Gesin wag angstig vir nuus oor baba Lee

Lee Jansen van Vuuren (Foto: Pray for Baby Lee/Facebook)

Klein Lee Jansen van Vuuren van Vereeniging, wat op 2 Januarie gebore is en reeds talle terugslae in sy kort lewe beleef het, se gesin wag Saterdag angstig vir die uitslag van bloedtoetse.

Judith Jansen van Vuuren, Lee se ouma, het Saterdagmiddag aan Maroela Media gesê Lee se ouers, Nikita en Shaun, het kort voor Nuwejaar gehoor hul baba se hart klop te vinnig. Die dokter het Nikita aangeraai om hom op 2 Januarie weer te sien. Lee is daardie selfde middag nog met ʼn keisersnee in die Vereeniging/Kopanong-hospitaal gebore.

Hy het voor sy geboorte ʼn stoelgang in die baarmoeder gehad en daarvan ingekry. Vrugwater het ook in sy longe beland. Alhoewel hy direk ná sy geboorte suurstof ontvang het, het hy kort daarna epileptiese aanvalle begin kry.

Lee is op 3 Januarie na die Sebokeng-hospitaal oorgeplaas waar hulle meer gevorderde toerusting het om na hom om te sien.

Lee Jansen van Vuuren (Foto: Pray for Baby Lee/Facebook)

“Hy was 10 dae lank in die intensiewesorgeenheid, gekoppel aan 7 drups en ʼn hart- en suurstofmasjien. Hulle het ook deurgaans sy bloeddruk en breinaktiwiteit dopgehou,” het Judith verduidelik. “Dit is vandag sy 14de dag in die hoësorgeenheid nadat dokters ʼn virus ontdek het wat sy hele liggaam besmet het. Hulle het gister bloedtoetse gedoen om te bepaal of die virus opgeklaar het.”

Lee het in ʼn stadium ook sepsis in sy linkerarm ontwikkel nadat van die medikasie uit ʼn drup in sy weefsel beland het.

Judith sê hulle hoop om vanmiddag net ná besoektyd van die dokter te hoor wat die uitslag van die bloedtoetse is en of Lee sonder die suurstofmasjien kan klaarkom. “As die virus opgeklaar is en hy self kan asemhaal, dan kan hy dalk Maandag reeds huis toe kom,” het sy hoopvol bygevoeg.

Talle persone volg baba Lee se vordering op ʼn toegewyde Facebook-blad, Pray for Baby Lee. Die gesin het vroeër skenkings versoek om Lee moontlik na ʼn privaat hospitaal te kon oorplaas. Die uitslag van die bloedtoetse sal die pad vorentoe bepaal.

*Jongste: Die gesin het Saterdagmiddag om 16:00 nog nie die uitslae ontvang nie. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elsabie ·

Sterkte Baba Lee, ek dra jou op in gebed. Mamma en pappa, hou net aan met bid. Daar is krag in gebed! God is Groot!

Eunice Smit ·

Ek sal aanhou bid vir hom en glo dit sal beter gaan. Hoop jul kan hom na privaat hospitaal neem. Sterkte aan die familie.

Sê net ·

Vandag se tegnologie kan wonders verrig.

Sepsis in sy linkerarm, ai tog, sterkte vir julle.
Ek bid dat alles van hier af goed sal afloop vir julle.

EP ·

Dis a.g.v die swak gehalte van verpleging dat hy sepsis in sy armpie gekry het. Onaanvaarbaar!!

delani ·

Ek bid in Jesus Naam. Baba Lee sal Maandag huistoe Kan Gaan. Hy sal genres wees deur ons Groot God die Vader. In Jesus Naam. Amen

Mags ·

Boeta ons bid vir jou seun
Jesus vou jou toe met Sy liefie, genade en genising

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.