Gesinsgeweld: Wes-Kaapse polisie skiet tekort

Foto: Pixabay/Pexels

ʼn Opname deur die Wes-Kaapse regering het gewys dat die meerderheid polisiestasies wat gereeld gevalle van gesinsgeweld hanteer, nie aan die bepalings van die Wet op Gesinsgeweld voldoen nie. Dié stasies is skynbaar nie behoorlik toegerus of bekwaam om gevalle van gesinsgeweld te ondersoek nie

Die departement van gemeenskapsveiligheid het tussen Julie en Desember 2017 ’n opname van 150 polisiestasies reg oor die Wes-Kaap gedoen. Die meeste gevalle van gesinsgeweld wat hier aangemeld was, was fisieke mishandeling (46%) en emosionele, verbale en sielkundige mishandeling (29%).

’n Totaal van 34 209 voorvalle van gesinsgeweld is tussen 2018 en 2019 in die provinsie aangemeld. Die meerderheid hiervan is in Mitchells Plain (3 155 gevalle), Delft (2 071), Harare (1 719), Knysna (1 620) en Nyanga (1 425) aangemeld.

Die opname wys daar is onder meer ’n gebrek aan vrywilligers vir slagofferondersteuningskamers by polisiestasies. Dié kamers verskaf psigososiale ondersteuning aan slagoffers wanneer hulle trauma ervaar het. Volgens die opname het Khayelitsha en Atlantis se polisiestasies slegs een opgeleide vrywilliger wat tot 1 272 gevalle van gesinsgeweld moet hanteer. Delft en Lingelethu-Wes het slegs vier opgeleide vrywilligers ten spyte daarvan dat die tweede en derde hoogste aantal gevalle hier aangemeld word. Die Beaufort-Wes-polisiestasie het geen vrywilligers nie.

Die polisiestasies in Belhar en Steenberg het onvolledige rekords van inligting oor slagoffers in die gesinsgeweldregister. “Dit is dan onmoontlik om met slagoffers op te volg,” meen Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die provinsie. Van die voorvalle van gesinsgeweld is nie opgeteken nie of ’n kriminele saak is nooit oopgemaak nie.

’n Ander kommerwekkende statistiek is dat 67% van lede van sigbare polisiëring (VISPOL) en 74% speurders nie die vyf-dag basiese gesinsgeweld-opleidingskursus bygewoon het nie. Tussen 2018 en 2019 is slegs 12 gesinsgeweld-opleidingskursusse in die provinsie aangebied.

Die opname het ook gekyk na die uitreik van beskermingsbevele teen gesinsgeweld in 2018. In die verband het die departement bevind dat Delft, Khayelitsha, Beaufort-Wes, Manenberg en Paarl-Oos voorsiening gemaak het vir die uitreiking van al hul beskermingsbevele. Atlantis het slegs 38% van hul bevele uitgereik.

Nyanga en Grassy Park het nie behoortlik rekord oor die bediening van beskermingsbevele gehou nie. “Dit beteken dat oortreders van gesinsgeweld vry rondloop en die lewens en welstand van hul slagoffers bedreig,” meen Fritz.

Die opname het verder bevind dat 86 van die 159 gevalle van geslagsgeweld wat tussen April 2018 en September 2019 in dié provinsie aangemeld is, onvolledige ondersoek was. In 54 gevalle het dossiere nie by die hof opgedaag nie, in 15 gevalle was forensiese verslae uitstaande, met twee gevalle is die beskuldigdes nie binne 48 uur in hegtenis geneem nie en in nog twee gevalle was die getuies nie teenwoordig in die hof nie. “Hierdie faktore het bygedra daartoe dat sake sloer en indruis teen die bepalings van die wet. Só word die grondwetlike regte van die slagoffer ook in die proses geskend,” sê Frits.

Die departement het onderneem om alles in hul vermoë te doen om vroue teen geslag- en gesinsgeweld te beskerm deur aandag aan dié bevindinge te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marous ·

Publiseer asseblief hoe lank Polisie beamptes in kolleges opgelei word . Dit sal alles verklaar .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.