertjie nie. Boos verby.

Anel ·

Moord: wedregtelike en opsetlike dood van ‘n persoon. Daar word nêrens gespesifeer dat om iemand dood te maak en skuldig te wees moet jy slegs sekere artikels gebruik nie. Jy het die persoon se dood veroorsaak. So ek kan nou enige iemand doodmaak deur hom met ‘n mes te steek, of doodry of skiet, want die wet bepaal dit nie spesifiek nie! Wat leer die spul in die kollege?

Yvonne ·

Verstommend dat polisie nie meer die wil
het om hulle werk te doen nie……aan die anderkant het misdaad so toegeneem ….hulle weet ook nie meeer waar om te keer nie

Louise ·

Dis so jammer dat n lewe so min beteken in SA… Maar die Metropolisie sal eerder “worry”oor die KOOLKOPPE langs die pad! Sterkte vir julle deur hierdie moeilike tyd. Wat gebeur het is net onmenslik!

Swerwer ·

Natuurlik moet die saak ondersoek word en die skuldiges aan die pen ry, dit is moord!

Dries ·

Weereens is die polisie bewus dat hierdie brug n misdaad brandpunt is, maar niks daaraan doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.