Gesin wag vir ‘volgende klop aan deur’

Jayden Pieterse en sy hond, Pepper. Pepper is ‘n outisme-ondersteuningshond. (Foto: Verskaf)

ʼn Gesin van Kimberley wat sewe dae gegee is om uit ʼn maatskappyhuis te trek, is vreesbevange dat hulle binnekort uitgeskop gaan word.

Maroela Media het vroeër berig Rozel Pieterse se man, Jaco, het verlede maand die trekpas by sy werkgewer gekry en het hom onlangs by ʼn nuwe onderneming aangesluit. Die gesin het daarna ʼn brief van Jaco se vorige werkgewer ontvang waarin hulle aangesê is om die woonplek te ontruim.

Die sewedae-spertyd het Dinsdag verstryk, maar die gesin het ten minste nog ʼn dak oor hul koppe.

Die Pieterses se jongste seun, Jayden, is ʼn outismelyer wat oral deur sy geliefde hond, Pepper, vergesel word. Dit is volgens Rozel egter ʼn opdraande stryd om op kort kennisgewing ʼn bekostigbare nuwe blyplek – waar Pepper ook welkom sal wees – in Kimberley te kry.

Rozel sê sy het haar intussen tot die behuisingstribunaal gewend in ʼn poging om Jaco se vorige werkgewer te oorreed om vir hulle ʼn ekstra grasietydperk te gee om ʼn nuwe huis te vind. Hulle beoog om by ʼn huis in te trek wat aan ʼn familielid behoort, maar die huidige huurders moes ook ʼn billike kennistydperk gegee word.

“Ons sal dalk môre hoor of daar ʼn kans is dat die mense vroeër kan uittrek, maar hulle is ook geregtig op ʼn kennistydperk.

“Ons sit hier en stres ons dood, maar verder kan ons nie veel doen nie.

“Ek is op. Ons wag nou maar om te kyk wie volgende aan die deur gaan klop.”

Die egpaar het drie seuns wat steeds by hulle woon. Rozel sê ten minste is die 12-jarige Jayden, ʼn nieverbale outismelyer, nie bewus van die druk wat in hierdie stadium op sy gesin is nie.

“Solank hy sy tablet en sy nuggets en sy hond het, is hy gelukkig. Ek is bly hy verstaan nie wat aangaan nie,” sê Rozel.

Jayden was die eerste kind in die Noord-Kaap wat ʼn outisme-ondersteuningshond ontvang het en het nou danksy Pepper al so gevorder dat hy selfs begin woorde sê. Daar is dus geen sprake dat die gesin dit enigsins sal oorweeg om na ʼn perseel te trek waar Pepper nie ook ʼn tuiste sal hê nie.

Rozel pak intussen dié besittings wat sy kan in die hoop dat hulle so vinnig moontlik kan uittrek.

“Dit is regtig onsmaaklik. Ons weet nie of iemand dalk met ʼn hofbevel by die deur gaan opdaag nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Perdeby ·

Ek het simpatie met julle, maar julle het geweet jou man gaan bedank en ‘n nuwe werk begin en julle het geweet julle kan nie vir altyd in ‘n ander werkgewer se huis woon nie. Hy het die volste reg om julle tenminste 30 dae kennis te gee.

Termiet ·

Gaan lees weer, die man is afgedank. Hy het nie bedank nie.

boerie ·

Lees weer en vra dan om verskoning. Hy is af betaal en het nie bedank nie.

Tiptol ·

Of hy afgedank is self bedank het, hy werk nie meer daar nie en moet die huis ontruim. Dis nie hul eiendom nie.

Rissie ·

Ja Tiptol, maar nie binne 7 dae nie! Ek glo nie hy het die afdanking gesien kom nie.. en niemand kan ander blyplek kry in net SEWE DAE nie. Dis belaglik dat die vorige werkgewer dit enigsins van hulle verwag het.

Hulle weier nie om te trek nie, vra net vir ‘n bietjie meer tyd om ‘n ander plek te kry.

koos ·

Hartseer storie, en albei partye het ‘n punt beet. Wat staan mens te doen? Ai tog, hoop daar is uitkoms vir die gesin.

Estelle ·

Toetie, die berig lees die man het die trekpas gekry – daar is n groot verskil tussen “trekpas kry” en bedank

pestilensie ·

Sal nie weet hoe kom hy die trekpas gekry het nie , maar dis n maand en sewe dae later , miskien het die nuwe intrekker n verlamde kind of iets dergliks. Die media moet ophou sensasie soek

Hennie ·

Daai kind verstaan dalk nie, maar hy voel tog aan iets is nie pluis nie. Hulle is intelkegente mensies, wat sukkel om met die wêreld om hulle te skakel. Mevrou, hier gaan groot uitkoms vir julle wees! Staan vas, Vader is besig om in harte te werk!

Karina ·

Is dit nie so dat tydens “lockdown” jy nie iemand uit die huis/woonstel mag skop nie? Vra maar net of dit nog op vlak drie geldig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.